Laaste kommentaar vir Afrikaans by Universiteit Stellenbosch ingedien

  • 0

Die studenteorganisasie AfriForum Jeug eis in ’n skrywe aan Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), dat beide Afrikaans en Engels ten volle as voorgraadse onderrigtale aan die universiteit gebruik word.

Die organisasie sê die US se voorgestelde taalbeleid van meertaligheid is slegs lippetaal.

Die skrywe deur Afriforum Jeug is die afgelope Saterdag op Afrikaanse Taaldag aan die rektor gestuur, dieselfde dag waarop die sperdatum verstryk het waarop kommentaar ingedien kon word oor die voorgestelde tweede weergawe van die US-taalbeleid.

Die Taalbeleid (2016) van die US word tans hersien. Dit is deel van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word. Artikel 10 van die Taalbeleid (2016) bepaal dat die beleid “verval vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan" en dat dit “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien [moet] word". Die huidige beleid het in 2017 in werking getree.

Volgens die Statuut van die US moet die raad die taalbeleid van die US bepaal met die instemming van die senaat en ingevolge artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys. Die hersieningsproses is in Oktober 2020 geïnisieer deur ’n taakspan saam te roep en deur ’n tydsraamwerk gegrond op die universiteitsalmanak vir 2021 op te stel. Die doelwit is om op 2 Desember vanjaar ’n finale konsep van die Taalbeleid (2021) aan die universiteitsraad voor te lê vir goedkeuring.

AfriForum Jeug sê in ’n verklaring hulle is ook van mening dat indien die behoefte daar is, ’n addisionele taal vir onderrigdoeleindes ingestel kan word, soos die Nama-, San- en Khoi-tale. Xhosa is ook ’n moontlikheid wat ondersoek kan word indien die behoefte ontstaan. Kommentaar op die beleid se tekortkominge word ook in AfriForum Jeug se dokument gelewer.

“Die beleid is op so manier opgestel dat indien die US slegs twee vakke in Afrikaans aanbied, die US steeds volgens sy eie reëls hulself as meertalig kan beskryf,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug. “Daar is geen praktiese oplossings, doelwitte of mikpunte in die US se taalbeleid nie, maar dit dien slegs as lippetaal vir diegene wat nie die dokument self lees nie. [...]

“Die herhaalde gebruik van die woord ‘funksioneel’ voor sekere ondernemings en terme, is ’n duidelike aanduiding dat die US vir hulself ruimte los om enige vorm van Afrikaans uit te faseer sonder om hulle eie of die Departement van Hoër Onderwys se wette of reëls te oortree,” sê Pieters.

Hoewel die universiteit se taakspan moeite gedoen het om aan te toon dat kommentaar wat op die eerste weergawe van die beleid gelewer is, in ag geneem en selfs dikwels in die tweede konsep gebruik is, beskou AfriForum dit nie as enige bewys van ’n sterk verbintenis tot die beskerming en bevordering van Afrikaans as medium van tersiêre onderrig nie.

In nóg ’n verklaring sê AfriForum op hulle webwerf die US se konseptaalbeleid bied weinig vir die toekoms van Afrikaans. “Hoewel Afrikaans darem nie meer deur die universiteit as ’nie inheems’ beskryf word in ooreenstemming met die onsinnige definisie in die beleid van die Departement van Hoër Onderwys nie, sou mens verwag dat universiteite hulle verbintenis tot Suid-Afrikaanse tale bewys deur in die onderskeie provinsies te sorg dat daar ten minste een instelling is waar ’n student ’n kwalifikasie volledig in sy of haar moedertaal kan behaal.”

In reaksie op die vraag wat die ideaal sou wees, het Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, geantwoord dat ’n openbare universiteit se verbintenis tot moedertaalonderrig die antwoord sou wees. “In die Wes-Kaap kan voornemende studente kies tussen verskeie openbare tersiêre onderriginstellings, maar by nie een van hulle kan ’n student onderrig vir ’n kwalifikasie volledig in Afrikaans kry nie, ten spyte daarvan dat sowat die helfte van die provinsie se inwoners Afrikaanssprekend is.

AfriForum moedig dosente en studente aan om enige geleenthede wat die finale taalbeleid van die US wel nog vir moedertaalonderrig sal skep, aan te gryp en steeds te eis dat hulle taalregte erken en uitgebrei word. Bailey meen Afrikaanssprekendes kan nooit die onverkwiklike posisie van hulle taal as noodwendigheid aanvaar nie, maar moet steeds voortgaan om meer ruimte daarvoor en vir ander inheemse tale te skep.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top