Lae Lande steier onder geweld

  • 0

Nederland en België het albei die afgelope week deurgeloop onder gewelddadige betogings weens die nuwe inperkingsmaatreëls. In Nederland en België is maskers weer verplig, winkels en restaurante maak vroeër toe en mense word gevra om tuis te werk. Verlede week het België ook aangekondig dat gesondheidswerkers vanaf April volgende jaar ingeënt moet wees en Nederland werk aan ’n wet om mense wat nie ingeënt is nie, te verbied om openbare ruimtes te gebruik.

Rotterdam

Oproer het Vrydagaand in die middestad van Rotterdam losgebars toe woedende betogers groot skade aangerig en met die polisie slaags geraak het. Die polisie het die skare probeer bedwing en geweerskote afgevuur – iets wat byna nooit in Nederland gebeur nie. ’n Noodbevel is tot die oggend 04:30 uitgereik, wat beteken dat mense tot dan nie sonder goeie rede in daardie deel van die stad kon kom nie.

’n Uitnodiging vir die betoging teen die voorgestelde 2G- (genees of (in)geënt-) beleid is op sosiale media versprei. Die betoging het later hand uitgeruk toe betogers begin het om slagspreuke soos “Vryheid!” te skree, swaar vuurwerk aan te steek en polisie met voorwerpe te gooi. Daar was die res van die naweek ook betogings in Amsterdam en Den Haag. Volgens die NOS is minstens 173 mense in hegtenis geneem.

Die minister van justisie, Ferdinand Grapperhaus, het in reaksie gesê die skuldiges sal “met de volle zwaarte van het gerecht” ter verantwoording geroep word. Hy het ook sy waardering teenoor die polisie uitgespreek as “mensen die zonder uitzondering een sterke motivatie hebben om zich in te zetten voor de Nederlandse samenleving en een stap naar voren zetten, ook in die situaties waarin er sprake is van bijzonder moeilijke omstandigheden”.

Brussel

In die Belgiese hoofstad Brussel het Sondag 35 000 betogers bymekaar gekom en groot skade aangerig, die polisie met klippe en verkeersborde gegooi, brande gestig en vuurwerk afgevuur. Die onluste-eenheid het die skare met waterkanonne uiteengejaag. Volgens die polisie was dit veral sokkerboewe en jeugdiges wat by die betogings betrokke was.

De Morgen berig van die gevolge van die onluste was tientalle stukkende ruite, ’n geplunderde supermark, ’n verwoeste kombi en uitgebrande vullisblikke. Ses polisiebeamptes is gewond en ’n betoger het ’n deel van sy hand verloor weens ’n ontplofte vuurpyl. Minstens 45 heethoofde is aangekeer en die polisie verwag om binnekort nog mense in hegtenis te neem.

Hospitale loop ook deur onder geweld

Die NOS berig hospitale kry ook steeds meer met geweld te make en skryf dit toe aan frustrasie met maatreëls om die koronavirus te bestry. “Het gaat om intimidatie, schelden en het zich niet houden aan de coronamaatregelen,” sê die voorsitter van die beroepsorganisasie NU’91, Stella Salden. Sy sê dit is veral die afskaling van sorg wat bykomende aggressie in hospitale veroorsaak. Aggressie in hospitale is volgens Salden ’n groot probleem, want dit veroorsaak ook dat personeel van die werk wegbly, en daar is alreeds ’n groot tekort aan personeel.

 Duitse hospitale help weer met oorvol Nederlandse hospitale

Net soos met die eerste vlaag COVID-19-infeksies sal sommige Nederlandse pasiënte weer in Duitsland behandel word. Twee Nederlandse pasiënte is Dinsdag oorgeplaas, berig die Nasionale Koördinasiesentrum vir die Verspreiding van Pasiënte, die LCPS. Die oorplasing van pasiënte na Duitsland het ten doel om meer kapasiteit in waakeenhede te skep vir ander Covid-pasiënte, maar ook vir gewone mediese versorging. Duitsland spook ook om die stygende getal besmettings in toom te hou, maar daar is meer kapasiteit as in Nederland.

Dokter vas wat koronabewyse vervals

De Morgen berig dat ’n dokter in Wallonië vasgetrek is nadat hy sowat 2 000 COVID-19-passe vervals het. Die inentingsbewyse is intussen ongeldig gemaak. Die dokter sal vervolg word vir bedrog. Mense wat die passe ontvang het, kan ook strafregtelik vervolg word. Dit volg nadat die Waalse Agentskap vir Lewenskwaliteit (AVIQ) opgemerk het dat abnormaal baie mense “uit alle hoeken van Wallonië en wellicht ook daarbuiten” op vreemde tye blyk ingeënt te gewees het. Die mense wat ’n vals bewys gekry het, sal uitgenooi word om hulle opnuut te laat inent.

Nederlandse kabinet waarsku oor strenger maatreëls

Demissionêre premier Mark Rutte het Maandag ná ’n vergadering met die uitbraakbestuurskomitee gewaarsku dat Nederlanders hulle die komende week streng aan die huidige inperkingsmaatreëls moet hou en het benadruk dat die druk op hospitale al hoe erger word. Die kabinet wil op 3 Desember die huidige maatreëls heroorweeg. Indien die publiek hulle nie beter aan die maatreëls hou nie, sal bykomende maatreëls onafwendbaar wees, berig die NOS. Die uitwerking van die maatreëls wat op 13 November afgekondig is, sal eers vandeesweek gesien word.

Nog duisende sterftes in België verwag

Intussen het ’n studie deur die Londense Skool vir Higiëne en Tropiese Medisyne getoon dat die koronavirus nog 4 500 sterftes en 15 000 nuwe hospitaalopnames kan veroorsaak. Die navorsing is egter nog nie deur ewekniebeoordeling nagegaan nie. Altesaam 26 568 mense is reeds weens COVID-19 in België oorlede. Volgens die studie kan die getal met 4 500 styg as alle maatreëls opgehef word en inentings gestop word.

PostNL onder skoot oor onwettige indiensneming

Die koerierbedryf PostNL in België is in die spervuur nadat maatskaplike inspekteurs, die polisie en doeane die bedryf se depot in Antwerpen ondersoek het. Minstens 20 oortredings is aangeteken waaronder onwettige indiensneming van afleweraars en subkontrakteurs. Ander oortredings hou verband met deeltydse werkers wat veel langer tye werk as wat in hul kontrakte staan. Soortgelyke oortredings is ook by ’n ander depot van PostNL in Wommelgem vasgestel.

Die inspekteurs het die een perseel tydelik verseël, wat beteken dat verbruikers in België vertragings in aflewerings te wagte kan wees. Dit gebeur op ’n baie slegte tyd in die afleweringsbedryf met Swart Vrydag op hande en verbruikers wat al talle bestellings geplaas het.

Oorstromings in België: vrywilligers gryp in

Vrywilligers in Vlaandere het ’n hele woonwyk in ’n dorp in Wallonië opgebou wat vroeër oorstroom is, berig VRT NWS.

Die skade wat tydens die oorstromings die afgelope somer in België veroorsaak is, is nog lank nie herstel nie. Dit het ’n Vlaamse organisasie sonder winsbejag aangespoor om hand by te sit en so met behulp van vrywilligers ’n hele wyk in die dorp Trooz op te bou.

“Wij willen de wijk in Trooz helemaal heropbouwen, de schade daar is enorm,” sê die argitek Luc van Hout van die organisasie 1000 Handen. Die munisipaliteite van Vosselaar, Turnhout, Oud-Turnhout en Beerse het finansiële hulp en materiaal geskenk en tegniese hulp aangebied. “De sporthal is intussen volledig in orde gebracht. Ook een deel van het gemeentehuis is al klaar. Deze week wordt het gas weer aangesloten en dan kunnen de twee gebouwen weer in gebruik genomen worden.”

Die organisasie wil nou ook op wonings fokus en het gevra dat vrywilligers na vore kom om hulle hiermee te help.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top