Leeus in die strate

  • 0

Ek en my gesin was iewers heen op pad toe my vrou ’n paneelwa met die bufferplakker “Ban poaching!” gewaar. “No more eggs benedict!” was my antwoord, tot groot vermaak van my dogter. ’n Vader behoort dit altyd te waardeer as sy kinders vir sy grappies lag – dit help teen die generasiegaping – maar in my agterkop was eintlik iets ernstigs: die skisofreniese houding in Suid-Afrika teenoor diere.

“Poaching” verwys na net een kwessie hier te lande: die slagting onder renosters, ’n bedreigde spesie, al tel dit onder Afrika se Groot Vyf wilde diere, die groepie wat op elke toeris se lys is as ’n moet-sien. Maar dis ook ’n merker vir ’n tipies witmens-obsessie; omhelsers van renosters toon gewoonlik nie dieselfde besorgdheid oor die groot armoede onder miljoene arm swart mense nie. Hulle het gewoonlik ook ’n meer konserwatiewe profiel – ryk mense wat graag “eggs benedict” eet, dikwels met salm uit fabriekplase in Noorweë. Met diesulkes word gespot met ’n ander bufferplakker: “Forget the rhino, save the white ou.”

Wilde diere wat amok maak was sterk in nuus die afgelope paar weke. Eers moes ’n leeu doodgeskiet word toe hy ’n bejaarde man op ’n wildsplaas aanval. Toe volg die fratsongeluk waartydens ’n kameelperd, gewoonlik die vredeliewendheid self, ’n fotograaf met sy kop doodgeslaan het. In vorige jare was daar twee gevalle waartydens leeus uit reservate ontsnap het en die hele nasie die pogings om hulle op te spoor gevolg het.

Leeus is ’n cliché in Amerikaanse wetenskapfiksie. In Twelve monkeys van Terry Giliam byvoorbeeld word ’n leeu op ’n bouvallige Capitol in ’n toekomstige Washington gesien. Wat ’n leeu daar sal gaan soek, is nie duidelik nie, maar dit is ’n ikoniese toneel wat staan vir distopie in rolprente. Leeus in die strate, is die suggestie, beteken die beskawing het nou al so verval dat die doyen van mensejagters oorgeneem het.

Wilde diere in die wêreld se stede is niks nuuts nie. Vele programme is al gemaak oor cougars in Los Angeles, wolwe in Amerika se sneeustate, jakkalse in Londen. In Indië gaan troppe bobbejane saam met die armes na die Hindoetempels waar barmhartiges kos uitsit. Wildgeworde honde ry trein in en uit Moembaai – saans op soek na kos in die binnestad, en soggens terug na hul slaapplekke in die buitewyke.

Maar in Afrika bly hulle ’n unieke probleem, en speel hulle nog dieselfde rol as wat Jared Diamond gepopulariseer het in boeke soos Guns, germs and steel en John Reader in A biography of Africa. In ’n neutedop: hulle meen Afrika se relatiewe agterstand in tegnologiese ontwikkeling is te wyte aan die aanwesigheid van die Groot Vyf en ’n aantal ander diersoorte wat nie domestiseerbaar was soos perde, beeste en varke elders in die wêreld nie. Saam met die geredelike beskikbaarheid van voedsel in die natuur, het dit beteken dat baie Afrikagemeenskappe seminomadies gebly het, mense wat tegnologiese ontwikkeling nie nodig gehad het nie.

Trouens, vir baie Afrikane is die natuur nog die vyand. Waar stedelinge, veral wit mense, hulself toesluit agter tralies en hoë mure, en leer om saam te leef met die geneul van alarmstelsels, doen baie mans in die Afrikaplatteland nog elke nag wagdiens teen wilde diere. Hiënas en seekoeie is die grootste gevare, terwyl knaagdiere aan babas se neuse kom knibbel en leeus soms kinders wegdra.

Een van my aangenaamste herinneringe kom uit die noorde van KwaZulu-Natal, van die wag wat langs ’n groot vuur waak teen seekoeie se nagtelik uitstappies in landerye, en sy gesing om homself wakker te hou. In Angola moet daar kort-kort ’n groot besnoeiing deur bewaarders in helikopters onder olifante gedoen word, omdat hul getalle so sterk aangroei in wildreservate dat hul groot dele van die bosveld en die habitat van ander diere vernietig.

Teen hierdie agtergrond moet ’n mens probeer verstaan waarom so baie Suid-Afrikaners sindikate uit die Verre Ooste bystaan om renosters te slag vir hul horings. Afgesien van die werklike gevare wat wilde diere vir hulle inhou, toon die gebruik van dieredele as “muti” (magiese medisyne) groot ooreenkomste met Asiatiese gelowe dat renosterhoring en leeubeendere allerlei gesondheidskragte besit. Die Suid-Afrikaanse middelklas het gegru oor onthullings verlede week dat leeus in aanhouding by die dosyne geslag word sodat hul geraamtes opgekook kan word vir die Oosterse markte; die werkers en die werkloses was dalk teleurgesteld omdat die vleis nie aan hulle uitgedeel is nie.

Hierdie dubbelslagtigheid teenoor diere slaan ook uit wanneer dit by die gedomestiseerde diersoorte kom. Die mark in “free range”-voedselprodukte groei by die dag, saam met die besorgdheid oor wreedheid teenoor batteryhoenders. In die agtergeblewe gemeenskappe, en selfs in regeringskringe, is die houding egter sterk dat diereliefhebbery nie in die pad kan staan van die stryd om die land se enorme werkloosheidsyfer te bestry nie. Diereliefhebbery is ’n “wit” ding; daar is nie takke van die Dierebeskermingsvereniging in die townships nie, verklaar hulle (hoewel daar is).

Die speaker van die Nasionale Raad van Provinsies in die parlement, Thandi Modise, het dus maklik die skandaal ’n paar jaar gelede oorleef toe die haglike omstandighede van die diere op haar plaas buite Potchefstroom in die pers onthul is. En verlede week moes bykans twee dosyn perde van die weermag – eens ’n trots van die apartheidsnasie – doodgeskiet word weens hul gebrekkige versorging, ten spyte van ’n hofbevel na ’n jare lange geregtelike proses. Daar is nog geen teken van stappe teen die offisiere in beheer van die eenheid nie.

Maar ’n mens moet daarteen waak om die kwessie nie vanuit ’n rassehoek te benader nie. Enige wreedheid teenoor diere wat daar in arm gemeenskappe sou bestaan, kan nie kers vashou teen die verwoesting wat die geïndustrialiseerde wêreld gesaai het nie – dit is oorbekend. Dit vervul ’n mens ook met wanhoop as die tegnologies mees gevorderde nasie ter wêreld, Amerika, iemand soos Donald Trump die magtigste man op aarde maak onder andere omdat hy hierdie vernietiging ontken.

In die antroposene era was die eerste mense wat renosters, olifante en ander diere in Suid-Afrika begin uitroei het, wit setlaars. Hul diereslagtings het in die laat 19de eeu ’n hoogtepunt bereik. Die skrywer JM Coetzee praat van ’n “holocaust” wanneer hy die slagting van diere in abattoirs aanspreek. ’n Mens mag antwoord dat dit deel van die menslike kondisie is om diere te eet, en dat menseregte vir diere ’n oksimoron is.

Maar in die toekomstige geskiedenis gaan die jaar 1885 nog gesien word as ’n spilpunt in die antroposene era. Aan die een kant was dit die jaar van die Berlynse Konferensie, toe Europese lande groot dele van die wêreld onder hulself verdeel het as hul kolonies. Oral het dit gelei tot menseslagtings en hongersnood wat getallegewys net deur die Europees-gedrewe Tweede Wêreldoorlog oortref sou word.

Maar dis ook in hierdie tyd dat dieregetalle in die natuur drasties gedaal het. In Amerika het Buffalo Bill elke seun se held geword deur die bison te help uitroei. Dit was nadat die Amerikaanse regering betaal het vir elke stel horings wat ’n jagter aandra in ’n program wat daarop gemik was om inboorlinge in die Black Hills in sentraal-VSA se stapelvoedsel uit hul voedselketting te verwyder en hulle te laat wegtrek. Daarna het myners oorgeneem en die goud ontgin wat Amerika uit sy ergste resessie tot op daardie datum gekry het.

In die dekades voor en na 1885 het immigrante na Suid-Afrika dikwels aanbiedinge van grond deur die setlaarstate van die hand gewys in ruil vir stelle gewere. Daar was ’n groot vraag na leer en ivoor in Europa en die wild was so volop dat enigiemand wat ’n sneller kon trek, ’n bestaan kon maak. Teen 1910 was die “holocaust” in Coetzee se woorde voltrek. Wild is nou so skaars in die binneland dat ’n vriend van my nou die dag ’n pos op Facebook gesit het toe ’n njala in sy tuin in Bloemfontein opdaag.

Ons moet renosters probeer red, maar dis nie náástenby die ergste van die probleme wat ons aan ons kinders agterlaat nie. Daardie stel krisisse kan beslis nie op ’n buffergrappie pas nie.

  • Hans Pienaar is ’n skryfgenoot by die Johannesburg Institute for Advanced Study
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top