Die afgelope Junie was Pride-maand en is met ’n optog in Londen van die bekende Hyde Park tot by Whitehall Paleis afgesluit. Brittanje se eerste Pride-optog is in Londen op 1 Julie 1970 gehou. Hierdie datum is gekies as die naaste Saterdag aan die herdenking van die Stonewall-onluste op 28 Junie 1969, as gevolg van polisieoptrede teen ’n gaykroeg, die Stonewall Inn, in New York se Greenwich Village.
LGBT-regte kom ’n lang pad sedert 1791 toe Frankryk die eerste land geword het om homoseksualiteit te dekriminaliseer. Die globale LGBT-gemeenskap ervaar egter steeds onderdrukking, gevangenisstraf en selfs bedreiging met die dood in sekere lande. Bowendien, hul regte verskil breed, selfs in lande wat ons vanselfsprekend as inklusief ervaar.
Die onlangse geskiedenis toon dat dit beswaarlik ’n afdraende pad was sedert die 18de eeu. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het gedurende 1990 eers homoseksualiteit van hul klassifikasie van siektes en verwante gesondheidsprobleme verwyder. Sedert die ontstaan van die Verenigde Nasies (VN) in 1945 probeer burgerlike samelewingsorganisasies om menseregte te verander wat onder andere op seksuele oriëntasie en geslagsidentifikasie gebaseer is. In 1994 word diskriminasie teen individue op hul seksuele oriëntasie gebaseer ’n erkende oortreding van internasionale menseregte. 30 jaar later en volgens ’n opname gedoen deur die Thomson Reuters Foundation voel een uit drie gay mans steeds fisies of emosioneel onveilig tuis.
Hierdie onveilige gevoel is nie verbeelding nie. Soos sommige lande hul menseregte teenoor die LGBT-gemeenskap verbeter, so inspireer dit ander lande tot al strenger maatreëls teenoor selfdegeslag-verhoudinge. Geweld teenoor LGBT-gemeenskappe is wêreldwyd aan die toeneem volgens die Council on Foreign Relations. Drakoniese anti-gay-wette word steeds deur regerings aangeneem waar homoseksualiteit reeds onwettig is. Anti-gay-“propaganda”-wette word toenemend alledaags en is onlangs in Litaue, Tsjad, Libië en Nigerië aangeneem. Die vae en gewelddadige toepassing van die sogenaamde “losbandige” wette van Egipte is maar eintlik teen die LGBT-gemeenskap gemik.
Terwyl gelyke huwelikswette in verskeie lande wêreldwyd aangeneem word, bly dit insiggewend dat minder as 30 lande wêreldwyd tans selfdegeslag-huwelike erken. Vir menige mense bly dit ’n daaglikse realiteit dat dit taboe of teen die wet is om te wees wie hulle is en om lief te hê wie hulle wil. Homoseksualiteit bly onwettig in 35% van die Verenigde Nasies (VN) se lidlande (die meeste in die Midde-Ooste, Suidoos-Asië en Afrika) en slegs 6% van VN-lidlande sluit beskerming vir seksuele oriëntasie in hul grondwette in.
Die doodstraf is die wetlike en voorgeskrewe straf vir konsensuele selfdegeslag-seksuele ontmoetings in lande soos Iran, Mauritanië, Nigerië, Brunei, Saoedi-Arabië en Jemen. Dame Kelly Holmes (dubbel Olimpiese goue medalje-atleet in die 800 m en 1 500 m van Brittanje) wat ook aan die optog deelgeneem het, het eersterangse kennis van die vrees vir vervolging. Sy het vir jare as publieke persoon in vrees gelewe vir veroordeling en vervolging omdat sy ’n gay vrou is. Haar tyd as soldaat in die Britse weermag was een van stilswye en ontkenning en later het sy haar roem vir meer as 30 jaar gebruik om die hartseer in haar lewe te verberg. Twee jaar gelede op die ouderdom van 52 en ná ’n ineenstorting met die afsterwe van haar moeder, het sy besluit om finaal as ’n gay vrou bekend te staan. Tydens die Londen Pride 2022 het sy op die verhoog by Trafalgarplein haar nou bekende “Freedom is my voice”-toespraak gemaak. Sy erken dat sy daarna vir weke in ’n euforie geleef het omdat sy finaal vry was.
Gelukkig is dit darem nie alles verdoemenis en somberheid nie. Aan die einde van 2020 was daar 83 lande en 33 nie-onafhanklike jurisdiksies met voorsorg wat beskerming bied teen diskriminasie met indiensneming wat op seksuele oriëntasie gebaseer is. In baie lande is dit die sakesektor wat die voortou neem en is dit die eerste stappe na groter vryheid vir die LGBT-gemeenskap. Dit bly egter ’n voortdurende stryd, aangesien sodanige beskerming grootliks van land tot land verskil wat onregverdige afdanking, sekuriteit, werkvoordele, ensovoorts bied. Lande soos China en Indonesië bied tans geen sodanige beskerming nie.
Voorstanders van LGBT-regte wys daarop dat LGBT-regte uiteindelik menseregte is. Dit gaan oor mense se reg om te assosieer met wie hulle wil, om seksuele verhoudings aan te knoop of te trou met wie hulle wil, kinders aan te neem of voort te bring en hulself vrylik uit te druk sonder vervolging of geweld.
Hierdie jaar se Londen Pride het ongeveer 30 000 toeskouers en deelnemers opgelewer. Dis aansienlik kleiner as in vorige jare. In sommige kringe word beweer dat dit in ’n kommersiële skouspel ontaard het en dat die meeste toeskouers uit die sogenaamde straight gemeenskap is. Baie mense word ontmoedig deur die oordrewe fokus op die seksuele oriëntasie van sommige deelnemers en randfigure van die LGBT-gemeenskap. As fotograaf en verslaggewer was ek goed geplaas om aan die optog deel te neem en ook die toeskouers se reaksies waar te neem. Gemeet aan almal se uitbundige loslating van emosies, die laggende gesigte en die (steeds onsekere) skamerige toeskouers met hul reënboogvlaggies, blyk hierdie optogte wêreldwyd steeds ’n belangrike gebeurtenis te wees.
’n Mens kry duidelik die gevoel dat Londen se middestad op die dag van die optog aan die LGBT-gemeenskap behoort. Die deure van persepsie word oopgegooi en ander kamers van “normaliteit” word betree. Skielik is almal ingesluit en oral is daar breë glimlagte. Op Trafalgarplein weergalm Queen se “I want to break free” en die gepaardgaande video met sy seksuele innuendo’s word op die grootskerm vertoon. Ek vra een van die deelnemers uit oor die verrigtinge van die dag. Hy is ’n prokureur by ’n firma in die stad. Sy kommentaar is duidelik: “We just want to be included …”
- Teks en foto’s deur Stephen Fourie