Langstraat in Kaapstad se middestad is ’n versmelting van Kaapstad se kulture en energie en is ’n gunsteling onder toeriste. Dit is byna onmoontlik vir enigiemand om verveeld te wees wanneer hulle hierdie deel van die Moederstad besoek. Hierdie straat loop soos ’n arterie regdeur die stad, al die pad van die strandgebied tot aan die voet van Tafelberg. Die systrate wat kruis en dwars uit Langstraat spruit, het elk hul spesiale eienskappe, soos Kerkstraat se stalletjies met plaaslike handwerk en oudhede.
Een van die vernaamste kenmerke van hierdie lang straat is die Afrika-kuns. Kaapstad is ryk aan winkels wat dit verkoop. Hierdie winkels is soms ’n teenvoeter vir die Zeitz Museum van Kontemporêre Kuns Afrika. Die museum het onlangs sy deure in die Silodistrik, S Armweg, V & A Waterfront oopgemaak (Tel +27 87 350 4777; toegangsfooi betaalbaar). Dit is te verstane dat daar verskille is tussen galerye waar hierdie kunsvorm uitgestal word en winkels wat dit vir hul eie kommersiële doeleindes verkoop. Maar kom ons wees eerlik: as ’n toeris Afrika toe kom, wil hy/sy terugkeer met een of ander Afrika-memento. Hiervoor is dit beslis die moeite werd om Groentemarkplein tussen Burgstraat en Langmarkstraat in die middestad te besoek.
In die hartjie van hierdie buurt is die Pan African Market met Victoriaanse teëlwerk in die voorportaal. Die onderskeie verdiepings huisves verskillende afdelings van kuns – uit Wes-Afrika, Sub-Sahara-Afrika en Suid-Afrika. Daar kan jy ook klere op bestelling laat maak, ’n antieke Afrika-masker koop en selfs kos en drankies bestel terwyl jy gedurende jou toer ontspan. Terwyl jy van winkel tot winkel loop, het jy die perfekte geleentheid om Langstraat se atmosfeer in te drink. Dit is die beste om ’n gids aan jou sy te hê; jou reisagentskap of concierge by ’n hotel of B&B kan dit vir jou reël. Jy kan ook Kaapstad se toerismeburo kontak.
’n Ander kenmerk van die buurt is die verskillende boustyle. Ten spyte van die betreurenswaardige verdwyning van Kaapstad se ou argitektuur, staan van die ouer geboue steeds. Oud en nuut staan sy aan sy. Die ouer geboue dateer uit die koloniale verlede en weerspieël ou Engelse, Nederlandse en Deense boustyle. Art Deco kom ook geredelik voor, nie net in die sentrale gebiede nie, maar ook so ver as voorstede soos Claremont en Rondebosch. Vir meer hieroor, besoek https://www.nomadafricamag.com/capetown-architecture.
Verder op en nader aan die berg is daar heelwat ou Victoriaanse geboue, terwyl die geboue verder af by die Kerkstraatmark (op die hoek van Kerk- en Langstraat) die Kaaps-Georgiaanse boustyl vertoon, met groter swaairaamvensters vir ventilasie in die Kaapse Mediterreense somers.
Die buurt is ryk aan kunsgalerye wat nie net Afrika-kuns uitstal nie, maar ook moderne en eietydse kuns, sowel as oudheidwinkels wat ou skilderye verkoop. Vir ’n oorsig van die beste galerye in die omgewing, besoek https://www.capetown.travel/visitors/see-do/arts-culture/art-design/a-guide-to-top-galleries-in-cape-town.
Aangesien Kaapstad een van Afrika se belangrike ontwerpstede is, kan jy kreatiewe couture, veral vroueklere en Afrika-style, deur winkelvensters bewonder. Daarbenewens is daar ook boekwinkels soos Select Books en Clarke's ’n bietjie hoër op in Langstraat. Jy kan hier afgelaai word om ’n bietjie rond te kyk voordat jy een van die menigte restaurante in Langstraat besoek vir ’n vroeë Kaapse aandete, voordat jy na die gemak van jou hotel terugkeer.
Langstraat is ook bekend vir sy klubs (waaroor jy meer kan uitvind by https://www.town.co.za/capetown/best-bars-clubs-long-street). Wees egter versigtig wanneer jy hierdie plekke besoek en vra voor die tyd jou hotel of B&B vir raad, aangesien sommige dele van die straat saans gevaarlik kan wees. Parkering sal byvoorbeeld logistieke uitdagings vir besoekers bied. Jy sal vooraf vervoer moet reël wanneer jy een van die groot verskeidenheid meestal eksotiese restaurante besoek. Hier kan jy ’n volledige lys van restaurante in en om Langstraat kry.
Stel een van die restaurante op die proef, soos Mesopotamia, wat Koerdiese disse bedien. Mesopotamia was die eerste Koerdiese restaurant in Suid-Afrika en is ewe gewild onder plaaslike en internasionale restaurantgangers. Besoekers kan ’n opwindende ervaring verwag, aangesien die geregte op ’n tandoori-vuur voorberei word, die kos halaal is en die tafelrangskikking anders en interessant is. Jy kan jou skoene uitskop en om kopertafels agteroor teen die dinkum kilim-kussings lê. Die retsaurant is versier met outentieke Koerdiese kunsvoorwerpe en jy kry ’n idee van hoe ’n feestelike Mesopotamiese gourmet-aandete moes wees. Meet elke mondvol word jy weggevoer na die verre verlede.
Omdat Kaapse someraande kenmerkend warm is, is dit ’n goeie idee om ligter mezze te bestel, soos Borek (’n antieke dis) – gevulde fyngebak wat met ’n laag dun fillodeeg (vufka) bedek is. Volgens koshistorici dateer die dis terug na die Ottoman-kookkuns wat deur selfs die sultans geniet is. Dié wat ek as voorgereg gehad het, is met feta, pietersielie en uie gevul. Dit kos slegs R39 per porsie en is beslis waarde vir geld. En al die voorgeregte – ’n groot verskeidenheid – kos min of meer dieselfde. Nadat ek ’n bietjie op die internet rondgesoek het, het ek ’n resep daarvoor opgespoor wat mens self kan probeer. Die lekkerte van die dis is dat jy dit met jou hande kan eet en rustig daaraan kan smul terwyl jy teug aan wyn wat die disse komplementeer, of ander drankies, of selfs ’n glas koue water met ys en suurlemoen. Etes by Mesopotamia is langsaam – die geskiedenis van Mesopotamië dateer immers terug na die verre verlede, na die tyd van die ontstaan van beskawings, met die Vrugbare Halfmaan in die Oos-Mediterreense antieke streek.
Ten spyte van die warm aand, was die warm haran onweerstaanbaar. Dit word opgedien met gegeurde rys en jogurt. Dié dis met sy prima lamsvleis is verruklik, maar hier eet ’n mens stadig, bietjies-bietjies, om die uiteetervaring te rek. Om mee af te sluit – heerlike baklawa en kruisementtee.
Ek het met die restauranteienaar gesels en hy het genoem dat die restaurant weens restourasie om die hoek na die historiese Groentemarkplein gaan verskuif, maar dat al die dekor van die restaurant se 20 bestaansjaar weer gebruik gaan word om die restaurant te laat herleef. Besoek hulle webwerf vir die jongste nuus – die telefoonnommer gaan dieselfde bly en die nuwe adres is Burgstraat 36, Groentemarkplein. Vriendelike personeel beman die telefoon en sal inligting oor hul handelsure kan verskaf.
Alhoewel Mesopotamië se geskiedenis veel ouer is as dié van Kaapstad, is die Moederstad die geskikte plek om hierdie skouspelagtige tradisies, soos die kuns, mode, kos, atmosfeer en energie, in Langstraat te laat voortleef.
Buro: MvH