Suid-Afrikaners kan hulle voorberei op nóg landwye stakings later vanjaar ondanks waarskuwings deur ekonome en sommige politieke partye dat stakings die land se ekonomie groot skade berokken.
Die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu), Zwelinzima Vavi, sê massa-aksie sal verder verskerp in die aanloop tot die middeltermynbegroting in Oktober en volgende jaar se staatsrede.
Vavi het Maandag tydens ’n media-inligtingsessie gepraat op die vooraand van vandag (Woensdag 24 Augustus) se landwye staking om die land tot stilstand te probeer dwing.
"A Stayaway, A #NationalShutdown of all workers" pic.twitter.com/AV6tcfpKJD
— SAFTU (@SAFTU_media) August 22, 2022
Cosatu het Dinsdag ook ’n beroep op al sy lede en werkers gedoen om in groot getalle by die stakingsaksie aan te sluit.
Communication Workers Union calls upon all of its members and workers in general to come out in numbers to join the strike action. #CosatuNationalStrike #CosatuNationalStrike#CosatuNationalStrike2022 #CosatuNationalStrike2022@Newzroom405 @_cosatu @cwu pic.twitter.com/SDJLSlRPZY
— @COSATU Today (@_cosatu) August 23, 2022
Terwyl Cosatu en Saftu sê om die ekonomie tot stilstand te bring is die enigste manier om die regering se aandag op die werkers se griewe te vestig, waarsku ekonome dat dit die land net nog verder sal destabiliseer.
Die ekonoom Isaac Matshego het aan Eyewitness News gesê dat as die strate ingevaar word, dit die einste ekonomie wat die vakbonde probeer beskerm, nog verder sal knou.
"Om weg te bly van die werk af, veral vir een dag, sal nie regtig enige doel bereik nie,” het Matshego gesê. Hy sê hy regverdig ook nie ’n langer wegblyaksie nie, want dit sal nog meer skadelik wees.
Die ekonoom Roelof Botha het dié week se staking volgens Netwerk24 as ekonomiese waansin bestempel. ActionSA het ook hulle ernstige kommer uitgespreek oor die gevolge wat Cosatu en Saftu se massaprotesaksie vir die land inhou.
Volgens die ekonoom Dale McKinley sal die weerhouding van arbeid tydens die week se staking min impak hê, maar kan dit wel ’n deurslaggewende boodskap aan die maghebbers oordra.
Die boodskap wat die werkers dié week wil oordra, is dat indien die land se ekonomie tot stilstand gedwing word, die regering geen ander keuse sal hê as om aandag te skenk aan werkers se griewe nie.
Hulle grootste grief is die hoë lewenskoste wat veroorsaak word deur die stygings in voedselpryse, petrol en verskeie ander noodsaaklike produkte.
ActionSA sê in ʼn verklaring wat Dinsdag uitgereik is hulle neem met kommer kennis van die massa-protesaksie wat Cosatu en Saftu vir Woensdag geskeduleer het.
ActionSA sê die arbeidsmag moenie gemanipuleer word om sonder betaling aan massaprotesaksies deel te neem terwyl vakbondbase nie bereid is om ook hulle salarisse te verbeur weens protesaksies nie.
Die party sê hulle het begrip vir die ontevredenheid oor die skerp styging in lewenskoste en die onaanvaarbaar hoë werkloosheidsyfers, maar die ekonomie kan nie ’n massastilstand bekostig nie. “Terwyl ons land uit die COVID-19-pandemie kom wat Suid-Afrika al hoe nader aan die afgrond van resessie gedruk het, kan ons ekonomie eenvoudig nie sulke optrede weerstaan nie.”
ActionSA sê dit is ongelooflik bisar dat dit lyk of Cosatu teen homself protesteer, aangesien dit deel is van die regerende driepartyalliansie. “As die vakbond werklik ’n belang gehad het om die werksomstandighede vir Suid-Afrika se arbeidsmag te verbeter, sou hulle goed doen om daardie verandering deur die driepartyalliansie te bewerkstellig sonder om meer swaarkry te veroorsaak vir die werkers wat hulle beweer hulle ondersteun.”
COSATU is protesting against itself seeing as it is part of the governing Tripartite Alliance.
If you want to actually improve conditions for SA's labour force, start within the Tripartite Alliance without risking hardship for those you claim to support!https://t.co/lO8dzyXMN9
— ActionSA (@Action4SA) August 22, 2022
Herman Mashaba, ActionSA se president, sê hierdie massaprotesaksie het hoegenaamd niks met die arbeidsmag te doen nie en het alles te doen met die demonstrasie van mag voor die ANC se verkiesingskonferensie in Desember vanjaar.
Dit is teleurstellend maar nie verbasend nie dat hierdie politieke slenter van eiebelang ten koste van byna ’n miljoen werkers geskied, sê Mashaba.
“Ons ondersteun die behoefte aan ’n basiese inkomstetoelaag as ’n veiligheidsnet vir diegene wat die kwesbaarste is in ons samelewing, maar ons dink nie dit sal bereik word deur ons ekonomie verder te onderdruk deur grootskaalse protesaksie nie.”
Suid-Afrika se ekonomie het volgens Mashaba robuuste en vernuwende oplossings nodig om dit aan die gang te kry. Hy sê dit vereis minder inmenging en lospryseise van vakbonde op die regering, want dit is al wat vakbondbase met hierdie noodlottige protesaksie doen.