KZN vloedhulp wemel van ongerymdhede

  • 0

Slegs ’n druppel van die geld wat bewillig is vir die vloedslagoffers vroeër vanjaar in KwaZulu-Natal (KZN) en die Oos-Kaap, is reg bestee om noodsaaklike verligting te bring.

Van die R342 miljoen voorwaardelike toelaes en ramphulptoelaes wat vir tydelike wooneenhede opsy gesit is, het KZN minder as 10% van die fondse reg bestee.

Die ouditeur-generaal (OG), Tsakani Maluleke, het in ’n verdoemende verslag wat die afgelope week bekend gemaak is, bevind dat slegs 6% van noodlenigingsfondse vir KZN-vloedslagoffers bestee is. Die OG se span het ook bevind dat 83% van gemeenskappe in die metro aangedui het dat hulle vir ten minste een dag nie water ontvang het nie, en 57% vir meer as drie dae sonder water was.

President Cyril Ramaphosa het die OG se kantoor na die rampspoedige oorstromings in albei provinsies versoek om ’n oudit oor die vloedhulpfondse te doen. Hulle moes vasstel of dit vir die regte doeleindes gebruik is. Sy besluit het gekom weens wydverspreide openbare kommer dat die hulpbronne wat toegeken is om die ramp te hanteer, wanbestee of vermors is.

Meer as 450 mense is in April vanjaar tydens die oorstromings dood. Sowat 40 000 mense is in KZN alleen dakloos gelaat.

Die OG het bevind dat kontrakte verskeie kere aan maatskappye toegeken is wat bande het met werknemers of hul gades wat vir die staat werk. Kwotasies is ontvang nadat kontrakte begin is, kwotasiebedrae het gemagtigde bedrae oorskry, kontrakwaarde is onderverdeel aan dieselfde diensverskaffer en kontrakte is aan maatskappye toegeken wat nie op die regering se databasisse is nie.

Die OG sê in haar verslag die tydelike wooneenhede wat aan ontheemde gesinne verskaf is, het ook nie aan die nodige vereistes voldoen nie. Van die eenhede wat deur die OG geïnspekteer is, was almal defektief, nie volgens spesifikasie gebou nie en het tekens van swak vakmanskap getoon.

Maluleke het ’n beroep op alle regeringsvlakke gedoen om dringend hul interne beheermaatreëls en rampbestuurvermoëns op te skerp.

Sy sê die verslag is spesifiek daarop gemik om die parlement en die provinsiale wetgewers in KZN en die Oos-Kaap, te bemagtig, asook die rol wat die rade van die betrokke munisipaliteite speel in hul toesighoudende rol as verteenwoordigers van die mense wie se lewens erg deur die vloede geraak is.

Sy sê selfs die beste ramp-aksieplanne sal ernstig daaronder ly as die swakhede wat in haar verslag uitgewys word, nie ernstig aangespreek word nie.

Maluleke sê in tye van rampspoed kyk burgers op na die regering vir humanitêre verligting, die herstel van dienste, die verskaffing van behuising, en die herbou van infrastruktuur.

“Enige rampreaksie vereis dringende en goed gekoördineerde optrede deur die nasionale, provinsiale en plaaslike regering en deur die kontrakteurs wat hulle aanstel. ’n Noodgeval verskoon nie die gebrek aan aanspreeklikheid vir die fondse wat gebruik word, die kwaliteit van diens, of die waarde wat daaruit verkry word vir die geld wat bestee word nie.’’

Die DA sê in hulle reaksie die verslag onthul dat, ondanks die beloftes wat deur die regerende party gemaak is, dit duidelik is dat dieselfde korrupte neigings voortduur.

“Dit is asof die ANC-beheerde departemente hulself eenvoudig nie kan verhelp nie.”

“Hierdie fiasko is in kontras met die Wes-Kaapse Rampsentrum, wat obsessief maande en jare vooruit beplan vir elke moontlike gebeurtenis om te verseker dat hulle gereed is vir enige noodgeval of krisis,” sê DA-woordvoerder Tim Brauteseth in ’n verklaring.

Die DA lê die skuld vir die groot dodetal tydens die ramp voor die deur van “die onbekwame en onbevoegde KZN-regering” en sê hulle sal nie rus totdat daar aanspreeklikheidsmaatreëls ingestel is nie.

Die OG se volledige verslag kan hier gelees word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top