Terwyl Suid-Afrikaners met opgehoue asems wag om te sien hoe die land se nuwe kabinet onder ’n regering van nasionale eenheid (RNE) gaan lyk, het president Cyril Ramaphosa Maandag opnuut die breë riglyne vir so ’n regering uiteengesit.
Ramaphosa sal na verwagting eersdaags sy nuwe kabinet aankondig nadat hy verlede week vir ’n tweede termyn as president van Suid-Afrika ingehuldig is.
Die RNE bestaan nou uit 10 politieke partye nadat die ANC Saterdag ’n mediaverklaring vrygestel het wat bevestig dat ook die Al Jama-ah-party die RNE se verklaring van voorneme onderteken het.
The ANC is pleased to welcome the 10 founding political parties to the Government of National Unity as follows: ANC, PA, DA, IFP, GOOD, PAC, FF+, UDM, Rise Mzansi and Al Jamah.#GNU#LetsDoMoreTogether pic.twitter.com/uMedrCA6sJ
— African National Congress (@MYANC) June 23, 2024
Dit beteken die beoogde veelpartyregering verteenwoordig nou 70% van die stemme in die 2024-verkiesing.
Die vertraging van die kabinetsaankondiging het die afgelope naweek gelei tot bespiegelings dat sommige partye binne die voorgenome veelpartyregering, en spesifiek die DA, ontevrede is met die aantal poste in die kabinet wat deur Ramaphosa aan hulle aangebied word.
Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê hy bly verbind tot konsensusbou en tot die verteenwoordiging van ’n wye spektrum belange en standpunte binne die regering.
The country’s hopes are pinned on the success of the GNU. Our stated commitment to work together constructively and for South Africa’s benefit has generated a great deal of goodwill that we should not squander. https://t.co/jSbiZVaL4x pic.twitter.com/dqbGHlUjRA
— Cyril Ramaphosa ???????? (@CyrilRamaphosa) June 24, 2024
Volgens die President is die vorming van die RNE ’n belangrike ontwikkeling in Suid-Afrika se demokrasie. Hy sê alle pogings moet aangewend word om te verseker dat die RNE getrou bly aan sy stigtingsgees van samewerking in goeder trou om ’n program te dryf wat die lewens van al Suid-Afrika se mense verbeter.
“Suid-Afrikaners het dit met hul stemme in verlede maand se verkiesing duidelik gemaak dat hulle wil hê hul verkose verteenwoordigers moet eng belange opsy sit en saamwerk om die land te bou. Om dit te doen, kan die RNE nie behep wees met ’n gejaag na posisies, twis oor aanstellings of twis binne en tussen partye nie,” het Ramaphosa in sy nuusbrief gesê.
Hy sê die sukses van die RNE sal nie gemeet word aan die mate waarin hulle bereid is om te fokus op wie sal regeer nie, maar op hoe hulle saam sal regeer.
Ramaphosa sê die feit dat daar breë konsensus onder die partye is oor die prioriteite van die inkomende administrasie, bemoedig hom dat die RNE wel die land vorentoe sal neem.
Terwyl die meeste van die deelnemers wat betrokke is by die onderhandelingsproses oor die nuwe kabinet ’n wag voor hulle mond geplaas het, is die leier van die Patriotic Alliance (PA), Gayton McKenzie, baie uitgesproke oor sy party se posisie.
Die PA het nege setels in die parlement en is die vierde grootste party in die RNE naas die ANC, DA en IVP.
“Ek is daar vir mag; die stryd gaan oor posisies in die RNE,” het hy op X gesê.
‘I’m there for power, the fight is about positions in the GNU’: @GaytonMcK on cabinet negotiations https://t.co/SgGBkeVR3z
— Patriotic Alliance (@OnsBaizaNie) June 24, 2024
Ramaphosa sê in sy nuusbrief die oorheersende fokus van die RNE moet wees om uitvoering te gee aan die beginsels van die Grondwet en die Handves van Regte. “Dit sal gedoen word deur ’n gemeenskaplike program te volg om armoede uit te roei en ’n meer gelyke samelewing te bou, om werk te skep, en om die regering werklik vir die mense te laat werk.”
Die RNE se verklaring van voorneme bied volgens Ramaphosa ’n stewige basis vir opregte samewerking tussen partye oor die politieke spektrum heen wat dit uit eie beweging onderteken het.
Die President sê die land se hoop is gevestig op die sukses van die RNE, en die deelnemende partye se verklaarde verbintenis om konstruktief en tot Suid-Afrika se voordeel saam te werk het ’n groot mate van welwillendheid gegenereer wat nie verkwis moet word nie.
“Ons moenie ons energie mors op diegene wat in die pad staan van ons land se vooruitgang of momentum verloor oor verskille wat opgelos kan word nie. Ons moet in woord en daad demonstreer dat ons program duidelik, samehangend en volhoubaar is, dat ons samewerking eg is en dat die belange van die mense altyd eerste sal wees,” het Ramaphosa in sy nuusbrief geskryf.