Kunsroof, ’n stinkstorie oor stikstof en die koning ry trein

  • 0
Twee Belge vas vir kunsroof in Maastricht

Vier rowers het Maandag helder oordag ’n kunsbeurs in Maastricht beroof. Die misdadigers het voor die oë van omstanders en veiligheidspersoneel ’n vertoonkas van die Tefaf-kunsbeurs vol juwele stukkend geslaan, die juwele gebuit en op die vlug geslaan. Die voorval het Maandag om 11.30 gebeur.

Twee van die vier verdagtes, albei Belge, 22 en 26 jaar oud, is intussen aangekeer. Die ander twee is nog op vrye voet.

Die NRC Handelsblad berig dat ’n halssnoer van €27 miljoen onder die gesteelde goedere tel.

Besoekers vertel dat sekuriteit onvoldoende was. Tefaf weerspreek egter die bewering en sê veiligheidspersoneel het vinnig en akkuraat opgetree en die polisie was binne enkele minute op die toneel.

Betogende boere maak amok

Nederlandse boere is woedend oor die kabinet se stikstofbeleid wat bepaal dat boere tussen 12% en 95% van hul stikstofproduksie moet inkort afhangend van waar hul boerdery geleë is. Dit beteken vir heelwat boere die einde van hul ondernemings.

Boere het Maandag vir die soveelste keer die strate ingevaar uit protes teen die nuwe beleid. Snelweë is gesluit weens brandende hooibale terwyl boere na die parlement in Den Haag opgeruk het met trekkers en selfs vee.

Premier Mark Rutte het tydens ’n nuuskonferensie gesê hy begryp dat die stikstofbeleid ernstige gevolge vir die landbou het, maar die versperring van snelweë vind hy gevaarlik en onaanvaarbaar.

Intussen het betogende boere weer by minister Christianne van der Wal se huis byeengekom, deur ’n polisieversperring gebars en landboumis voor haar huis gestrooi.

Tornado saai verwoesting

Minstens een persoon is dood, nege mense beseer en 150 huise beskadig toe ’n tornado deur Zierikzee in die provinsie Zeeland getrek het. Sommige huise is so ernstig beskadig dat hulle vir die volgende paar maande nie bewoonbaar sal wees nie. Alternatiewe huisvesting is aan die inwoners gegee, berig die NOS.

Burgemeester Jack van der Hoek het op ’n mediakonferensie sy waardering uitgespreek teenoor almal wat slagoffers van die tornado bygestaan het. “De impact op onze gemeenschap is groot. Toen ik de getroffen wijk in ging, zag ik buren met hun armen om elkaars schouders. Het zegt iets over de hechtheid van onze gemeenschap.”

Opnuut merkbare styging in COVID-19-besmettings in Nederland en België

Die nuwe golf van COVID-19-besmettings het opnuut die druk op hospitale in die Lae Lande laat styg. In Nederland is daar verlede week 437 pasiënte in hospitale vir COVID-19 opgeneem. Dit is die hoogste styging sedert April. Die styging is veral merkbaar in die gewone sale, maar ook die waakeenhede is besiger as ’n maand of twee gelede.

VRTNWS berig dat daar in België meer as 100 hospitaalopnames per dag van mense met COVID-19 is. Volgens syfers van die Belgiese instituut vir volksgesondheid, Sciensano, word daar op die oomblik sowat 4 000 nuwe gevalle per dag in België aangeteken. Die styging in nuwe infeksies word toegeskryf aan nuwe variante van Omikron wat inentings en opgeboude immuniteit kan omseil.

Een ligpunt is dat dit blyk dat die nuwe variante mense nie sieker maak as vorige variante nie.

Die Nederlandse RIVM sê ongelukkig sal daar altyd mense wees wat siek genoeg raak om in die hospitaal te beland.

Nederlandse koningspaar besoek Oostenryk

Koning Willem-Alexander en koningin Máxima het die afgelope week vir ’n staatsbesoek in Oostenryk aangekom. Hulle het onder andere Wene en Graz besoek.

Die koningspaar is ontvang deur die Oostenrykse minister van buitelandse sake, Alexander Schallenberg en die Nederlandse ambassadeur in Wene, Aldrik Gierveld. Bondspresident Alexander van der Bellen het as gasheer van die koningspaar opgetree.

Op die agenda was ’n kranslegging van Holocaust-slagoffers, afgerond deur ’n staatsbanket in die museum Schloss Belvedere. Verder het die koningspaar vlugtelinge uit Oekraïne besoek, asook kulturele instellings soos die Nasionale Biblioteek en die Natuurhistoriese Museum.

Die koningspaar het die dag afgesluit deur saam met die Oostenrykse bondspresident ’n konsert van die Nederlandse Kamerkoor in die Weense Konsertsaal by te woon.

Op die laaste dag van hul reis het die koning en koningin per trein na Graz vertrek vir gesprekke oor volhoubaarheid en innovering.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top