Koud, bitter koud, vrekkoud

  • 0

Hoe koud is minus 70 grade Celsius? Dink so daaraan: Hoe warm is 70 grade Celsius bokant nul? Die warmste plek op aarde is Furnace Creek in Death Valley, Kalifornië, met ’n rekord van 56,7 grade. Minus 70 grade is nie bitter koud nie, dis vrekkoud.

In Siberië, vertel iemand my, word dit soms so koud. Om dit te oorleef, pak mense groot kaste vol vetterige vleis wat hulle op die koudste dae, wanneer die verwarmers nie meer help nie, aanmekaar eet omdat hul liggame so baie energie gebruik net om aan die gang te bly. ’n Groot voorraad vodka help ook.

Minus 70 grade is die temperatuur waarteen die huidige voorlopers in die wedloop om ’n entstof teen die koronavirus gestoor moet word. Moderna en Pfizer-BioNtech het aangekondig hul entstof is 95% doeltreffend, maar daar gaan probleme wees met die berging en vervoer daarvan. Intussen het ander maatskappye en instansies aangekondig hul kandidate kan veel meer hitte weerstaan, hoewel die mees belowendes net 70% doeltreffend is – in sommige wetenskaplikes se oë dus glad nie.

Hoe dit ook al sy, die tegnologie rondom die ontwerp van ’n entstof het weer eens groot vrae oor ons voortbestaan op die planeet laat ontstaan. Gaan die mensdom se voorland ’n verdeelde affêre wees waarin die elite en hul robotte, kuborgs en bioborrels ’n al meer eiesoortige lewe lei waarin die onderskeid tussen mikrobe, mens en masjien al vaer raak? Met daarbuite die res van ons, knaend oorval deur pandemies, rekenaarvirusse, permanent worstelend met tweedehandse toerusting, onpas en onklaar?

Gaan die postkoronawêreld dus al meer soos Suid-Afrika begin lyk? Waar ’n klein deel van die bevolking baie goed leef, dankie, in enklaves wat met die sak van ’n valboom van die siek en vervalle wêreld daarbuite afgeskei kan word? En die res regkom met ’n maaltyd per dag, en wat ook al ’n bankrot staat kan afknyp vir swanger meisies? Die gholflandgoed versus die “menslike nedersetting”?

Hier te lande is daar blykbaar net een of twee plekke wat in staat sal wees om Moderna en Pfizer-BioNtech se entstowwe te berg. Maar selfs in die magtige VSA, met die grootste konsentrasie biowetenskaplikes ter wêreld, gaan die verspreiding van hierdie twee entstowwe ontsaglike eise stel, en gaan groot dele van die platteland eenvoudig nie geholpe kan raak nie.

Die situasie daar is ’n mikrokosmos van wat verkeerd is met die wêreld in sy geheel. Gesondheidsdienste in die VSA het agteruit gegaan onder druk van die ideologie wat die Amerikaanse Droom onderlê, wat Donald Trump opsom met sy slagspreuk “Make America Great Again”, en waaraan sommige mense die onbevredigende naam neoliberalisme gee. Die basiese idee dat alles sal regkom as mense die maksimum vryheid het om geld uit enigiets te maak, het bloot gelei tot grootskeepse uitbuiting van mekaar en die agteruitgang van noodsaaklike dienste soos ’n behoorlike openbaregesondheidstelsel en gesonde kos. 

Lande met sterk staats- en welsynsdienskulture, soos China, Suid-Korea en Japan, kon die virus maklik hokslaan. Dié gelei deur egosentriese politici met verwronge idees oor persoonlike vryheid, soos Brittanje, die VSA en Brasilië, sukkel voort daarmee, nie in staat om ’n koherente veldtog teen die virus van stapel te stuur nie.

’n Mens sou kon sê gelukkig is die koulike entstowwe nie die enigstes nie. Die wedren tel nou al 144 deelnemers, waarvan 57 reeds besig is met kliniese toetse, ’n geweldige prestasie as ’n mens in ag neem die virus se genoom is eers in Januarie ontsyfer. Maar die name van die maatskappye vertel hul eie onomatopeïese verhaal, die klanke en assosiasies wat hul handelsmerkkonsultante vir hulle gekies het.

Daar is ’n aantal prosaïese name, waarby staatsinstellings betrokke is, en daar is die pogings van Kuba, wie se pionierswerk met openbare gesondheid welbekend is, wat sy kandidate Mambisa en Abadala noem, na die 19-eeuse vroulike antikoloniale vegters en ’n gedig deur die nasionale digter, Jose Marti. Geen sulke vroomheid is te bespeur by die res nie: Zydus, Curevac, Vacequity, Arcturus, Inovio, Genexine, Walvax, Oncosec, Cansino, ReiThera, iavi, Biological E, Medigen, Covaxx, Voltron, Codagenix, Valneva, ETheRNA, PittCoVacc, Scancell …

Dit roep dalk die wêreld van Asterix op, en miskien Valhalla van die Vikings, maar dit het beslis meer van ’n wetenskapfiksionele aanslag. Al die vac’s verwys natuurlik na vaccine, maar ook na vakuum, en die suggestie van die koue eter van die ruimte word voltrek in een van die Russiese name: Sputnik V.

Sulke handelsmerke is gerig op maksimum bemarkingspotensiaal, en as hulle jou ook herinner aan rekenaarspeletjies en hul karakters en entiteite, is jy nie ver verkeerd nie: Tegnologiese tussengangers en mediese nerds is die teiken. Dit is opmerklik hoeveel van hierdie maatskappye reeds betrokke is in hofsake wat deur mededingers en hul eie aandeelhouers gebring is, al is sommige van hulle net in die vroeë stadia van die lang proses van toetsing en goedkeuring deur die owerhede.

Soos die koloniale moondhede met Afrika, is daar ’n groot geskarrel na die nuwe kontinente van die permanente pandemie waarin ons almal leef met ons mikrobiome, die ekologieë van mikrobes in ons almal se liggame wat meer is as elkeen van ons se miljarde selle. Die multinasionale maatskappye wat betrokke is, en die nuwes wat aan die groei is, gaan mekaar kannibaliseer soos wat sommige van ons mikrobes doen. Hulle gaan ons nuwe soewereine word, met die mag oor lewe en dood in die manier waarop hulle entstowwe versprei.

Van die arm lande, soos Ecuador, begin reeds mor hoe hulle die wêreld onder hulle verdeel, met sekere kandidaat-entstowwe wat met die gewone geknoei van sulke monstermaatskappye aan regerings opgedring word. Die reël skyn reeds te ontwikkel: Hoe armer jy (en jou land) is, hoe minder van ’n keuse sal jy kan uitoefen. Afgesien hiervan: In die huidige globale raamwerk vir entstowwe gaan die armer lande net 20% van die entstowwe teen die einde van aanstaande jaar kry.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die Covax-program met die medewerking van die Bill & Melinda Gates-stigting geloods om die probleem aan te spreek. Die stigting het die huidige pandemie al lankal voorspel en is reeds jare lank besig met beplanning, maar ten spyte hiervan gaan dit broekskeur – eers teen 2024 gaan die hele aardbol ingeënt kan wees. En soos Brook Baker, ’n professor en gelykheidsaktivis van Northeastern Universiteit, daarop wys in die New York Times: “Die gevolg van die langtermyn Gates-strategieë is dat hulle gepaard gaan met korporatiewe beheer oor verskaffing. In ’n pandemie is dit ’n werklike probleem.”

En Suid-Afrika? Wel, soos ’n mens vooraf kon voorspel het, is dit ’n sage van onbevoegdheid en ’n skynbaar algehele gebrek aan beplanning. Hoewel 2 900 van ons met groot geskal deelneem aan minstens een program van toetsing, saam met Novavax, lyk dit nie of daar enige transaksie gesluit is om van hul produkte te kry nie. Novavax gaan twee miljard dosisse aan Indië lewer, en 100 miljoen aan Amerika, ook 40 miljoen aan Australië.

Die regering het wel R500 miljoen betaal om aan die Covax-program te mag deelneem, soos 172 ander regerings, maar daar is geen teken van ’n inentingsplan nie, of nie een wat inpas by ons amptelike kultuur van deursigtigheid en openhartigheid nie.

Kritici bespiegel dat Suid-Afrika nog nie die anti-Big Pharma-verwerping oorkom het wat vroeg in die eeu ingestel is deur Nkosazana Dlamini-Zuma en Thabo Mbeki nie, met laasgenoemde wat nog steeds nie wil erken dat hy verkeerd was oor Vigs nie. Ja, die multinasionale maatskappye buit ons almal uit, maar solank hulle die botoon voer, sal ons die knie moet buig en ons gevoelens van ongeregtigheid en die paar pilletjies wat ons kry, moet sluk. Dis die ander sy van die munt.

Ons ervaring van koue maak ons wys koue is iets: ’n Mens kry koud, of die koue wyk. Maar koue is afwesigheid, ’n afname in die bedrywigheid van molekules, ’n verstadiging van kosmiese aksie. Geld is koud; dit staan vir die afwesigheid van menslikheid, en dis waarheen die jag na nuwe entstofgeleenthede baie van ons gaan neem.

Die koudste omgewing waar mense hulle nog bevind het, is die Internasionale Ruimtestasie, waar ’n temperatuur van drie pikokelvin bereik is. Dit is drie triljoenstes van ’n graad Celsius bokant Kelvin, die absolute nulgraad, oftewel minus 273,5 grade Celsius.

Miskien kan ons Mbeki of ons Grendeltante Nkosazana kry om, soos in die geval van die Virodene anti-MIV-entstof, ’n plan te maak om entstowwe in die ruimte te gaan stoor. Aan die ander kant het die meeste van die wetenskaplike en organiserende talent wat ons daarvoor sou kon inspan, soos Elon Musk, reeds verhuis na ander lande wat hulle beter behandel. 

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top