Krisis in Oekraïne wek kommer oor gastoevoer
Dreigende optrede van die Weste teen Rusland kan daartoe lei dat Rusland sy gastoevoer na Wes-Europa afsny. Om dié moontlikheid te voorkom het die Nederlandse ministerie van ekonomiese sake aangedui dat hy met sowat 60 maatskappye hieroor in gesprek wil tree.
Een van die noodsituasies sou kon wees dat groot gasverbruikers, soos Tata Steel, tydelik sonder gas sal moet klaarkom of aansienlik minder sal moet gebruik, berig die NOS.
Daar heers egter kommer oor hoe om ingewikkelde installasies op ’n veilige manier van gas te ontkoppel. Een so ’n maatskappy, Glasfabriek O-I, sê: “Wij kunnen onze productie stoppen, mensen naar huis sturen, maar de ovens kunnen we niet uitzetten. Het probleem is dan dat het glas daarin stolt en je de oven daarna nooit meer kunt gebruiken.” Lede van die Vereniging voor Energie, Milieu en Waters sê egter hulle is bereid om in geval van ’n krisis hul gasverbruik te verminder.
Kommer uit Groningen
Nederlandse gasvelde in Groningen is al jare lank die onderwerp van omstredenheid. Die gebied word die afgelope paar jaar deur aardbewings geteister as gevolg van die gasontginning, wat skade van miljoene euro aan wonings en infrastruktuur teweegbring. Die regering het voorheen beloof om die gaskraan toe te draai om die skade te beperk, maar onlangs het Duitsland weer gevra dat Nederland meer gas moet lewer ingevolge kontrakte wat lank reeds opgestel is. Indien die gastoevoer vanuit Rusland onderbreek word, sal daar verdere druk op die regering wees om die ontginning van gas in Groningen te verhoog. Die minister van klimaat en energie, Rob Jetten, sê egter die kans dat die Groningengasveld in geval van ’n krisis benut sal word, is gering, omdat Nederland nog genoeg gas op voorraad het, berig die NOS.
Storm Corrie saai verwoesting
Die eerste storm van 2022 het Maandag behoorlik vir konsternasie gesorg. Die storm is vernoem na die 83-jarige Corrie van Dijk, die eerste vroulike meteoroloog by die Koninklijk Nederlands Meteorologisch Instituut, die KNMI.
Op verskeie plekke in die land is paaie weens gevaarlik sterk wind gesluit. Op die A5-snelweg naby Schiphol is die pad gesluit nadat ’n vragmotor vermoedelik weens die wind omgeslaan het.
Verskeie vlugte is gekanselleer, en die vlieëniers wat dit gewaag het, moes behoorlik spook om hul vliegtuie veilig te land (sien video hier).
Landen lukt niet altijd bij storm #Corrie Doorstart #Schiphol #Buitenveldertbaan pic.twitter.com/PCz06e7Kuq
— Pim Sedee (@PimSedee) January 31, 2022
Storm #Corrie gaat over het land.. Al diverse doorstarts op @Schiphol .. pic.twitter.com/8Htc5vpohi
— Ton | #SamenSterk (@TonvanderToolen) January 31, 2022
Sommige COVID-19-toets- en -inentingsterreine is uit voorsorg gesluit.
In die omgewing van Den Haag het die wind ook vir drama gesorg, met verskeie bome wat omgewaai het.
In die stranddorp Scheveningen het ’n dak van ’n kuierplek afgewaai en verskeie plekke langs die promenade het oorstroom of ander skade opgedoen.
#hoogwater jachtclub Scheveningen #Corrie pic.twitter.com/Ne5XHH2Shl
— stormieday (@stormieday2) January 31, 2022
En nog een mooie vanaf de Pier. Wat een kracht! #scheveningen #denhaag #storm #StormCorrie #corrie pic.twitter.com/st9K2NDUDi
— Marc Wurfbain 🦀 (@WurfTwain) January 31, 2022
Boom valt op autos Neptunusstraat Scheveningen, deze raken zwaar beschadigd #storm #Corrie pic.twitter.com/UdvKrrZLNR
— DTpersfoto (@DTpersfoto) January 31, 2022
Ook naby Den Haag in Voorburg is verskeie bome ontwortel en het dit in mense se tuine beland.
Die bekende Oosterscheldekering, ’n onderdeel van die Deltawerke, is ook uit voorsorg gesluit om oorstromings te voorkom.
Vanwege de actuele weersomstandigheden rondom #storm #Corrie sluiten we de #Oosterscheldekering. 🌊 Met één druk op de knop gaan om 10:25 alle 62 schuiven naar beneden: https://t.co/Hd5Vih4qe0 pic.twitter.com/q14ZcWgxPx
— Rijkswaterstaat (@Rijkswaterstaat) January 31, 2022
Die grootste drama van die dag was toe die Duitse vragskip Julietta D tydens die storm losgekom het van sy vasmeerplek in IJmuiden en teen ’n olietenkskip gebots het. Die Julietta D het ’n gat in sy romp opgedoen, wat veroorsaak het dat water by die masjienkamer ingestroom het. Die 18 bemanningslede is na veiligheid gebring terwyl die skip in die see rondgedobber het. Dit is nie bekend of die olietenkskip enige skade gely het nie, berig die NOS.
Ná die botsing met die olietenkskip, het die vragskip ook nog teen die fondament van ’n transformatorplatform van ’n windpark in die see gebots. Die skade aan die transformatorplatform is nog nie vasgestel nie.
Die skip is intussen op sleeptou na die Rotterdamse hawe geneem vir herstelwerk. Daar was geen vrag aan boord nie.
Suid-Afrikaners weer welkom in Nederland sonder kwarantyn
Vanaf afgelope Sondag hoef Suid-Afrikaners nie meer in kwarantyn te gaan by hul aankoms in Nederland nie. Reisigers moet hul egter steeds voor die reis laat toets. Die versoepeling geld ook vir reisigers uit ander lande in Suider-Afrika.
Sedert 26 November het daar in die hele Europese Unie ’n reisverbod jeens lande in Suider-Afrika gegeld nadat Suid-Afrika bekend gemaak het dat ’n nuwe uiters besmetlike variant van die koronavirus in die streek ontdek is. Die EU het die verbod op 10 Januarie opgehef, maar die streek is steeds as ’n gebied met ’n uiters hoë risiko bestempel. Vanaf Sondag word die streek egter net as ’n hoërisikogebied beskou. Ander gebiede, soos die Britse Maagde-eilande, word nou weer as uiters hoë risiko’s bestempel. Reisigers uit sulke lande moet dus eers in kwarantyn gaan as hulle Nederland binnekom.
Versoepelinge in die Lae Lande
Die aanpassing in die reisvoorwaardes volg kort op die hakke van versoepelinge wat in Nederland en België aangekondig is.
Nederlanders mag weer vir die eerste keer sedert middel-Desember ’n drankie in ’n kroeg gaan drink en wel tot 10-uur saans. Dit geld ook vir restaurante, teaters en bioskope. Skole is ook weer oop.
In België het Vrydag ook ’n versoepeling in die maatreëls ingetree. Dié land het ’n nuwe “koronabarometer” ingevoer, bestaande uit drie kleure. Geel geld vir wanneer daar minder as 65 nuwe opnames in hospitale is en minder as 300 pasiënte in die waakeenheid behandel word. Vir oranje moet daar nie meer as 149 hospitaalopnames en 500 pasiënte in die waakeenheid per dag wees nie. Kode rooi beteken meer as 150 opnames in hospitale per dag en meer as 500 pasiënte in die waakeenheid. Na gelang van die stand van die barometer word die maatreëls verskerp of versoepel, berig VRT NWS.
Grootste seesluis ter wêreld open in IJmuiden
Zeesluis IJmuiden soos dit bekend staan, is verlede Woensdag amptelik deur koning Willem-Alexander geopen. Kort ná die opening het die Koning nog met ’n paar betrokkenes by die projek gesels. Weens die inperkingsmaatreëls was lede van die publiek nie by die geleentheid aanwesig nie.
Die sluis is 500 m lank, 70 m breed en 18 m diep. Die nuwe sluis vervang die Noordersluis uit 1929 en maak dit nou moontlik dat nóg groter skepe na die hawe van Amsterdam kan vaar. Bouwerk aan die sluis het in 2016 begin. Weens ’n konstruksiefout het die werk 27 maande langer geduur as wat dit moes en aansienlik meer geld gekos.
De Koning opent Zeesluis IJmuiden, de grootste zeesluis ter wereld. De zeesluis vervangt de Noordersluis uit 1929 en laat toe dat schepen getijdeonafhankelijk het sluizencomplex IJmuiden vlot en veilig kunnen passeren. https://t.co/UYdiVVsWvB pic.twitter.com/9IsHHpJKl3
— Koninklijk Huis (@koninklijkhuis) January 26, 2022
Hier gaat mijn hart sneller van kloppen. De grootste zeesluis ter wereld is vandaag in IJmuiden geopend. Felicitaties aan alle betrokkenen die dit mogelijk hebben gemaakt waaronder @MinIenW en @Rijkswaterstaat. Technisch hoogstandje om trots op te zijn! #openingzeesluisIJmuiden pic.twitter.com/MUrBZf1tmH
— Jan Hendrik Dronkers (@DronkersJH) January 26, 2022
Prinses Beatrix verjaar
Prinses Beatrix, die voormalige koningin, het Maandag haar 84ste verjaardag gevier. Geen besonderhede oor ’n moontlike verjaardagfees is bekend gemaak nie. Op die oomblik mag ’n mens in Nederland slegs vier gaste by die huis ontvang.
Die koningshuis was tydens die pandemie gereeld in die nuus oor die nienakoming van inperkingsmaatreëls.
So het die koningsgesin in Oktober 2020, kort ná ’n perskonferensie van premier Mark Rutte waarin hy die bevolking versoek om nie tydens die herfsvakansie te reis nie, met ’n staatsvliegtuig na hul vakansiehuis in Griekeland vertrek – iets wat groot ontevredenheid onder die publiek veroorsaak het.
Kroonprinses Amalia was ook verlede jaar op haar 18de verjaardag in die sop toe daar heelwat meer mense by haar verjaardagviering opgedaag het as wat die inperkingsmaatreëls toegelaat het.
Prinses Beatrix het verlede jaar tydens ’n besoek aan Curaçao positief vir COVID-19 getoets en het kleindogter Amalia se verjaardag virtueel bygewoon.
Die koningshuis het wel bekend gemaak dat prinses Beatrix Donderdag vergesel deur haar seun, prins Constantijn en sy vrou, prinses Laurentien, ’n konsert in die Amare-konsertsaal in Den Haag gaan bywoon.
Daar word verwag dat sy ook Sondag ’n herdenkingskonsert van Bernard Haitink in die Concertgebouw in Amsterdam sal bywoon.
Prinses Beatrix viert vandaag haar 84ste verjaardag. https://t.co/fmakWU21N6 pic.twitter.com/Ceyb78ifWW
— Koninklijk Huis (@koninklijkhuis) January 31, 2022
/p>