Korona skrik beleggers af

  • 0

President Cyril Ramaphosa het toegegee dat dit bloedsweet sal kos om die land se ekonomie in die nadraai van COVID-19 weer behoorlik aan die gang te kry deur middel van groter buitelandse beleggers.

Ramaphosa het Maandag, op die vooraand van die derde internasionale beleggerskonferensie in Johannesburg, gesê slegs sowat 175 afgevaardigdes sal vanjaar se konferensie persoonlik bywoon. Vorige jare het meer as 1 500 afgevaardigdes die konferensies bygewoon. Behalwe die 175 afgevaardigdes wat persoonlik teenwoordig sal wees, gaan sowat 1 000 addisionele afgevaardigdes uit verskillende dele van die wêreld die konferensie via die internet virtueel bywoon.

Die President het in sy weeklikse nuusbrief aan die land gesê die koronapandemie het die afgelope tien maande baie belowende beleggers wat tydens vorige konferensies aangedui het hulle wil hier belê, genoodsaak om af te skaal of hulle planne op ys te plaas. Hy sê hierdie beleggings beloop gelukkig net ’n tiende van die totale beleggingspotensiaal van R664 miljard wat beloof is. Die meeste beleggings gaan voort. Sommige daarvan is reeds in ’n vroeë stadium van inwerkingstelling.

Die vakbond Solidariteit het verlede week in ’n verklaring aangevoer dat daar geen hoop is om die ekonomie reg te ruk of werk te skep voordat die ramptoestand in sy geheel opgehef is nie. Dit het gevolg nadat die jongste vrystelling van die kwartaallikse arbeidsmarkopname (QLFS) deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) aangedui het dat Suid-Afrika tans die hoogste vlak van werkloosheid ervaar sedert StatsSA die QLFS begin gebruik het.

Solidariteit argumenteer dat hoewel die opheffing van die ramptoestand die grootste korttermynoorwinning sou verteenwoordig, daar steeds wesenlike strukturele probleme in die Suid-Afrikaanse ekonomie is wat opgelos moet word om die werkkrisis aan te pak.

Connie Mulder, die hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê wesenlike gedeeltes van die ekonomie is steeds toe en die dele wat oop is, gaan nooit aanstellings of langtermynbeleggings maak nie, want hulle kan in ’n oogwink weer toegemaak word. “Die ramptoestand, ongeag die vlak, bring té veel onsekerheid en verwoes ons ekonomie en werk in Suid-Afrika,” het Mulder gesê.

Solidariteit voer aan dat die onlangse verslappings ’n uiters beperkte impak op die ekonomie sal hê aangesien die moontlikheid van ’n harde inperking steeds by ondernemings en werkgewers spook.

“Dit is vir baie ondernemings bykans onmoontlik om onder die huidige omstandighede besluite oor groei of toekomstige strategie te neem. Ondanks die verslappings kan ons hoegenaamd nie die uitkomste van ’n stelsel wat by uitstek ongeregverdig is, verwelkom nie. Rolspelers in die ekonomie het geen idee gehad wat tydens die jongste aankondiging deur die president bekend gemaak sou word nie. Ons kon vlakke opskuif, verslappings sien of kon enigeen van tallose ander moontlikhede in die gesig staar. Dit kan eenvoudig nie so voortgaan nie,” sê Mulder.

“Uit hierdie syfers is dit duidelik dat die ANC se beleid die grootste ramp is wat die Suid-Afrikaanse ekonomie getref het. Pres. Ramaphosa se ekonomiese herstelplan en minister Mboweni se begroting is nie bloot net onvoldoende nie; dit is gewoon teenproduktief. Die regering het die perde wat ons ekonomiese koets sleep, doodgemaak en is nou verbaas dat die koets nie meer beweeg nie. Hierdie planne poog nou om bloot net  ’n groter koets aan te skaf in die hoop dat hy dan sal beweeg,” het Mulder gesê.

Ramaphosa hoop egter die week se konferensie sal wys dat Suid-Afrika steeds aanloklik is vir beleggers.

“Die konferensie sal demonstreer Suid-Afrika bied steeds aantreklike beleggingsmoontlikhede, en ook wys watter voortuitgang gemaak word om die besigheidsklimaat te verbeter. Dit sal voortbou op die positiewe momentum wat voor COVID-19 besig was om op te bou.”

Ramaphosa het die hoop uitgespreek dat die vryehandelsooreenkomste in Afrika wat aan die begin van volgende jaar van krag word sal help om noodsaaklike beleggings uit Afrika te lok en ook Suid-Afrika in staat te stel om sy beleggingspotensiaal van sy produkte en dienste elders op die kontinent uit te brei. 

Hy sê Suid-Afrika is egter nie al land wat poog om beleggings te lok as deel van ’n ekonomiese herstelpoging in die nadraai van COVID-19 nie en dit maak die taak om beleggers te lok nog moeiliker.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top