Krugerwildtuin se renosters op groot skaal afgemaai

  • 0

Suid-Afrika se wêreldbekende Krugerwildtuin het in minder as twee jaar sowat 12 persent van sy renosterbevolking verloor. Meer as 350 renosters is in dié tyd deur renosterstropers afgemaai.

Dié skokkende syfers is die afgelope week in die parlement bekend gemaak in antwoord op ’n vraag van die DA.

Die DA se skaduminister van bosbou, visserye en die omgewing, Dave Bryant, sê die DA is diep bekommerd oor die voortgesette afname in die getalle van renosters in die Krugerwildtuin. Hy het ’n beroep op die regering gedoen om sy bewaringspogings op te skerp.

Die Krugerwildtuin word bestuur deur Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke), ’n entiteit wat onder die nasionale Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing val.

In antwoord op ’n vraag van Bryant in die parlement se portefeuljekomiteevergadering blyk dit dat die renosterbevolking afgeneem het van 2 809 aan die einde van 2020 tot 2 458 tans. Hierdie statistieke is in skrille kontras met die bewerings dat die regering se pogings teen stropery in die Krugerwildtuin voldoende is om die huidige stropery-epidemie te hanteer, het Bryant in ’n verklaring gesê.

Suid-Afrika is die tuiste van byna 80 persent van die wêreld se renosters. Dit is egter ook ’n brandpunt vir renosterstropery wat aangedryf word deur die aanvraag uit Asië, waar horings in tradisionele medisyne gebruik word vir hul veronderstelde terapeutiese effek.

Statistieke van die Save the Rhino-webwerf meld dat minstens een renoster elke dag doodgemaak word. Hoewel Suid-Afrika die meerderheid van die wêreld se renosters het, is dit ook die land is wat die swaarste deur stropers getref word.

Renosterbevolkings is volgens die webwerf op ’n kantelpunt en daar kan nie bekostig word dat nog renosters gestroop word nie. Volgens die webwerf moet alles moontlik gedoen word om oorblywende bevolkings te beskerm en om hul getalle te help toeneem.

Volgens onlangse renosterstatistieke het die renosterbevolking in die Krugerwildtuin met ’n verbysterende 60 persent afgeneem sedert 2013. Volgens Sanparke is daar net 3 529 witrenosters en 268 swartrenosters in die Krugerwildtuin oor. Veldwagters het ook al hulle frustrasie teenoor die media uitgespreek omdat die howe so lank neem om vermeende renosterstropers wat in hegtenis geneem is te vervolg. Baie gaan vry op borgtog, en pleeg dan net weer dade van renosterstropery.

Verlede maand het die ministerie van omgewingsake gesê 259 renosters is in die eerste ses maande van 2022 regoor Suid-Afrika vir hul horings gestroop.

Barbara Creecy, die minister van omgewingsake, het gesê stropers beweeg toenemend weg van die Krugerwildtuin na private reservate. Van die 69 mense wat vir stropery en renosterhoringhandel in hegtenis geneem is, is 13 in die Krugerwildtuin gevang.

In Augustus het die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) gesê hoewel  stroperysyfers regoor Afrika afneem, die oorlewing van die renoster in groot gevaar bly.

Die DA het vroeër vanjaar onthul dat 87 veldwagtersposte in die Krugerwildtuin nog nie gevul is nie. Die afgelope week is dit egter bevestig dat Sanparke hierdie poste wel teen die einde van hierdie boekjaar sal vul. Die DA sê hulle verwelkom hierdie stap en sal Sanparke tot verantwoording roep. “Dit is ook bemoedigend dat daar gehoor gegee is aan ons herhaalde oproepe vir samehangende poligraaf- en integriteitstoetsing en dat ’n verslag later vanjaar vir bekragtiging na die Sanparke-raad gaan,” het Bryant gesê .

Hy sê hierdie stappe sal nie op hul eie genoeg wees nie. Die DA het weer ’n beroep op die regering gedoen om sy woord gestand te doen en die begroting wat vir bewaringspogings voorsien word, drasties te verhoog. Tydens die afgelope week se portefeuljekomiteevergadering het Sanparke-amptenare by komiteelede gepleit vir verhoogde begrotings vir bewaring en hy wil minister Creecy versoek om hierdie pleidooie in ag te neem, het Bryant gesê.

 

  • Lokfoto deur Pete Ball van Pixabay; enige inligting rakende die ligging is bewustelik verwyder.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top