Life Esidimeni-tragedie se aanspreeklikes moet boet

  • 0

Die kriminele aanklagte teen diegene wat aanspreeklik gehou kan word vir die dood van 144 psigiatriese pasiënte in die Life Esidimeni-tragedie in 2016 moet so gou moontlik geformuleer word.

So sê die DA na die afgelope week se hofverrigtinge waartydens die hof bevind het dat nalatigheid verantwoordelik was vir die Esidimeni-sterftes. Die party sê in ’n verklaring ’n hofdatum moet bespoedig word sodat geregtigheid sonder verdere vertraging kan geskied.

Regter Mmonoa Teffo het Woensdag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria bevind dat die voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, Qedani Mahlangu, en geestesgesondheidsdirekteur Makgabo Manamela, nalatig was en die dood van nege Life Esidimeni-pasiënte kon verhoed het.

Volgens Teffo het Mahlangu die Life Esidimeni-kontrak beëindig ten spyte van waarskuwings deur kundiges, en effektief “die omstandighede geskep waarin die sterftes onvermydelik was”.

Die DA se skaduminister vir gesondheid in Gauteng, Jack Bloom, sê dit is ’n ernstige aanklag wat tot strafbare-manslag-aanklagte teen Mahlangu en Manamela moet lei. Bloom sê ander aanklagte moet ook gelê word teen almal wat geïdentifiseer kan word wat die lyding van die Esidimeni-pasiënte veroorsaak het.

Aanklagte sluit in oortredings van die Wet op Geestesgesondheidsorg en die Nasionale Gesondheidswet, asook bedrog in die lisensiëring van die NRO’s, en ander sake.

Dié uitspraak kom drie jaar nadat die doodsondersoekverhoor voor regter Teffo in Julie 2021 begin het.

Die Gautengse provinsiale regering het in ’n verklaring die uitspraak ten volle aanvaar.

Die DA, sowel as AfriForum, het die uitspraak verwelkom. Hulle sê die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet nou herbesin oor hulle besluit om nie te vervolg nie.

AfriForum se privaat vervolgingseenheid en Solidariteit Helpende Hand sê hulle sal die uitspraak bestudeer voordat hulle volgende stappe oorweeg.

Die organisasies sê in ’n verklaring hulle is egter bemoedig dat die saak terugverwys sal word na die NVG om te herbesin oor vervolging in dié saak. AfriForum en Solidariteit Helpende Hand meen dat voorlopige inligting dui op ’n gunstige besluit om die saak te vervolg. 

AfriForum se privaat vervolgingseenheid het Sandra de Villiers verteenwoordig in opdrag van Solidariteit Helpende Hand, wat gesinne tydens die bemiddelingsverhoor verteenwoordig het. De Villiers se broer, Jaco Stols, het tydens die tragedie gesterf.

Stols is kort voor sy dood uit Life Esidimeni na ’n ander fasiliteit verskuif, waar hy na bewering van honger gesterf het. Regeringsamptenare het die skuif sonder die toestemming van Stols se naaste familie gedoen. De Villiers is aanvanklik verbied om haar broer by die nuwe fasiliteit te besoek. Hy is op De Villiers se aandrang gehospitaliseer. Toe sy hom wel kon sien, het hy skaars 39 kg geweeg, en was dit te laat om sy lewe te red.

“Die uitspraak is ’n klein stap in die rigting van die geregtigheid waarna ons so lank gesoek het. Ons is dankbaar dat diegene in belangrike posisies wat direk vir dié tragedie verantwoordelik was, verantwoordelik gehou word. Die slagoffers wat hulself nie kon help nie, is dood van dehidrasie, verhongering en verwaarlosing,” sê René Roux, bestuurshoof van media by Solidariteit Helpende Hand.

Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, het gesê hy is bly dat hierdie proses wat soveel pyn en lyding gebring het vir diegene wat hul geliefdes verloor het, asook die oorlewendes wie se menseregte erg deur hierdie tragedie geskend is, sy einde nader. 

“As die Gautengse provinsiale regering is ons vol vertroue dat die Nasionale Vervolgingsgesag hierdie uitspraak vorentoe sal neem, en ons wag op die afhandeling van hierdie saak,” het die Lesufi gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top