Koronavirus laat Moeder Natuur weer asemhaal

  • 0

Terwyl die mensdom wêreldwyd asem ophou dat die koranvirus moet verbygaan, slaak Moeder Natuur plek-plek ’n sug van verligting en haal vir ’n verandering weer diep asem.

Oral hoor mens van verskynsels in die natuur wat stadig maar seker weer besig om na normaal terug te keer terwyl miljoene agter slot en grendel is.

Pieter van Zyl het ’n video op Facebook geplaas van duisende seevoëls wat op Langebaan se strand besig is om sardyne te vang tydens die jaarlikse sardynloop. Die persoon wat die video geneem het, sê in die video hy het die sardynloop al verskeie kere aanskou, maar het nog nooit in sy lewe so iets gesien soos vanjaar nie.

Van Zyl sê op Facebook die impak van die mens op Moeder Natuur is kristalhelder as mens die sardynloop tydens hierdie tyd van inperking dophou.

“Ongelooflik, ek het dit al baie keer aanskou maar hierdie is werklik ’n skouspel. Gister was daar ook talle dolfyne agter die sardyne aan wat hier reg voor ons oë gespeel het,” sê die stem in die video.

Die sardynloop, ook genoem die sardientjieloop, van Suider-Afrika vind gewoonlik jaarliks plaas vanaf April tot Julie wanneer miljarde sardientjies – of, meer spesifiek, die Suid-Afrikaanse sardyn, kuit skiet in die koel waters van die Agulhasbank en noordwaarts beweeg langs die ooskus van Suid-Afrika. Die groot getalle sardientjies veroorsaak frenetiese vreetsessies onder roofvisse en voëls langs die kuslyn.

’n Britse natuurbeskermingsorganisasie sê ook die natuur is besig is om te floreer te midde van die uitbreking van die koronavirus. Die organisasie, Plant Life, sê hy verwag ’n groot toename in veldblomme omdat plaaslike rade nou hul personeel net vir noodsaaklike take aanwend.

Take soos die sny van gras in parke en langs paaie is op talle plekke gestaak. Dit laat meer blomme saad skiet. Plant Life sê wildediere word ook op onverwagte plekke aangetref omdat daar nie mense in die omgewing is nie.

Die vlakke van lugbesoedeling en gasse in sekere stede en streke toon ook aansienlike verlagings weens die impak van die reisverbod en fabrieke en myne wat produksie moes staak of verminder.

Navorsers in New York het aan die BBC gesê vroeë resultate toon dat koolstofmonoksied wat hoofsaaklik van motors kom, met tot 50% afgeneem het vergeleke met verlede jaar.

Aardverwarming weens CO2-vlakke het glo ook aansienlik gebaat sedert talle groot stede in die wêreld in ’n staat van afsondering is. Dit is egter nog te vroeg om te sê hoe groot die impak daarvan regtig is.

Verkeersvolumes het in sekere stede dramaties afgeneem, wat besoedeling weens motoruitlaatgasse drasties verminder het. In sekere gevalle het die besoedeling oor ’n paar dae met tot 50% afgeneem volgens navorsing aan die Universiteit van Columbia

Die New York Times berig egter dat renosterstropery toegeneem het vandat Suid-Afrika in ’n staat van afsondering is. Die koerant sê die afgelope tyd was besonder moeilik vir Nico Jacobs van Rhino 911, ’n niewinsgewende organisasie wat help om renosters te red. Jacobs het aan die koerant gesê sedert die inperking moet hy op ’n daaglikse basis aandag gee aan renosterstropery. Minstens nege renosters is volgens hom in Suid-Afrika se Noordwes-provinsie doodgemaak sedert die inperking en dit is slegs die renosters waarvan hulle kennis dra.

In Botswana is daar volgens Rhino Conservation Botswana minstens ses renosters gestroop sedert die land sy grense gesluit het om die verspreiding van COVID-19 te keer. Verlede week het Botswana se regering aangekondig vyf verdagte renosterstropers is in twee afsonderlike voorvalle deur Botswana se soldate doodgeskiet.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top