’n Storm het onder Suid-Afrikaanse krieketondersteuners losgebars oor Krieket Suid-Afrika (KSA) se besluit dat alle Protea-spelers aangesê is om die knie te buig voor Dinsdag se wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande as ’n gebaar van eensgesindheid teen rassisme.
Die Proteas se paaltjiewagter, Quinton de Kock, se besluit om nie aan die gebaar mee te doen nie het uiteenlopende reaksies onder Suid-Afrikaners uitgelok.
Quinton de Kock statement 📝 pic.twitter.com/Vtje9yUCO6
— Cricket South Africa (@OfficialCSA) October 28, 2021
Die vraag op mense se lippe is waarom KSA gewag het tot die oggend van die Wêreldbekerwedstryd voordat die spelers ingelig is hulle mag voortaan nie meer self kies hoe hulle solidariteit wil betoon in die stryd teen rassisme nie.
KSA het die afgelope Dinsdag in ’n verklaring bevestig dat daar Maandagaand deur die KSA-raad besluit is dat daar van alle spelers verwag sal word om “die knie te buig” in ’n verenigde en konsekwente standpunt teen rassisme. “Dit is ook die wêreldwye gebaar teen rassisme wat deur sportlui oor sportkodes aangeneem is omdat hulle die krag van sport erken om mense bymekaar te bring,” sê KSA in hulle verklaring.
🇿🇦 Cricket South Africa (CSA) has noted the personal decision by South African wicketkeeper Quinton de Kock not to “take the knee” ahead of Tuesday’s game against the West Indies.
➡️ Full statement: https://t.co/cmEiA9JZy7 pic.twitter.com/4vOqkXz0DX
— Cricket South Africa (@OfficialCSA) October 26, 2021
Volgens KSA was daar kommer dat die verskillende houdings wat spanlede ingeneem het ter ondersteuning van die BLM-inisiatief, ’n onbedoelde persepsie van ongelykheid of gebrek aan ondersteuning vir die inisiatief geskep het.
“Na oorweging van alle relevante kwessies, insluitend die posisie van die spelers, het die Raad gevoel dat dit noodsaaklik is dat die span gesien moet word om ’n verenigde en konsekwente standpunt teen rassisme in te neem, veral gegewe Suid-Afrika se geskiedenis,” lui die verklaring.
Die KSA-raadsvoorsitter, Lawson Naidoo, het gesê: “’n Verbintenis om rassisme te oorkom is die gom wat ons moet verenig, bind en versterk. Ras moet nie gemanipuleer word om ons swakhede te versterk nie. Diversiteit kan en behoort uitdrukking te vind in baie fasette van ons daaglikse lewe, maar nie wanneer dit kom by die neem van standpunt teen rassisme nie.”
Baie Suid-Afrikaner was egter nie gediend met hierdie verduideliking nie. “Het KSA al ooit ’n speler van die Moslem-geloof gedwing om Castle, die SAB-borg, op hul hemp te hê? Nee, hulle het nie. Hoekom? Omdat godsdiensvryheid onder ons Grondwet gewaarborg word. Is vryheid van oortuigings nie gewaarborg nie?” wou een van die ondersteuners op sosiale media weet.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het aangedui dat hulle regsadvies gaan inwin oor KSA se opdrag aan die Protea-krieketspelers. AfriForum sê in ’n verklaring hulle veroordeel KSA se voorskrif ten sterkste. Indien die speler nie die knie buig nie, kan dit daartoe lei dat die speler uit die span gelaat word en sanksies deur KSA in die gesig staar.
.@AfriForum ondersteun Quinton de Kock se besluit https://t.co/L6DEtGf5Lh
— AfriForum (@afriforum) October 26, 2021
Die direksie van KSA sê hulle sal op ’n verdere verslag van die spanbestuur wag voordat daar oor die volgende stappe besluit word. “Daar word van alle spelers verwag om hierdie voorskrif vir die oorblywende wedstryde van die Wêreldbeker te volg.”
Volgens AfriForum is die KSA-raad se besluit ’n buitemagtige misbruik van gesag. Ronald Peters, AfriForum se bestuurder vir sport, sê hierdie besluit sal beslis nie die grondwetlike toets in die hof deurstaan nie, aangesien dit heelwat regte skend wat deur die Grondwet beskerm word.
“Hierdie regte sluit in die reg op gelykheid en die reg om nie onbillik teen iemand te diskrimineer nie, die vryheid en sekuriteit van die persoon, vryheid van godsdiens, oortuiging en mening, vryheid van uitdrukking, vryheid van assosiasie en die reg om politieke keuses te maak.”
AfriForum sê hulle ondersteun die standpunt wat Quinton de Kock ingeneem het om op te staan vir sy regte en die reg om te kan besluit watter inisiatiewe hy wil ondersteun.
“Ons ondersteun verder hierdie besluit omdat die standpunt wat KSA in hierdie geval ingeneem het, onregverdig is en verskeie menseregte skend.”
Baie top-atlete van baie verskillende nasionale, rasse en kulturele agtergronde het volgens AfriForum hulle redes verskaf waarom hulle weier om die knie te buig. “Baie mense wat voorheen die knie gebuig het, het onlangs besluit om dit te staak. Hulle redeneer dat die gebaar nie meer kragtig is nie omdat almal dit doen en dat werklike verandering stadig plaasvind of dat niks verander nie.”