Krieket Suid-Afrika (KSA) se besluit om David Teeger van sy kapteinskap van die Suid-Afrikaanse onder 19-krieketspan vir die komende onder 19-manskrieketwêreldbeker te onthef, word ’n al hoe groter politieke kopseer vir die krieketbase.
Die Suid-Afrikaanse Sioniste Federasie (SAZF) het die besluit heftig veroordeel, terwyl die DA nou verdere stappe doen om agter die kap van die byl te kom
KSA het onder skoot gekom omdat hy Teeger as kaptein verwyder het nadat Teeger ’n verklaring ter ondersteuning van Israel se militêre optrede teen Palestina gemaak het en die soldate as "ware opkomende sterre" beskryf het.
KSA ontken dat Teeger om politieke redes van sy kapteinskap onthef is. "Ons is in kennis gestel dat betogings wat verband hou met die oorlog in Gaza verwag kan word by die plekke vir die toernooi," het KSA in ’n mediaverklaring gesê en bygevoeg dat "daar ’n risiko is dat dit konflik of selfs geweld tot gevolg kan hê, insluitend tussen mededingende groepe betogers".
When you give into cowards that threaten David Teeger because of his religion and beliefs instead of standing behind one of the best youth cricketers in South Africa. Cricket South Africa continues to showcase how absolutely atrocious they are. pic.twitter.com/kRvCjEhIQF
— Ngamla Gouws ???????? (@RenaldoGouws) January 12, 2024
Die DA sê egter in ’n verklaring onlangse mediaberigte dui op ’n gebrek aan tasbare bewyse rakende enige bedreigings vir die span. Hulle sê senior amptenare verantwoordelik vir die beveiliging van krieketbyeenkomste en bronne binne die staatsveiligheidsagentskap, polisie en sekuriteitskenners bevestig almal die afwesigheid van wesenlike dreigemente.
The SA Zionist Federation (@SAZF) & the Democratic Alliance (@Our_DA) accuse CSA of antisemitism after David Teeger is stripped of U19 cricket captaincy for pro-Israel remarks. Calls for action from the SAHRC & ICC mount. #DavidTeeger #CricketSouthAf... https://t.co/wYE56r9zht
— Satori News (@NewsSatori) January 14, 2024
Die SAZF is ook nie te vinde vir KSA se verduideliking nie. Hulle sê die rasionaal wat deur KSA verskaf word met verwysing na kommer oor “geweld” en “veiligheid”, is onoortuigend. Volgens die SAZF is dit ’n flou poging om die onderliggende diskriminerende motief te verdoesel. Hulle sê KSA het versuim om te verduidelik waarom hulle nie in staat is, of onwillig is, om die gewone veiligheidsmaatreëls in te stel om die veiligheid van deelnemers en toeskouers te verseker nie.
Die DA het Maandag ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien om die “risiko-evaluering-verslag” wat deur KSA genoem word, te bekom.
Hulle sê die verslag is deurslaggewend om die grondslag te verstaan waarop KSA sy besluit geneem het om Teeger van die kapteinskap te ontneem.
“Deur hierdie PAIA-versoek eis die DA deursigtigheid van KSA. Die vereniging moet bekend maak wie hul sekuriteitsontleders en kundiges is, die grondslag waarop die besluit geneem is, en besonderhede oor die dreigemente wat ontvang is wat tot die besluit gelei het.”
Die party dring aan op volle openbaarmaking aan die DA en die publiek om aanspreeklikheid en duidelikheid rondom KSA se besluitnemingsproses te verseker.
Die DA daag KSA uit om hierdie besluit teen Vrydag 19 Januarie om te keer, anders gaan hulle die saak na die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) verwys.
Die DA sê hulle dring daarop aan dat KSA die oppergesag van die reg moet prioritiseer, die spelers se regte op vrye uitdrukking, geloof, gewete en godsdiens moet beskerm en nie moet swig voor dreigemente of intimidasie nie.
Volgens die DA kan ’n besluit soos dié van KSA ’n presedent skep wat kan lei tot toekomstige onregverdige besluite wat op arbitrêre kriteria gegrond is. Die DA sê hulle bly daartoe verbind om die beginsels wat in die Handves van Menseregte vervat is, te verdedig en sal alle nodige stappe doen om te verseker dat geregtigheid en regverdigheid in Suid-Afrikaanse sport seëvier.
Die SAZF het intussen ’n petisie begin waarin die herinstelling van David Teeger as die kaptein van sy span vir die komende wêreldbekertoernooi geëis word. Die petisie het Maandag reeds meer as 24 000 handtekeninge gehad.
Die SAZF eis ook ’n deursigtige verduideliking van KSA oor die werklike motiewe agter die besluit. Hulle sê Suid-Afrika skuld nie net vir David Teeger nie, maar ook die publiek en die internasionale sportgemeenskap ’n opregte verskoning vir hierdie “onregverdige en diskriminerende daad”.
“Aangesien hierdie optrede ook in stryd is met die Internasionale Krieketraad (IKR) se regulasies, doen ons ’n beroep op die IKR om die gedrag van KSA te ondersoek en enige besluite te neem wat hy regverdig ag.”