Kuberaanvalle en bedrog via die internet kos die land elke jaar miljarde rand, en internetkenners sê datalekkasies neem teen kommerwekkende koerse toe.
Dit is nie net Jan Alleman wat daardeur geraak word nie. Staatsinstansies is ook die slagoffers van hierdie kubermisdade.
Onlangse kuberaanvalle op kritieke nasionale infrastruktuur soos die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens en Transnet het volgens mediaberigte die kwesbaarheid van Suid-Afrika se instellings vir kuberbedreigings getoon.
Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) het vroeër vanjaar bevestig dat hulle ’n inligtingstegnologie- (IT-) sekuriteitsbreuk ervaar het weens ’n kuberaanval en dat hulle stelsels en infrastruktuur in die gedrang was.
Die DA sê hulle is diep bekommerd oor onlangse verslae van ’n internasionale kuberkrakergroep met die naam N4aughtysecGroup, wat gedreig het om Sassa-data vry te stel wat verkry is deur kwesbare rugsteuntoegang binne die maatskaplike toelaestelsel.
IT-Web berig dat die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur ook onlangs aansienlike finansiële verliese as gevolg van kubermisdaad aangekondig het, met ramings wat oor die afgelope drie jaar R300 miljoen bereik het.
Kuberaanvalle op staatsinstellings vind meer gereeld plaas en raak ook al hoe meer gesofistikeerd, wat ’n bedreiging vir nasionale veiligheid inhou.
Van die internasionale kuberkrakers spog daarmee dat hulle voorheen R175 miljoen van Sassa gesteel het en sodoende geld van arm en kwesbare burgers geneem het.
Die DA se adjunkwoordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, Alexandra Abrahams, sê in ’n verklaring dit beklemtoon weer eens dat bedrog en korrupsie nie ’n "mite of propaganda" is soos deur die ANC beweer is in die onlangse parlementêre debat oor voortdurende bedrog en korrupsie by die entiteit nie, maar ’n kwessie wat die regering ernstig moet opneem.
Abrahams sê bedrog en korrupsie is sinoniem met Sassa. Die vinnige ontwerp van stelsels soos die SRD-R370-toelae-aansoek- en -betalingstelsel haal hulle nou in en kos die entiteit, belastingbetalers en kwesbare Suid-Afrikaners honderde miljoene rande, wat deur bedrieërs afgestroop word.
Sassa sal na verwagting op 27 November 2024 hulle verslag aan die parlement voorlê nadat hulle vir ’n 30-dae-verlenging gevra het om hul ondersoek na die beweerde SRD-R370-toelae-bedrog wat deur twee studente van die Universiteit Stellenbosch ontdek is, af te handel.
Die DA het sy oproepe herhaal vir:
- die prioritisering van befondsing en bekwaamheid van die onafhanklike Inspektoraat vir Maatskaplike Bystand soos beoog in hoofstuk 4 van die Wet op Maatskaplike Bystand
- die bedanking van Sassa se uitvoerende hoof en dat die leierskap van hierdie entiteit aanspreeklik gehou moet word
- ’n onmiddellike ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid na die voortdurende bedrog en korrupsie by die entiteit wat nie deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling of Sassa self ondersoek kan word nie
- ’n volledige oorsig van die SRD-R370-stelsel.
Volgens Abrahams word daar dringende modernisering en versterking van die IT-sekuriteit by Sassa benodig, asook betaling en biometriese verifikasiestelsels. Daar moet ook werklike gevolge wees met boetes en tronkstraf.
Die DA sê hierdie misdadigers, of hulle nou binne die regering is of nie, hoort in die tronk.
Die DA het reeds sy Cyber Commission Bill aan die parlement bekendgestel wat daarop gemik is om ’n nuwe hoofstuk 9-instelling op die been te bring wat toegewy is aan die regulering van kuberveiligheid in Suid-Afrika.
Die party sê in die nuwe digitale era, en veral in die lig van die voortdurende krisis by Sassa en vorige mislukkings deur staatsdepartemente om mense se persoonlike data voldoende te beskerm, moet daar verseker word dat staatsinstellings bekwaam en in staat is om hierdie nuwe bedreigings die hoof te bied.
“Ons moet verseker dat Sassa-begunstigdes opgevoed en goed ingelig is deur middel van breë bewusmakingsveldtogte oor hoe om hulself teen bedrog te beskerm en kanale om bedrog en korrupsie aan te meld.”
Volgens die DA is die belangrikste dat daar ’n politieke wil nodig is om korrupsie uit te roei.