Kosbare Pierneef kry voete uit premier se kantoor

  • 0

Kunsliefhebbers is woedend nadat ’n Pierneefskildery ter waarde van miljoene rande voete gekry het uit die kantoor van Ace Magashule terwyl hy premier van die Vrystaat was.

Die Daily Maverick het vroeër die week onthul dat Magashule die waardevolle skildery van tussen ses en agt miljoen rand glo aan een van sy lyfwagte gegee het  toe dit “tussen sy persoonlike goed” beland het.

Verskeie vrae word nou ook oor die ander kultuurskatte in die kantoor van die Vrystaatse premier gevra. Dit sluit ander waardevolle skilderye, persiese matte en kosbare breekware in.

Dr Basie Olivier, die voormalige sekretaris van die destydse Vrystaatse administrateurspaar, Louis en Louisa Botha, het aan Netwerk24 gesê hy het gehoor een van die Pierneefskilderye is nou die dag op ’n vullishoop gevind. Iemand het dit glo gered en dit hang nou in daardie persoon se kantoor.

Daar het ook ander skilderye van Pierneef in die premier se kantoor gehang maar dit is nie duidelik wat daarvan geword het en of die skilderye ongeskonde is nie.

Volgens Daily Maverick is Magashule die middelpunt van ’n kriminele ondersoek na die verdwyning van die waardevolle Pierneef uit sy kantoor in Bloemfontein. Die koerant se ondersoekeenheid, Scorpio, het vroeër die week onthul dat die skildery glo vroeër vanjaar uit die kluis van die premier se kantoor verdwyn het. Die saak is reeds by die Valke aangemeld wat ’n ondersoek geloods het. Volgens die koerant se bronne word Magashule direk verbind met die verdwyning van die waardevolle skildery.

Die beweerde diefstal het glo plaasgevind toe Magashule sy kantoor in die Vrystaat ontruim het om sy nuwe pos as die ANC se sekretaris-generaal in te neem. Die skildery behoort aan die Vrystaatse Provinsiale Regering.

Volgens Magashule se voormalige lyfwag in wie se besit die skildery beland het, Ricardo Mettler, is die skildery nie gesteel nie. Die manier hoe dit in sy besit beland het was glo “’n menslike fout”.

Hy sê die skildery het tussen Magashule se persoonlike besittings beland toe hy die premierskantoor in Februarie ontruim het en dat Magashule dit toe as ’n geskenk aan hom gegee het.

Die skildery is daarna aan ’n plaaslike besigheidsman gegee wat dit by die afslaers Strauss & Co ingedien het om die waarde daarvan te bepaal. Alastair Meredith, ’n spesialis ondersoeker van Strauss & Co sê hulle het agterdogtig geraak en wou weet wie die ware eienaars is. Hulle het met die Universiteit Pretoria (UP) en die kultuurhistoriese museum in Pretoria in verbinding getree om  meer oor die skildery uit te vind. Hulle het ook met verskeie ander Pierneefspesialiste gepraat en ook Pierneefbateregisters geraadpleeg.

Die betrokke skildery wat uit die premier se kantoor verdwyn het, is 76cm by 90cm en beeld Golden Gate en die Oos-Vrystaatse landskap uit.

Nadat hulle agterdogtig geraak het oor die skildery se herkoms en aan wie dit behoort, het Straus & Co ’n klag van moontlike diefstal by die Valke ingedien.

Magashule is op sosiale media deur verskeie mense uitgeskel. Die voorval is onder meer bestempel as "The Great Art Heist". Die joernalis wat die storie vir die  Daily Maverick geskryf het, Pieter-Louis Myburgh, het ook ’n foto van die skildery op Twitter geplaas.

Pierneef se skilderye is reeds jare lank ’n gesogte teiken vir kunsdiewe. In Maart 2005 is ’n Pierneefskildery uit die SABC se hoofkantoor in Johannesburg uit die skildery se raam gesny en só gesteel. Die diewe is later gevang maar die skildery was vernietig.

Verlede jaar het een van Pierneef se skilderye wat nog nooit vantevore gesien is nie, die rekords laat spat toe dit vir meer as R20 miljoen verkoop is tydens ’n veiling nadat die waarde daarvan op tussen ses en agt miljoen rand geskat is. Dit was die tweede hoogste prys wat in daardie stadium vir ’n skildery betaal is wat by ’n Suid-Afrikaanse veiling verkoop is.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top