In die hartjie van Kaapstad, in Oranjestraat, Tuine, staan ’n ouerige dame – statig en trots. Nie te ver van die Mount Nelson Hotel nie, tussen besige strate en die geharwar van die stad staan sy regop en fier. Sy dra haar jare goed, deftig uitgevat en netjies versorg. Aan haar voorkoms te oordeel verklap sy nie sommer haar ouderdom nie, hoewel sy nie meer vandag se kind is nie.
Vra menige Kapenaar of hulle haar ken en hul sal jou gou sê: “Maar hoe dan anders?” Die Labia-teater is immers kenmerkend aan die Moederstad en pronk op talle besoekers se emmerskoplysies van “moet-sien”-plekke in Kaapstad. Dié ikoniese teater uit 1949 vier vanjaar haar 70ste verjaardag, en vir die afgelope 30 jaar al is daar ’n belangrike man wat onwrikbaar aan haar sy staan.
Ludi Kraus, die eienaar van die Labia-teater, vertel hy het grootgeword met rolprente en rolprentteaters, en dit het hom aangemoedig om die teater jare gelede, in 1989, te koop. Hy het toe al geweet dié teater is ’n juweel.
“Toe ek jonk was, het my pa eendag uit die bloute besluit om ’n rolprentteater te bou en te bedryf en gedurende die skoolvakansies het ek gereeld daar uitgehelp. Ek kom dus al ’n lang pad met rolprentteaters – ek het basies met films grootgeword.”
Hy vertel hoe hy in Windhoek, Namibië grootgeword het voordat hy later in sy lewe Suid-Afrika toe gekom het.
“Ek is gebore in wat daai tyd nog bekend gestaan het as Suidwes-Afrika. Ek het daar skoolgegaan, by die weermag in Walvisbaai aangesluit en toe in 1972 Suid-Afrika toe gekom om regte aan die Universiteit van Kaapstad te kom studeer.”
Toe hy jare later, terwyl hy as prokureur praktiseer het, hoor die Labia-teater is te koop, het hy dadelik besluit om dit te koop.
“Ek het die regte op 31 Augustus 1989 vaarwel geroep en die volgende dag, 1 September 1989, die Labia oorgeneem.
“Die moeilikste aanpassing was om skielik gemaklik en ontspanne aan te trek vir werk aangesien ek gewoond was daaraan om elke dag ’n netjiese pak werk toe aan te trek. Die vorige bestuurders van die Labia het my gewaarsku as ek só aantrek gaan ek die laaste paar teatergangers wegjaag,” lag hy.
Die Labia-teater is die oudste teater in Suid-Afrika, en hoewel die geskiedenis voor Klaus die teater gekoop het, effens vaag is, sê hy die teater was moontlik aanvanklik die danssaal vir die Italiaanse ambassade, waarna prinses Labia die gebou in Mei 1949 in ’n teater vir die uitvoerende kunste omskep het. Die afgelope vier dekades funksioneer die Labia-teater egter as ’n rolprentteater. Toe Klaus die teater gekoop het, was dit effens vervalle, en besigheid het maar gesukkel, maar hy was vasbeslote om dinge om te draai.
Hy het die teater toe begin opknap en netjies gemaak, maar baie van die oorspronklike aspekte van die teater behou, sodat die ouwêreldse gevoel van die teater nie verlore sou gaan nie. Elemente soos die kaartjieverkope-toonbank, lekkergoedtoonbank en selfs die ou teatersitplekke is nog alles daar.
“Die Labia was redelik vervalle daai tyd, maar ek het gevoel sy het potensiaal, en nou ja, 30 jaar later is ek steeds hier. Ek glo steeds in haar potensiaal.”
Oor die jare het dié twee saam al talle sake sout geëet – talle struikelblokke oorkom en ook hoogtepunte gevier. Klaus meen een van die onlangse hoogtepunte was om van filmrolprente na digitale rolprente oor te skakel.
“Ons het so vier of vyf jaar gelede oorgeskakel na digitaal. Alhoewel dit duur was, was dit nodig. Alle teaters het begin oorskakel. Dit het al moeiliker geraak om filmrolprente in die hande te kry en die onderdele vir filmprojektors het ook al meer skaars geword.”
Danksy skarebefondsing kon hulle genoeg geld insamel om die Labia om te skakel na digitale projeksie en hulle spog nou met uitstekende beeld- en klankgehalte – alles terwyl die teater haar unieke sjarme behou.
“Een van die laaste rolprente wat ons op film gewys het, was The Grand Budapest Hotel,” onthou Klaus.
“Daarna het ons van die donkerte na die lig beweeg,” grap hy.
Klaus onthou ook doerietyd toe die sensuurraad rolprente moes goedkeur voor dit in teaters gewys kon word.
“Ons het baie pret gehad en die perke so ’n bietjie uitgedaag. Ons het die raad oortuig om ons toestemming te gee om sommige rolprente wat in ander teaters verban is, tog by die Labia te wys. Ons het geargumenteer dat die Labia ’n kunsrolprentteater is en toe toestemming gekry om sekere rolprente tog te wys.”
Één so ’n prent was The last tango in Paris.
“Ons mag die rolprent gewys het nét indien ’n vooraanstaande persoon vooraf ’n 20 minuut lange inleiding en konteks tot die rolprent sou verskaf. Danksy die joernalis Barry Ronge se tesis en uitgebreide notas het ons toe toestemming gekry om die rolprent twee keer te wys.”
Die teater kom al ’n lang pad, en uit Klaus se stories en staaltjies is sy liefde vir die teater duidelik. Dit is veral die feit dat al meer jonger mense die teater deesdae besoek wat hom bly maak.
“Die besoekers raak al meer jonger en ‘cooler’. Ek is die enigste een wat nie ‘cool’ en ‘hip’ is nie!” skerts hy.
“Ons het soveel pret hier en hou ook lekker uiteenlopende feeste, soos rillerrolprentfeeste en selfs rolskaatsfeeste.”
Anders as wat die geval is met gewone rolprentteaters in winkelsentrums wil Klaus graag glo dat die Labia-teater ’n unieke en magiese ervaring vir fliekgangers bied.
“Die Labia-teater gee vir my die geleentheid om rolprente te wys op ’n oudmodiese manier, maar met nuwe tegnologie. Dit is daai ouwêreldse gevoel, die atmosfeer, die ambience en ’n tikkie ‘magic’ wat die ervaring uniek maak. As die leeu van Metro-Goldwyn-Mayer-films hier in die ou teater brul, voel dit magies en spesiaal – en dit sal jy nêrens anders beleef nie.
“By die Labia-teater is om ’n fliek te gaan kyk nie net nog iets wat jy doen nie, dis steeds ’n ‘event’.”
Dis die feit dat jy ’n glas wyn kan geniet terwyl jy die rolprent kyk, of een van die teater se bekende Vodka-slushies – koeldrank met fyngedrukte ys en ’n tjorts vodka.
Dis ook die personeel wat die plek karakter gee, vertel Klaus. Baie van hulle werk immers al langer as hy daar. “Regte mense” en nie onpersoonlike robotte nie. Hulle dra by tot die persoonlike en warm atmosfeer by die teater.
“Dis die feit dat mense hier tuis voel.”
Besoek die Labia-teater se webtuiste hier.
- Foto’s: verskaf