Meer as sewe jaar nadat drie mynwerkers dood is toe ’n deel van die myn waar hulle gewerk het, ineengestort het en hulle ondergronds in ’n houer vasgekeer was, soek die oorledenes se familie vergeefs na bystand en antwoorde.
Die myneienaars en die regering word daarvan beskuldig dat hulle die agtergeblewenes se gesinne in die steek laat en nie hulle beloftes nakom nie.
Jare sedert die voorval soek familielede en lede van die publiek steeds antwoorde oor wat presies tydens hierdie noodlottige oggend gebeur het. Die geregtelike doodsondersoek was aanvanklik vir drie weke geskeduleer, maar het geen antwoorde opgelewer nie.
Daar was aanvanklik soek-en-reddingsgeselskappe om die oorskot van Yvonne Mnisi, Pretty Nkambule en Solomon Nyirenda by die Lily-myn in Louisville naby Barberton terug te kry, maar dit is later laat vaar. Hulle was al drie in ’n houer toe die ongeluk gebeur het.
Die tragedie by die myn het op 5 Februarie 2016 plaasgevind toe daar ’n groot grondverskuiwing by die myn was wat ’n myngang versper en die toegangspunte tot die myn geblokkeer het. Sowat 87 mynwerkers was in die myngange vasgekeer.
’n Reddingspoging is geloods om die mynwerkers uit die ingevalle myn te red. Dit was ’n uiters uitdagende en gevaarlike taak, aangesien daar ’n hoë risiko vir verdere grondverskuiwings en instortings was. Na ’n uitgebreide operasie is al die mynwerkers behalwe drie gered en na die oppervlak gebring.
Die families van die drie slagoffers wag steeds op antwoorde nadat die myneienaars en die regering versuim het om hulle by te staan en die lyke terug te kry.
Sedertdien veg die leier van ActionSA, Herman Mashaba, en sy party onsuksesvol ’n verbete stryd vir die heropening van die geslote myn in Louisville, sodat die oorskot van die drie werknemers herwin kan word.
Die party sê in ’n verklaring die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het vir die families van die drie mynwerkers wat gesterf het, gelieg toe hy aan die begin van Mei vir hulle gesê het dat die mynwerkers se lyke binne drie maande teruggekry sal word.
Fikile Mbalula misled the families of the Lily Mine victims by promising to retrieve the miners' remains within three months in May.
Since then, there has been no progress, and instead, ongoing legal battles have hindered the recovery efforts.https://t.co/l2yDGqAgQo
— ActionSA (@Action4SA) August 8, 2023
Meer as drie maande het verloop sedert Mbalula se belofte aan die families tydens ’n Werkersdaggeleentheid waar die myn geleë is. Sedertdien is geen vordering gemaak nie. ActionSA sê in plaas daarvan was daar slegs voortgesette litigasie om reddingsoperasies af te handel.
Hulle sê die families van die slagoffers en voormalige werknemers is deurgaans deur die ANC in die steek gelaat. Talle ANC-leiers – insluitend die voormalige minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, en die voormalige premier, David Mabuza – het vordering belowe, maar tot op hede is geen vinger nog verroer om dit te doen nie.
Dít nadat die ANC en Mbalula boonop die families se versoek vroeër vanjaar verontagsaam het dat aktiviste nie vir die Werkersdaggeleentheid ingery sou word nie, en dat geen luidrugtige bohaai gemaak word om die tragiese geleentheid te herdenk nie, maar dat dit ’n somber geleentheid moes wees om respek aan die afgestorwe mynwerkers te betoon.
ActionSA sê dit is net hulle president, Herman Mashaba, en meer onlangs die party se provinsiale voorsitter in Mpumalanga, Thoko Mashiane, wat genoeg vir die families omgee om hul respek te betoon en die families by te staan met regstappe teen die myneienaar en die staat.
Mashaba het reeds talle briewe geskryf om by die ANC-regering te pleit om op te tree en het gehelp om die aandag op die voortslepende tragedie in die media te vestig.
Die families van die drie mynwerkers wat gesterf het, vra nou dat die regering dringend die beloftes wat aan hulle gemaak is, nakom en tasbare stappe doen om hulle te help om hul geliefdes se liggame terug te kry sodat hulle ’n waardige begrafnis kan kry.