Lang arm van die gereg gryp staatskapers

  • 0

Foto: Youtube

Die net span al hoe stywer om diegene wat vir Suid-Afrika se korrupsie en staatskaping verantwoordelik gehou word in hegtenis te neem en aan die pen te laat ry.

Die lang arm van die gereg het die afgelope week genadeloos begin toeslaan om die ingewikkelde katnes van korrupsie in die land oop te vlek en die skuldiges voor die hof te daag.

Sewe verdagtes het gister (Donderdag) in Bloemfontein se streekhof verskyn op aanklagte van onder meer geldwassery, korrupsie en bedrog oor die omstrede Vrede-suiwelplaasprojek van die Vrystaatse regering. Hulle is Ashu Chwla, Nazeem Howa, Varun Gupta, Ronica Ragavan, Peter Thabete, dr Tikisi Masiteng en Sylvia  Dlamini.

Vyf van die verdagtes, waaronder ’n departementshoof van die landboudepartement, Peter Thabethe, is Woensdag in hegtenis geneem na verskeie klopjagte by eiendomme wat deur die Gupta-familie besit word. Thabethe is tydens ’n klopjag by sy huis in Bloemfontein gearresteer.

Die minister van polisie, Fikile Mbalula, sê die Valke werk saam met die nasionale vervolgingsgesag in die staatskapingsondersoek en het al dertien lasbriewe uitgereik wat verband hou met die Vrede-suiwelplaasprojek. Hy sê daar is reeds sewentien dossiere wat ondersoek word en daar sal geen voorkeurbehandeling wees nie ongeag wie die skuldiges is.

Die spesiale ondersoekeenheid die Valke het Woensdag toegeslaan op die landgoed van die omstrede Guptas in Saxonworld. Daar is ook ’n klopjag uitgevoer op die perseel van een van hulle maatskappye, Sahara in Midrand.

Die Valke se operasie om diegene wat vir korrupsie gesoek word aan te keer het toevallig op dieselfde dag begin wat oud president Jacob Zuma onder druk bedank het as staatshoof van Suid-Afrika. Zuma word ook verbind met die Guptas en staar  meer 783 klagtes van korrupsie, omkopery en rampokkery in die gesig indien hy vervolg word.

’n Aankondiging deur die Nasionale Vervolgingsgesag oor Zuma se moontlike vervolging in die hof word enige dag verwag. Die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv Shaun Abrahams sal binne die volgende week besluit of oud-president Zuma op aanklagte van korrupsie, bedrog, afpersing en geldwassery vervolg moet word.

Sy opvolger, president Cyril Ramaphosa, wat gister ingehuldig as Suid-Afrika se nuwe staatspresident, het beloof dat hy geen steen onaangeroer sal laat om korrupsie en staatskaping uit te roei nie. Volgens Ramaphosa sal die skuldiges sonder aansiens des persoon verantwoordelik gehou word vir hulle dade.

Daar hang ook ’n donker wolk oor die kop van die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule wat ook premier van die Vrystaat is. Die Valke het verlede maand ook ’n klopjag op sy kantoor uitgevoer en die kantoor van die departement van landbou deursoek.

Die DA-leier in die Vrystaat, Roy Jankielsohn, sê die Vrystaatse provinsiale regering waarvan Magashule die premier is bestaan uit ’n netwerk van misdaadsindikate.

Volgens ’n beëdigde verklaring het die Vrystaatse landboudepartement na bewering R220 miljoen aan die Guptas en van hulle sakevennote betaal. Volgens die batebeslagsleggingseenheid was dit deel van ’n skema om die departement te bedrieg en te beroof.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top