Kroeë en kerke weer oop, maar hofsake gaan voort

  • 0

Suid-Afrikaners het Dinsdag gejuig omdat hulle weer hul glase kan opvul nadat president Cyril Ramaphosa Maandagaand die gedeeltelike heropening van plaaslike drankverkope aangekondig het.

Hoewel kroeë en kerke, onderhewig aan sekere beperkings, weer oop is, gaan nie-regeringsorganisasies voort met hofsake teen die regering se alkoholverbod en die sluiting van kerke tydens die nasionale inperking.

Die wynlandgoed, Jordan Wine Estate, het getwiet hulle is in die wolke oor die opheffing van die verbod en ’n video met juigende werkers en wyndrinkers, wat almal uit hulle vel is van blydskap, op Twitter gedeel.

Die toerismebedryf het ook die opheffing van die verbod op die verkoop en vervoer van alkohol, asook die verkorting van die aandklokreël, verwelkom.

Die wynbedryforganisasie, Vinpro, en die organisasie Freedom of Religion het albei gesê ondanks Ramaphosa se aankondiging Maandagaand oor wysigings aan byeenkomste vir geloofsgroepe en die alkoholverbod, gaan hulle steeds hof toe. Die organisasies het albei vertoë tot die hof gerig om die regering se beleid daaroor nietig te verklaar en wil graag regsekerheid hê.

Vinpro sê in ’n verklaring daar word as prioriteit voortgebou op verskeie aksies waarvoor die organisasie hom oor die afgelope tien maande beywer het. “Ons moet eerstens verseker dat ons bedryf nie weer landswyd soos ’n ligskakelaar aan- en afgeskakel word deur die regering ongeag verskille in die Covid-19-status in die onderskeie provinsies nie.”

Wynbesighede kon sedert Maart 2020 reeds vir twintig weke altesaam geen inkomste uit plaaslike wynverkope verdien nie, wat tot ’n algehele verlies van meer as R8 miljard uit plaaslike verkope gelei het en steeds ’n bedreiging vir die voortbestaan van kelders, wyndruifprodusente en die lewensbestaan van 27 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting inhou.

“Die oopstel van wynverkope vir tuisverbruik van Maandag tot Donderdag, asook wynkelders vir verbruik in restaurante en proelokale regdeur die week en oor naweke, sal help om van ons plaaslike wynverkope terug te bring na meer volhoubare vlakke,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Hoewel ons bly is dat besighede weer ’n inkomste kan verdien, lê ’n baie lang en moeilike herstelpad vir wynverwante besighede voor en is dit selfs vir sommige besighede te laat.”

Vinpro sê in hul verklaring daarom sal hulle voortgaan met die aansoek, wat op 27 Januarie 2021 by die Kaapse Hooggeregshof ingedien is, om tussentydse regshulp aan te vra wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landswye verbod af te wyk om die verkoop van drank op persele en vir tuisverbruik in die Wes-Kaap moontlik te maak. Soortgelyke verligting met betrekking tot die ander provinsies sal versoek word.

“Covid-19 bly egter ’n ernstige realiteit wat die lewens en lewensbestaan van Suid-Afrikaners in gevaar stel. Ons as bedryf verbind ons daartoe om steeds voorkomende maatreëls van plaasvlak tot kleinhandel proaktief te implementeer om werknemers, verbruikers en breër wynbedryfgemeenskappe te beskerm. Ons bly ook deelneem aan gesprekke rondom ’n risiko-aangepaste benadering om die ekonomie verder oop te maak en oop te hou,” sê Basson.

Vinpro sê hulle bly toegewy om ’n sosiale ooreenkoms te finaliseer wat ander drankbedrywe, die regering en burgerlike samelewing insluit, om saam meer volhoubare oplossings vir maatskaplike probleme rondom alkoholmisbruik te vind en gedrag oor die langtermyn te verander. “Vinpro en ons lede beywer ons vir die verantwoordelike verbouing, produksie, bemarking, verkoop en verbruik van ons produkte, waarvoor ons wêreldwyd erkenning ontvang het,” sê Basson.

“Ons sal ons steeds tot die regering wend vir finansiële verligting om die lewensbestaan van ons 533 wynkelders, 2 778 wyndruifprodusente en 269 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting te beskerm,” sê Basson.

Die uitvoerende hoof van Freedom of Religion, Michael Swain, het volgens die SAUK gesê die verbod op kerkbyeenkomste kom neer op onregverdige diskriminasie teen die geloofsektor en mense se regte. Swain sê hoewel die aansoek nie meer dringend is nie, wil hulle dit ’n toetssaak maak ook vir toekomstige soortgelyke besluite gegrond op wetenskaplike bewyse.

  • 0
Top