Verskeie organisasies is besig met ’n laaste poging om te keer dat die regering voortgaan met sy planne om grond sonder vergoeding te onteien.
Die landbou-organisasies Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI), AfriForum en Vrystaat Landbou (VL) het almal ’n beroep op die publiek gedoen om hulle in die stryd te ondersteun deur kommentaar teen die Onteieningswetsontwerp in te dien.
Die wetsontwerp is in Oktober 2020 gepubliseer en aan die parlement en die relevante komitees voorgelê om die grondwetlikheid en mandate daarvan te bespreek. Die publiek kon kommentaar oor die wetsontwerp indien tot die oorspronklike sperdatum van 10 Februarie vanjaar, wat intussen verleng is tot 28 Februarie.
AfriForum sê die geveg is nog lank nie verby nie, en daar kan nie nou bekostig word om momentum te verloor nie.
Volgens AfriForm se verklaring sit wetgewers tans met hul vingers op ’n rooi sneller wat die ekonomie sal vernietig, burgers genadeloos van hul eiendom sal ontneem sonder oorsig van die regbank, en die banksektor sal destabiliseer.
SAAI het ook die publiek versoek om beswaar aan te teken teen die onteieningswet. Hulle sê die land is tans in een van die mees verwoestende ekonomiese inploffings in die geskiedenis. “Staatsondernemings is afgegradeer na rommelstatus, toenemende staatskuld, groot aantal bankrotskappe van ondernemings, onttrekking van buitelandse beleggings en die hoogste werkloosheidsyfer ooit. Nou is nie die tyd vir verdere verdoemende wetgewing nie.”
Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, benadruk: “Die wetsontwerp is nie net beperk tot plase nie. Dit is van toepassing op alle soorte eiendom. Enige bewering dat die doel van die wetsontwerp is om die ‛onregte van die verlede’ reg te stel, moet verwerp word as suiwer propaganda. Die doel van hierdie wetsontwerp is om die regering onbeperkte mag te gee om iemand se eiendom te konfiskeer, so eenvoudig soos dit.”
Volgens AfriForum sal die deurvoer van die wet ’n vernietigende uitwerking hê op die lewens van alle Suid-Afrikaners ten opsigte van huiseienaarskap, voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit. “Verskeie dele van die wetsontwerp is ook ongrondwetlik. Die wetsontwerp se ‘Onteien nou, argumenteer later’-benadering kom daarop neer dat die regering die mag sal hê om eiendom te konfiskeer sonder oorsig van die regbank.”
Die organisasie moedig sy lede aan om hom te ondersteun in sy stryd deur kommentaar teen die onteieningswetsontwerp in te dien. AfriForum het ’n platform geskep om die indiening van kommentaar te vergemaklik. Dit word direk aan die parlement gestuur: https://www.onteiening.co.za/stop-onteiening-sonder-vergoeding.
Vrystaat Landbou (VL) sê die organisasie beskou die instelling van onteiening sonder vergoeding as ’n politieke en verkiesingsinstrument en nie as ’n billike en regverdige meganisme om eiendomsreg vir alle Suid-Afrikaners te verbreed en te versterk nie. “Uit die regering se geskiedkundige hantering blyk dit dat voorheen benadeelde individue nie grond sal besit nie, maar die regering sal slegs sy eie grondbesit vermeerder.”
VL se aanlyn petisie, wat meer agtergrondinligting gee, en die VL se aksieplan om sekere onaanvaarbare bepalings van die huidige wetsontwerp teë te staan, kan gesien word op https://vrystaatlandbou.co.za/stop-onteiening.
SAAI het ook die publiek genooi om hulle protesaksie teen die voorgenome wet te ondersteun en sê hulle sal die wysiging van die onteieningswet namens familieboere teenstaan. Hulle aanlyn veldtog teen die wet kan hier onderteken word.