Koppe gaan rol oor onwettige Kubaanse medisyne

  • 0

Hoë koppe in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gaan waarskynlik rol nadat ’n ministeriële taakspan bevind het meer as ’n miljoen dosisse Kubaanse medisyne is die land onwettig binnegesmokkel met die medewete van minstens drie generaals in die militêre bevelsraad.

Die minister van verdediging en militêre veterane, Thandi Modise, het Woensdag aan die parlementêre komitee oor verdediging gesê sy het opdrag gegee dat daar teen die skuldiges opgetree moet word.

Van die belangrikste aanbevelings uit die taakspan se verslag is dat die militêre bevelsraad na bewering opdrag gegee het om die medisyne van Kuba in te voer, skynbaar wetende dat dit onwettig was omdat die nodige regulasies nie nagekom is nie. Meer as een miljoen dosisse daarvan is bestel, waarvan die eerste drie bestellings die land klaarblyklik op bedrieglike wyse ingebring is. Dit kom na bewering neer op die smokkel van onwettige medisyne.

Die onwettige en omstrede Kubaans-vervaardigde COVID-19-middel Heberon® Alfa R 2b (ook bekend as interferon alpha-2b (IFN alpha-2b)) was glo bedoel om as beskerming teen infeksie vir soldate in die SANW te dien. Dit is egter stilweg na Kuba teruggestuur toe die skandaal aan die lig gekom het.

Die middel was nie deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) goedgekeur toe die SANW dit sonder die vereiste magtiging via die Waterkloof-lugmagbasis ingevoer het nie.

Die saak het aan die lig gekom ná ’n uitgelekte brief deur die destydse hoofdirekteur van militêre gesondheidsondersteuning, generaal-majoor Lesley Ford.

In dié brief het Ford beswaar gemaak teen betaling vir die medisyne, aangesien dit onwettig ingevoer is en nie in ooreenstemming met die tesourie se regulasies goedgekeur is nie.

Modise sê die onus rus nou op die Departement van Verdediging en die SANW om dissiplinêre stappe te doen teen alle individue wat by die invoer daarvan betrokke was. Indien enige oortreding ontdek word, moet kriminele klagte gelê word, sê sy.

Die Minister se besluit om die ministeriële taakspan se verslag oor die skandaal vry te stel, volg nadat die DA vroeër ’n PAIA-aansoek ingedien het om die inligting te bekom wat in die verslag vervat is. Sy het egter besluit om dit eerder in die parlement ter tafel te lê.

Die DA se skaduminister van verdediging, Kobus Marais, sê dit is steeds ’n DA-oorwinning vir aanspreeklikheid, want as hulle nie druk op die Minister uitgeoefen het nie, sou die verslag nie vrygestel gewees het nie.

Marais sê in ’n verklaring ’n belangrike uitkoms is dat die militêre bevelsraad, onder wie se lede generaals Shoke Dabula en Mzikayise Tyhalisi tel, skynbaar steeds die ongeregistreerde Kubaanse middels bekom het ondanks duidelike rooi ligte dat aankope- en invoerregulasies verontagsaam is. Hulle het dus na bewering versuim om te voldoen aan die bepalings van Sahpra en het skynbaar ook die nodige verkrygingsriglyne nie nagekom nie.

Hy sê dit beteken dat die eerste drie aflewerings van hierdie Kubaanse middel onder valse voorwendsels gekoop is.

“Die geïmpliseerde partye het met hierdie ooreenkoms voortgegaan, ten volle bewus van die akute finansiële beperkings van die Departement van Verdediging en die SANW. Gelukkig het die hoof- finansiële beampte die dapper stap gedoen om die betalings van die tweede en derde aflewerings te weier.”

Marais sê dit is opmerklik dat die ouditeur-generaal reeds al vier bestellings as onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes geklassifiseer het. Dit beteken dat alle kontrakte onder Operasie Thusano skynbaar onreëlmatig en verkwistend was.

Modise het reeds verlede jaar, toe die ongerymdhede aan die lig gekom het, parlementslede verseker dat koppe sal rol sodra die finale bevindings van die ministeriële taakspan bekend is.

Die taakspan het bestaan ​​uit Zolile Ngcakani (voorsitter), Billy Masetlha en Cassius Lubisi.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top