Dit is nie nou die tyd om die voet van die versneller te neem wanneer dit kom by die bekamping van korrupsie nie. Die burgerlike samelewing moet sy stem dik maak om die stryd teen korrupsie te help versterk en aandring op aanspreeklikheid deur openbare amptenare.
So sê Corruption Watch (CW) in hulle 11de jaarlikse korrupsieverslag, “Accelerating justice”, wat Dinsdag vrygestel is.
The Corruption Watch annual report, titled #AcceleratingJustice, comes out tomorrow! The report comes at a low point in our country as we grapple with widespread corruption and the deterioration of services, with slow and weak accountability mechanisms. #CWAnnualReport pic.twitter.com/uo2yYTf5vO
— Corruption Watch (@Corruption_SA) April 3, 2023
Die verslag weerspieël ’n verskeidenheid sienings en weergawes van die organisasie se aktiwiteite en perspektiewe gedurende 2022, en beklemtoon CW se meedoënlose strewe na geregtigheid vir almal.
Ten spyte van die donker prentjie waarmee die land gekonfronteer word, sê CW hulle gaan voort met hulle teenkorrupsieverbintenisse met maatskaplike geregtigheid en ontwikkelingsvennote, sowel as toegewyde rolspelers in die openbare sektor, wat daarop ingestel is om die land om te keer weg van korrupsie.
Die spook van staatskaping is volgens CW steeds met ons. Die nalatenskap daarvan is sigbaar in die kragonderbrekings wat Suid-Afrikaners beleef en wat die gevolg is van jare se staatskaping.
Karam Singh, uitvoerende direkteur van CW, sê hulle definieer korrupsie as die misbruik van toevertroude mag of hulpbronne, deur enigiemand, vir private gewin.
"Hierdie definisie poog om die siening te verwoord dat korrupsie ’n simbiotiese verhouding tussen die openbare en private sektor behels," sê Singh. “Dit manifesteer op verskeie maniere, van die onwettige poging om mag en gesag te versamel om demokratiese prosesse onreëlmatig te beïnvloed, tot volslae diefstal van hulpbronne deur onwettige herleiding en opeenhoping van staatsbates.”
Die probleem wat Suid-Afrika in die gesig staar as gevolg van hierdie situasie beteken volgens hom dat daar dapper oplossings gevind moet word om aanspreeklikheid te verseker en die bevordering van deursigtigheid en goeie regering.
CW het meer as 38 000 klagtes van beweerde korrupsie ontvang sedert sy ontstaan in 2012. In 2022 het die organisasie 2 168 verslae van korrupsie ingesamel, waarvan byna ’n kwart verband hou met kwessies in die mynbousektor. Dit is te danke aan die organisasie se mynbouprojek wat myngemeenskappe geteiken het tydens openbare bewusmaking in veral die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal.
Last year, we collected over 2 000 reports of corruption. Almost a quarter of the reports relate issues of graft in mining. This is a result of our project which targeted mining-affected communities in Free State, North West and KZN: https://t.co/M1GRAEgP8P. #CWAnnualReport pic.twitter.com/CDXqeW2Asd
— Corruption Watch (@Corruption_SA) April 4, 2023
Fluitjieblaas oor swak polisiëring was volgens die verslag verlede jaar die tweede mees gereelde fokusarea. Ander top fokusareas sluit in bewerings van korrupsie in besighede en die onderwys.
Die tipe korrupsie wat die meeste landwyd oor alle fokusareas aangemeld word, hou soos vorige jare verband met wanadministrasie, insluitend wanbestuur van fondse, en vrugtelose en verkwistende uitgawes (25%) bedrog (17%), indiensnemingsonreëlmatighede, insluitend nepotisme en begunstiging (13%), omkopery en afpersing (11%) en pligsversuim, sowel as verkrygingsonreëlmatighede, insluitend terugbetalings en die verontagsaming van prosesse (beide 9%).
The state capture revelations and findings of the Zondo Commission were a focus area in 2022. We were mentioned in the Commission’s report part 6, in relation to our work (advocating for transparent, merit-based appointments to key leadership positions). #CWAnnualReport pic.twitter.com/8t75VFZRez
— Corruption Watch (@Corruption_SA) April 4, 2023
Daar was ’n gelyke verspreiding van verslae tussen nasionale en provinsiale regeringsvlakke.
Die meeste korrupsie, naamlik twee derdes, kom egter by plaaslike regering voor. Die drie grootste skuldiges is metropolitaanse munisipaliteite van Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni – wat gesamentlik 58% is van voorvalle behels.
Provinsiaal is daar 36% van die klagtes uit Gauteng, gevolg deur KwaZulu-Natal met 18%. Vrystaat was die provinsie waaruit die derde meeste aantygings ontvang is.
CW sê hulle is daarop ingestel om hul werk te versnel om geregtigheid, gelykheid en toegang tot grondwetlike en sosio-ekonomiese regte vir almal wat in Suid-Afrika woon te herstel.
“Dit sluit in onder meer in meer druk vir deursigtigheid en aanspreeklikheid in die implementering van wette, die aanstellings van leiers, verkrygingsprosesse en nakoming van goeie bestuurstelsels,” sê Singh
Die organisasie sê hulle sal voortgaan om die behoefte aan beter beskerming vir fluitjieblasers en ondersteuningstelsels aan te spreek.
“Daar is geen tyd om te mors nie, aangesien die kans om ons teenkorrupsiepogings radikaal op te knap en te versterk nie onbepaald daar sal wees nie. Dit sal toewyding van die hele samelewing verg, en ’n vasbeslotenheid om ons van die afgrond te red,” het Singh gesê.
Read the full report here: https://t.co/M1GRAEgP8P
— Corruption Watch (@Corruption_SA) April 4, 2023