Talle Suid-Afrikaners het die afgelope jare hulle geboorteland verlaat en baie oorweeg dit of droom daaroor. Elkeen het sy eie rede en landgenote bevind hulle wydverspreid oor die wêreld. Sommige is gelukkig oor die verhuising, ander minder. Uit terugvoer van emigrante blyk dit dat die emosionele band met jou geboorteland selde verbreek word. Duisende gesinne verbrokkel as gevolg van mense wat in die buiteland ’n beter toekoms soek. Internasionale lughawens is daagliks getuie van hartseer ouers en kinders wat dapper glimlag om die werklikheid te probeer verbloem dat die weersiens miskien eers oor ’n jaar of drie sal wees. Indien ooit.
Ek bevind my nou byna drie jaar in België en is nie meer so bewus van die stereotiepe beelde van lekker bier, sjokolade en Manneken Pis nie. Dié wat die land beter leer ken as die “if it’s Tuesday it must be Belgium” toeristiese besoeke, sal weet van die komplekse politiek, die taalopset, uitstekende voetbalspelers, fietsryers en kunstenaars en die fantastiese klassieke musiek en jazz. En moenie vergeet van bekendes soos Jacques Brel en Vaya Con Dios en dat die saksofoon hier deur Adolphe Sax ontwerp is nie.
Mense wat lees en deur die kennis van Afrikaans toegang tot die Nederlandse letterkunde het, sal ook weet dat hier ’n kulturele en literêre rykdom is waarvan ons in Suid-Afrika net kan droom. Die universiteite is van wêreldgehalte en deur die teenwoordigheid van die Europese Unie in Brussel kan hierdie klein landjie met 11 miljoen inwoners internasionaal saam met die groot honde blaf.
Besoekers uit Suid-Afrika, veral Afrikaanssprekendes, vind die sagter Vlaamse Nederlands bekoorlik en maklik om te verstaan. Dit is op voorwaarde dat dit standaard-TV-Nederlands is en nie een van die talle, byna onverstaanbare dialekte nie. Die meeste inwoners praat beide Vlaams en Frans, en dikwels ook Duits (die drie amptelike tale), terwyl die meeste jonger mense se Engels goed is. Die Belge had hul eie, minder goeie ervaring as koloniale heersers in Afrika. Tog is daar ’n besondere belangstelling in Suid-Afrika, en veral in Afrikaans. Dit fassineer hulle dat 17de-eeuse Nederlands in Afrika tot ’n moderne Germaanse taal met sy eie woordeskat, grammatika en letterkunde ontwikkel het.
Hier in Oostende, “Stad aan Zee”, waar ek die afgelope tyd woon, is die sangerige, kusdialek byna onverstaanbaar vir ’n Afrikaanse oor. Selfs nog meer as jy ná ’n kooroefening met vriende in ’n kroeg kuier. Ek woon graag hier. Oostende is nie te klein of te groot nie en het alles wat ’n stad kan bied. Jy kan die hele kuslyn van Nederland tot Frankryk per fiets aflê en ek kry my daaglikse adrenalieninspuiting deur voor sonsondergang kilometers langs die see af te ry. Afgesien van sy gewildheid as vakansiestad bied dit ook ’n oorvloed van teater, musiek en kuns. Dis die stad van skilders soos James Ensor en waar Hugo Claus sy eerste roman geskryf het. Deur sy lughawe, hawe en uitstekende openbare vervoer is die res van Europa binne maklike bereik.
Oostende se sandstrande
Hoekom woon ek hier? Wil ek eerder hier as in Mouillepunt in Kaapstad bly waar ek die voorafgaande 11 jaar gewoon het?
My verbintenis met België kom al ’n lang pad. Ek was vroeër as diplomaat in Brussel gestasioneer, het al twee keer in PEN Vlaanderen se skrywerswoonstel in Antwerpen boeke afgerond, en het met ’n Gentenaar getrou. As student van Afrikaans en Nederlands was ek bevoorreg om by Vlaminge klas te loop en het uiteindelik ’n meestersgraadstudie oor Hugo Claus gedoen. As Suid-Afrikaanse student was ek kwalik toegerus om die agtergrond van ’n magistrale roman soos Het verdriet van België van Claus regtig te verstaan, maar deur sy dramas, poësie en romans het ek toegang tot die groter Nederlandse letterkunde en Europa verkry.
Die Grote Markt is die hart van Brussel.
Min het ek geweet dat ek eendag hierheen sou verhuis. Dit het half teësinnig gebeur. Ek was baie gelukkig in Suid-Afrika en was bevoorreg om ’n vol lewe te lei as ’n bestuurder in die Wes-Kaapse regering, lid van die Libertaskoor in Stellenbosch, en ’n vrot maar ywerige gholfspeler; en my jong dogter was gelukkig in Laerskool Jan van Riebeeck. Ek het egter besef dit sou billik teenoor my Belgiese eggenote wees as sy ook haarself ten volle in haar loopbaan kon uitleef. Daarom het ek, toe sy ’n goeie werksaanbod in België kry, ingestem om vroeg af te tree en het ons met ons tienjarige dogter na Gent verhuis.
Ten spyte van die opvallende verskille, soos die lang, grys winters hier en die feit dat mense mekaar selde op straat groet en jy beslis niemand op die mond soen nie (behalwe geliefdes), het ek so goed moontlik probeer aanpas, en veral ook die aanpassing en verskille vir ons dogter so maklik as moontlik gemaak. Nuwe skool, nuwe taal, weg van vriende en familie.
Ek was saam met Marita van der Vyver en ander vriende op die Griekse eiland Lesbos, toe ek die SMS ontvang dat my vrou wil skei. Na die aanvanklike skok en woede en teleurstelling moes ek oor die toekoms besluit. Gaan ek terug na my woonstel in Kaapstad en probeer ek my lewe daar hervat, of bly ek naby ons jong dogter? Die besluit is deur my dogter geneem toe ek terugkom na ’n twee maande lange verblyf in Suid-Afrika om perspektief te probeer kry. “Don’t abandon me again.” Ne me quitte pas. Moenie weggaan nie. Laat mij niet alleen. Dié refrein van Brel is nie net vir verliefdes nie, maar geld ook vir dié wat weggaan en agterbly.
Dit is hoekom ek nog hier is. Dit is hoekom ek myself moes herontwerp en my Nederlands moes verbeter en werk vind om nie net van my Suid-Afrikaanse-rand-pensioen te probeer oorleef nie. Dit is hoekom ek Engelse lesse vir volwassenes gee in Brussel en duur motors op die hawe van Zeebrugge van een kaai na ’n ander ry. Hier aan die Noordsee woon ek geografies tussen my seun op Vancouver Island en my dogter in Kaapstad en naby my jongste, Vlaamssprekende kind in Gent.
Hier het ek begin hou van die leefstyl van orals stap en fiets ry. Hier voel ek gerus dat my dogter elke dag te voet of per fiets skool toe gaan, sonder die vrees dat sy vir ’n selfoon bedreig sal word. Die skole is goed en klasse klein in vergelyking met dié in Suid-Afrika. Boonop is daar vir almal ’n toekoms en is die verskille tussen ryk en arm minder opsigtelik.
Wanneer die son skyn, verskyn almal, oumense inkluis, op die pleine en by tafeltjies buite cafés of in parke. ’n Bier of twee of koffie koop vir jou ure se sit en vergeet van die donker van die winter. Mense geniet die lewe tot die einde, en wanneer hulle wel lewensmoeg is, is dit wettig om self te besluit wanneer om vaarwel te sê. Ek vermoed dat die hoogs bejaardes wat met hulle fietse op die seedyk by my verby jaag (meestal darem met elektriese hulp) se ouderdomsgenote in Suid-Afrika in ouetehuise sit en terugdink oor hulle lewens. Ten spyte van ’n aanvanklike afsydigheid teenoor vreemdelinge, respekteer mense mekaar en is daar plek vir almal. “A country for old men (and women)” waar kinders opgevoed word om volwassenes te respekteer.
Dis nie dat ek nie my geboorteland mis nie. Ek lees elke oggend die Burger en volg die politiek en my hart is steeds in Suid-Afrika. Ek is jaloers op my vriende wat na my soort sport kan kyk (en nie “wielrennen” nie); ek lag my ’n papie as ek op ’n Facebook-insetsel sien hoe iemand (dit sou selfs Breyton Paulse kon wees) op Kaapse manier kommentaar lewer oor ’n rugbyspeler wat nie weet waar die fokken doellyn is nie; my hart krimp ineen en ek sluk diep as ek na Lize Beekman se “Sonneblom uit Bethlehem” oor Kersfees in die suide luister: “Ek skryf vir jou uit die noorde, en sal die posduif vra, sal hy gaan draai in die suide by die berg en die see en daar waar my liefde kaalvoet loop die nota vir jou gee. Ek bring vir jou ’n sonneblom uit Bethlehem.”
Ek mis die menslikheid en humor van “my” mense. Ek wens ek kan vir almal wat met die minimum probeer oorleef en hoopvol na ’n beter toekoms soek, met ’n towerstaf werk gee. Ek mis die besondere blou van ons hemel en see en ek is saam met almal bly wanneer dit goed reën. Ek het nie gedink ek sal dit ooit sê nie, maar ek mis selfs die car guards en bedelaars. Hier is niemand vir wie jy “small change” kan gee nie.
Voorlopig is my woning dus aan die Noordsee. Dieselfde Noordsee waaroor Jacques Brel in “Mijn vlakke land” met soveel passie oor sy geboorteland sing.
Dit is ’n heimwee waarmee baie verstrooides kan identifiseer, maar iets wat ek met die woorde van Kahlil Gibran probeer besweer:
Als je droevig bent
Kijk dan opnieuw in je hart
En je zult zien dat je weent
Om wat je vreugde heeft gebracht.
Quintus van der Merwe is ’n ouddiplomaat en skrywer. Hy woon tans in België.
Buro: MvH