Kragkrisis kan vererger voordat dit beter word

  • 0

Suid-Afrikaners was die afgelope week geskok om te verneem dat Eskom en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) reeds daaraan werk om skedules vir hoër fases van kragonderbrekings te skep, tot so hoog as fase 16 indien nodig.

Hoewel daar in dié stadium geen sprake is dat die situasie tot so ’n mate sal versleg nie, is ’n werkgroep bestaande uit Eskom, sy stelseloperateur en belanghebbendes in die bedryf glo reeds besig om die praktykkode te hersien wat Suid-Afrika se beurtkragstadiums beheer.

Isabel Fick, hoofbestuurder van Eskom se stelseloperateur, het erken dat Eskom saam met Nersa aan voorbereiding van skedules ná fase 8 werk.

Eskom se waarnemende opwekkingshoof, Thomas Conradie, het die afgelope week tydens ’n voorligtingsessies vir die media ook gereageer op ’n vraag of die kragvoorsiener sy beurtkragskedule tot fase 16 gaan uitbrei.

Conradie en regeringsverteenwoordigers het terugvoer gegee oor die vordering wat deur Cyril Ramaphosa se Nasionale Energiekrisiskomitee gemaak is.

Hoewel Conradie nie bevestig het dat die skedules tot stadium 16 aangepas gaan word nie, het hy bevestig dat hulle besig is met ’n plan vir hoër stadiums van rotasiekragonderbrekings.

Beurtkragfases 5 tot 8 word reeds sedert November 2018 op Eskom se webwerf gepubliseer. Na aanleiding van navrae van die media het Eskom toe gesê dat die Wet op Rampbestuur vereis dat hulle gebeurlikheidsplanne vir rampe moet hê. Volgens Eskom word daar al sedert 2015 aan die nuwe plan of fases geskaaf, omdat hulle en die munisipaliteite besef het dat daar ’n noodsaaklikheid is om beurtkrag uit te brei.

Kragverbruikers is die afgelope twee weke feitlik daagliks met fase 6-beurtkrag gebombardeer. Energiekenners waarsku reeds geruime tyd dat die situasie in die wintermaande kan vererger. 

Energie-ontleder Ruse Moleshe het aan eNCA gesê fase 8 sal katastrofies wees.

“Wat die hoër stadiums van beurtkrag beteken, is dat daar in terme van die voorsiening van elektrisiteit nie genoeg kapasiteit is om in die vraag te voorsien nie en daarom sal daar hoër stadiums wees,” het sy gesê.

“Vir fase 8 is dit byvoorbeeld sowat 8 000 megawatt wat nie beskikbaar sal wees nie en dit is die grootte van meer as drie lande in Suider-Afrika en die ure sal beslis hoër wees en meer as 12 uur se beurtkrag beteken.”

Volgens BusinessTech dui huidige tendense daarop dat Eskom se beurtkragstadiums besig is om op te raak en teen Augustus 2023 kan eskaleer tensy daar ernstige ingrypings plaasvind.

Volgens ’n nuwe tegniese ontleding van die onafhanklike energie-ontleder Pieter Jordaan neem die daaglikse gemiddelde beurtkrag geleidelik toe sedert Julie 2022, toe dit vir die eerste keer tot fase 4 verhoog is, berig BusinessTech .

Sedertdien het die gemiddelde fase 4 die land tot einde Februarie 2023 soveel as 52 keer getref en dit klim steeds geleidelik hoër.

Indien fase 8 beurtkrag ingestel sou word, sal dit beteken dat daar vir die helfte van die dag geen krag sal wees nie.

Moneyweb berig dat dit van daar af nie moeilik is om die berekeninge te doen nie .

Op hierdie stadium is enige fases na fase 8 suiwer teoreties, sê Moneyweb.

Teen fase 16, waar die frekwensie van fase 8 verdubbel word, is die aantal ure van beurtkrag oor ’n vierdaagse siklus 96 uur, wat beteken dat daar eintlik glad nie elektrisiteit is nie en dit maak nie juis praktiese sin nie.

Beurtkrag word beheer deur ’n Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde-dokument genaamd NRS048–9:2019.

NRS 048 is ’n versameling spesifikasies wat die kwaliteit van Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening beheer.

“Die verantwoordelike ding is om seker te maak dat hierdie dokument voorsiening maak vir hoër stadiums van beurtkrag, en dat daardie skedules vooraf ontwikkel word, [so] ons het ’n meer sistematiese benadering as ons dit toepas,” het Conradie die afgelope week aan joernaliste gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top