LitNet Akademies Weerdink: Om ’n transnasionale grootouer te word (waar wetenskap en kuns ontmoet)

  • 0

Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met vandag se aktuele kwessies. Die volgende artikel het in 2016 in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn: Grootouers se rolle en belewenisse as hoofversorgers van hulle kleinkinders.

Sulette Ferreira skryf in hierdie bydrae ook oor grootouers – diegene wat agterbly as hul kinders en kleinkinders emigreer.

"Jou skeefkrom reënboogprentjie Is al wat agterbly Verkreukel op my yskas" - uit https://www.facebook.com/watch/?v=3147078225557545&ref=sharing (met toestemming gebruik)

Ons onthou heel dikwels nie spesifieke dae of ure nie, maar wel oomblikke. Betekenisvolle oomblikke. Soos om ʼn grootouer te word.

“Julle gaan oupa en ouma word.” Hierdie aankondiging is só ’n besonderse, lewensveranderende gebeurtenis. Talle grootouers ervaar hierdie nuwe rol op ʼn spirituele vlak,1 selfs as ʼn religieuse gebeurtenis. Grootouerskap bied die geleentheid om opnuut by jou kinders se lewe betrokke te raak en ʼn dieper betekenis in jou lewe te vind.  Dit bied die geleentheid om die kleinkinders te sien ontwikkel en op ʼn liefdevolle manier ʼn impak op hulle lewens te kan hê. Hierdie emosionele betrokkenheid van die grootouer lê ʼn sterk grondslag in die kleinkind se ontwikkeling. Op hul beurt gee die kleinkinders groter betekenis aan die grootouer se lewe, wat noodsaaklik is vir gebalanseerde veroudering.

Daar is ook ander betekenisvolle oomblikke: die aankondiging: “Pa, Ma, ons gaan emigreer!”

Die emigrasie van individue en gesinne is vandag baie Suid-Afrikaners se werklikheid. Heelwat jong mense soek na groener weivelde elders in die wêreld. Hierdie groot verandering eis ’n tol op die emigrante én diegene wat in Suid-Afrika agterbly. Benewens ouderdom wat ’n rol speel in die intensiteit van die emosionele ervaring, moet die invloed van die afstand van verwydering ook in gedagte gehou word: verhuising binne Suid-Afrika maak reeds ’n groot impak; verhuising na ’n ander kontinent kan as traumaties ervaar word.

Vir diegene wat agterbly, was daar soveel verwagtinge van ʼn gedeelde toekoms wat nou stomp beëindig is. Onuitgeklaarde verlies loop soos ʼn goue draad deur hierdie verhale.

Waar wetenskap en kuns ontmoet

As navorser het ek die voorreg om emigrante en hul geliefdes se lewensreise te deel en ’n kykie in hul leefwêrelde te verkry. Maar met die kliniese rapportering van hierdie wetenskaplike navorsing is die fokus dikwels op statistiek. Wanneer die getalle op die voorgrond tree, raak die mens agter die statistiek maklik verlore. In teenstelling met hierdie kliniese aanslag kan digkuns innerlike beelde by die leser oproep. Hierdie verbeeldingsprente bewerkstellig dan ’n beter begrip van ’n persoon se ervaring omdat dit die belewenis van mense wat geraak word deur emigrasie, effektief inkleur.

In my navorsing oor die grootouer se belewenis van die emigrasie van hul kinders en kleinkinders was ek bevoorreg om ʼn spesiale gedig te ontdek wat hierdie bevindinge op ʼn heel ander wyse weergee. ʼn Gedig het die potensiaal om die klinies-rasionele te oortref en op ʼn baie meer emosionele vlak met ʼn mens in gesprek te tree. Met hierdie gedig word ons gedwing om verby die statistiek te kyk en te fokus op die individu en haar emosies, hoe die ervaring van emigrasie haar menswees raak. Die skanse vervaag en skielik het ons met ʼn mens te doen. Die stem van ʼn digter, in hierdie geval ʼn ouma, word ontdek.

Dit het gevoel asof hierdie ouma haar hart uit haar lyf haal, dit op die tafel voor my neersit en my uitnooi om mooi te kyk.

........

Kyk en luister hier na die lied waaroor die bespreking hier onder handel.

........

ʼn Gedig kan brûe bou

Ons word na ’n gedig aangetrek wanneer ons aanklank vind by die digter se emosies – wanneer iets uit ons leefwêreld ons kan laat verstaan hoe die digter voel. ’n Wedersydse begrip ontstaan: dit word een van daardie “aha!”-oomblikke wanneer jy ervaar dat die ander persoon presies verstaan wat jy probeer verduidelik.

Soms kan ’n gedig met jou hart in gesprek tree. Op só ’n manier kan ’n gedig ’n dialoog tot gevolg hê; ’n gesprek waartydens jy ervaar dat die ander persoon regtig na jou luister en empatie toon. Vir ʼn paar oomblikke is daar ʼn ware konneksie.

Hierdie gedig word gebruik om die verlies in die lewens van grootouers te illustreer om sodoende die navorsing vanuit ʼn ander perspektief te belig. Die ouma se emosie word intuïtief deur die gedig gedeel, wat op sy beurt my navorsingsbevindinge so goed verwoord en wat op ʼn verstaanbare wyse gestalte gee aan statistiese bevindinge.

Met die lees van die gedig “Onthou my” het dit gevoel asof ek die skrywer se binnelewe betree en haar pyn kon proe; ’n gekristalliseerde herinnering aan die talle kere wat ek daardie emosies ervaar het tydens my gesprekke met ma’s en oumas.

Grootouers se belewenis van emigrasie

Emigrasie is ʼn unieke ervaring vir elke rolspeler. Die proses het egter oor die algemeen ’n vasgestelde emosionele verloop wat volgens my navorsing in drie fases geskied. Elke fase word effektief deur ’n uittreksel uit die gedig verwoord.

  1. “Ons gaan Australië toe”: Volwasse kinders maak bekend dat hulle emigreer

Kinderdrukkies, skaterlaggies
Trippelvoetjies onder draairokkantjies
Dimpelarmdrukkies
hou my vas, hou my vas

Die emigrasie laat die ouer met teenstrydige gevoelens. Wanneer die kinders hul besluit om te emigreer vir die eerste keer bekendmaak, is dit die begin van ’n onomkeerbare domino-effek met transnasionalisme as uiteinde. Die ouer ervaar ambivalente gevoelens. Hulle redeneer dat dit beter en veiliger is vir die kind om elders te gaan vestig en stel dan ook die kind se geluk voorop. Maar die verwesenliking van die kinders se droom is gewoonlik ook die versplintering van hul eie toekomsvisie.

Die gedagte om te laat gaan is amper onuithoudbaar, daarom dié versoek: “[H]ou my vas, hou my vas.” Die verlies van die betrokkenheid by die kleinkinders en die betekenis wat kleinkinders tot hul lewens toevoeg, tree op die voorgrond.

Die grootouer se introspeksie lei tot gevoelens van kwesbaarheid. Die bekommernis om alleen agter te bly, om sonder die hulp en ondersteuning van die volwasse kind alleen voort te gaan, word beklemtoon. Verder lei die afwagting van die verlies van die kinders se praktiese hulp tot onsekerheid en angs.

In die ouer se gedagtewêreld begin hul selfs die moontlikheid oorweeg om te onderhandel om saam met die kinders te gaan:

Pak my in, Poppielop
Vat my saam, Lolliepop

Die grootouer besef die realiteit: dit is nie moontlik om saam te gaan nie. Hulle hoop word daarop gevestig dat hul kinders en kleinkinders hulle as grootouer in hul harte sal “inpak”, dat die grootouer in herinnering en wedersydse verlange in die nuwe land deel van hul kinders en kleinkinders se lewe sal wees.

Draai-draai saam met my
Vir oulaas voor jy gaan
Sing rol op die tolletjie
En klap jou handjies saam

Nog ʼn soen in die nek
Nog een druk voor jy gaan

Veral voor die kinders se fisiese vertrek ervaar die ouer die afwagting van die verlies van die nabyheid van kinders en kleinkinders, wat ook tot onsekerheid en angs lei.

Die geleentheid om fisiese kontak met die kleinkinders te hê, word daagliks minder. Veral met die aankondiging van die vertrekdatum word dié besef van verlies ’n koue werklikheid. Die fisiese liefkosing van die kleinkind met elke sintuig word dus al minder; dit is asof die uurglas al vinniger uitloop. As sy kon, sou die digter die uurglas probeer omdraai om die tyd net vir ’n rukkie te laat stilstaan:

En klap jou handjies saam
Nog ’n soen in die nek
Nog een druk voor jy gaan

  1. “Totsiens, Ouma”: Afskeid word geneem

Hierdie kort maar emosiebelaaide fase dui op die fisiese vertrek van die kinders en kleinkinders as die tasbare bewys van die verandering in die bestaande verhouding. In hierdie fase figureer die lughawe en dus ook veral vliegtuie en dit vorm ’n belangrike skakel in die emigrasieproses. Die afskeid is vir al die partye ’n nuwe ervaring, en daar bestaan geen gevestigde rituele in die hantering daarvan nie.

Die groot voël kom haal jou
Vat jou ver oor die see
Sy groot blink vlerke sprei
Donker skadu’s bo-oor my

Hierdie fase volbring die oorgang van grootouer na transnasionale grootouer.

  1. “Prentjies op die yskas”: Die postemigrasiefase

Tydens die postemigrasiefase is die volwasse kinders en kleinkinders fisies nie meer in Suid-Afrika nie en die uitleef van die verhouding het verander. Die geografiese afstand en ander tydsones het die verhouding onherroeplik verander. Onuitgeklaarde verlies kan ervaar word. Die grootouer pas aan by die feit dat die kinders en kleinkinders in ’n ander land woon. Vanweë die groot afstand en die beperkings van hulle gesondheid, het grootouers minder geleentheid om prakties teenwoordig en betrokke by die kleinkinders te kan wees.

Tydens die postemigrasiefase word verlies ’n werklikheid:

Jou skeefkrom reënboogprentjie
Is al wat agterbly
Verkreukel op my yskas

Grootouers vrees onder meer dat hulle die belangrike lewensfases van die kleinkinders gaan misloop. Dit is vir die grootouers van kardinale belang om deel te bly van hul kinders se lewens en dat die kleinkinders hulle sal onthou.

Onthou my…
Soos die hasie op die maan

Die digter verwys na die pret wat hulle voorheen gehad het, met ʼn oproep om die naghemel en die maan te gebruik om ʼn onsigbare band oor kontinente heen te behou.

Tydens hierdie fase vind ’n grootouer troos in dit waarin hulle die kleinkinders kan onthou, soos foto’s en kunswerkies of geskenkies. Kommunikasie via die internet hou die grootouer betrokke by die kinders en kleinkinders se lewe. Afgesien van e-pos en foto’s is kommunikasie via die internet deur stem- en video-gesprekke noodsaaklik vir die grootouer om betrokke by die kinders en kleinkinders te bly. Dit is daarom noodsaaklik dat die grootouer kreatiewe middele ondersoek om met die kleinkinders te kommunikeer. Die onus is veral ook op die volwasse kind om die verhouding lewend te hou.

Asseblief onthou my…

Weens globalisering is emigrasie en die emosionele effek daarvan vir Suid-Afrikaners ʼn teer punt. Dit is noodsaaklik dat die soeklig op die effek van transnasionalisme gewerp word. ’n Groter bewustheid van transnasionalisme is die eerste stap in die proses om nuwe maniere van saamwees, asook maniere om die verlies en verlange te hanteer, die hoof te bied.

Die kwesbaarheid van hierdie openhartige en eerlike gedig gee nuwe insig in die ervaringswêreld van die transnasionale grootouer. Deur hierdie kunsvorm vind die emosionele impak neerslag in elke leser se eie lewe, met ʼn potensieel-unieke interpretasie daarvan vir elkeen. In die afwesigheid van meer formele ondersteuning bied herinneringe en kreatiwiteit verligting van die aanhoudende verlies. Met hierdie kunsvorm word die verlies versag om uiteindelik te lei tot berusting:

In “onthou” trek ek saam
Soos die hasie op die maan


  • Dankie aan Menitza Botha en Cilliers Willers vir die hulp met die teks en alle insette.
  • Die gedig en die lied is met toestemming gebruik.

1 https://www.litnet.co.za/die-onderskatte-rol-van-die-oupa-en-die-storie-van-danie-reenwolf-du-toit-en-sy-oupa-danie-du-toit/

Lees ook:

Wanneer Ouma en Oupa die kinders grootmaak – 'n gesprek

Grootouers se rolle en belewenisse as hoofversorgers van hulle kleinkinders

Die onderskatte rol van die oupa – en die storie van Danie "Reënwolf" du Toit en sy oupa, Danie du Toit

Buro: NM
  • 0
Top