Die rassetwis tussen die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, en die burgerlike organisasie AfriForum het opnuut opgevlam.
Lesufi het bewerings dat AfriForum probeer het om ’n sluipmoord op hom uit te voer en sy kinders agtervolg het, amptelik teruggetrek. Kort daarna het hy egter op Twitter gesê hy sal nooit iets wat hy teen rassiste gesê het, terugtrek nie.
“Rassiste is boos en verstandeloos. Hulle het my verseker dat hulle my en my gesin nie gaan leed aandoen nie en ek het hulle geglo. So waar is die leuen?”
Me backdown to racists? Never! I will never apologise to racists. Read the full statement. Racists are evil and mindless. They assured me that they’re not going to harm me and my family and I took their word. So where’s the lie? https://t.co/1okTM1woBk
— Panyaza Lesufi (@Lesufi) October 24, 2021
Dit volg nadat hy aanvanklik in ʼn gesamentlike verklaring met AfriForum gesê het hy is spyt dat hy op 24 November 2019 uitlatings gemaak het wat die indruk wek dat AfriForum probeer het om hom te vermoor en sy kinders agtervolg het. “Gevolglik trek die LUR daardie uitlatings terug,” lui die gesamentlike verklaring.
Die VF Plus het nou ook tot die bekgeveg toegetree. Hulle het 'n formele klag teen Lesufi by die Gauteng-wetgewer se integriteitskommissaris ingedien. Die VF Plus sê in ʼn verklaring die klag handel oor die genoemde vals beweringe wat hy teen AfriForum gemaak het.
Die klag wat die VF Plus ingedien het, is gegrond op bepalinge van die gedrags- en etiese kode van die Gautengse wetgewer. Die VF Plus beweer dat Lesufi artikel 5(1) oortree het deurdat hy die wetgewer opsetlik mislei het aangaande die situasie met AfriForum. Lesufi het volgens die VF Plus ook binne die wetgewer by tye verwys na die gevaar teen sy persoonlike en sy familie se lewe.
Verder meen die VF Plus dat Lesufi artikel 5(2) oortree het, aangesien sy gedrag onversoenbaar is met sy posisie as 'n LUR wat die hoogste integriteit vereis. Die party sê hulle beskou ook sy gedrag as 'n oortreding van artikel 5(4), aangesien sy gedrag nie die waardigheid en integriteit van sy posisie as LUR weerspieël nie.
“Lesufi het hom oor die afgelope jare skuldig gemaak aan verskeie soorte onwaardige gedrag wat skade veroorsaak het vir lede van die publiek. Daardie voorbeelde sal ook ingedien word by die integriteitskommissaris om aan te dui dat 'n baie ongesonde gedragspatroon bestaan van 'n persoon wat nie die pos van LUR mag beklee nie.”
Die VF Plus sê hulle sal die klag monitor en sorg dat dit enduit met erns behandel word.
In die gesamentlike verklaring deur AfirForum en Lesufi is, het hy ook gesê hy aanvaar dat sy uitlatings oor AfriForum 'n skeuring tussen die partye veroorsaak het. Die partye het hulle albei verbind tot konstruktiewe betrokkenheid in 'n poging om 'n herhaling van so 'n situasie te voorkom en om enige kwessies wat in die toekoms mag ontstaan, aan te spreek.
“Die partye het hul verskille, maar hulle het in die verlede byeengekom en kwessies gedebatteer en is daartoe verbind om dit in die toekoms te doen,” lui die gesamentlike verklaring.
Die vrede was egter van korte duur. Dit blyk dat die stof tussen die partye nog lank nie gaan lê het nie. Die twee partye het weer op Twitter teen mekaar uitgevaar.
AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê dit moes moeilik gewees het vir 'n “egosentriese anti-Afrikaanse rassis” soos Lesufi om sy stelling terug te trek. Kriel het gesê hy rol op die vloer soos hy daaroor lag. Volgens Kriel “spartel die arme man” nou omdat hy gedwing was om “sy leuens” oor AfriForum terug te trek.
It must have been hard for an egocentric anti-Afrikaans racist like @Lesufi to back down to @afriforum 🤣. He backed down by retracting his lies that AfriForum wanted to assassinate him & followed his children. He told us he regrets his statements! https://t.co/fGN1gk1cTt
— Kallie Kriel (@kalliekriel) October 24, 2021
Volgens Kriel het Lesufi met die amptelike terugtrek van sy bewerings aan AfriForum se eise voldoen. Hy sê wat AfriForum betref, is daar dus geen rede meer om met die lasteraksie teen Lesufi voort te gaan nie.
“Die belastingbetalers se geld sou ongelukkig vir Lesufi se regskostes in die lasteraksie gebruik word. Maar omdat R431 miljoen se belastingbetalergeld reeds deur Lesufi se departement met die skoolsaniteringsfiasko geplunder is, wil AfriForum verhoed dat nóg belastingbetalersgeld op Lesufi se regskostes vermors word,” sê Kriel.