"Verskeie Britse instellings kan vandag hul wortels terugspoor na die nederige koffiehuis. Die Londen Effektebeurs het sy ontstaan in Jonathan’s Coffee House in 1698 gehad waar handelaars ontmoet het om voorraad en kommoditeitspryse vas te stel. Veilings in die verkoopskamers wat daardie tyd aan koffiehuise geskakel was, was die begin van die groot afslaers Sotheby’s en Christie’s."
Gedurende 1674, met koning Charles ll aan die stuur van sake, kla Londen se vrouens dat koffie hul mans slap in die onderlyf maak en beroof die vrouens van welverdiende plesiertjies.
Londen se eerste koffiehuis is in 1652 deur ’n Turk, Pasqua Rosée – sy ware herkoms blyk ’n misterie te wees – naby die St Michaels-kerk in die hart van die stad opgerig. Vandag is dit ’n Jamaikaanse wynkroeg.
20 jaar later en Londen spog met 80 koffiehuise. Dit word die versamelplek waar mans hul daaglikse drankie kan geniet. Gedurende die jare in Cromwell se Brittanje was die gebruik van alkohol sterk ontmoedig en koffie het ’n baie meer aanvaarbare alternatief gebied. Anders as die gewone ontbytdrankies van die tyd, klein glasies wyn en bier, het koffie darem die manne wakker gemaak.
Die plek waar Pasqua Rosée sy eerste koffiehuis in Londen begin het, is nou ’n wynkroeg.
Die ligte opkikker-effek van kafeïen in die koffie het beteken dat dit vinnig die gunstelingdrankie onder die intellektueles van die stad geword het, net soos in die Midde-Ooste. Die koffiehuise het gou bekend geword as platforms vir ernstige debatte en besprekings oor relevante sake van die dag. Mens kan maar sê dit was die X (voormalig Twitter) van die 1700’s! So, byvoorbeeld, word beweer dat die herinstelling van Charles ll oor stomende koppies koffie in Londen se koffiehuise beplan is.
Vir die breë publiek van daardie tyd was koerante te duur om te koop, maar vrylik beskikbaar in die koffiehuise. Dikwels was die nuus van die dag teen die mure van die koffiehuise vertoon. Sommige kliënte het selfs hul gunstelingkoffiehuis as hul posadres gebruik. Dit was natuurlik ’n gewilde manier om ondermynende en ondergrondse nuus te versprei. Toe Voltaire uit Frankryk verban is, het hy ’n reeks briewe gedurende sy tyd in Brittanje geskryf, waarin hy hierdie tipe vryheid aangeprys het. Die idees wat hy gedurende daardie tyd ontwikkel het, het later die Franse en Amerikaanse Rewolusies beïnvloed.
Vroue is aanvanklik by die meeste koffiehuise verbied. Nie lank nie of die elegante dames van Londen het hulle misnoeë soos volg duidelik gemaak: “[…] we can attribute to nothing more than the excessive use of that newfangled, abominable, heathenish liquor called coffee, which […] has so eunuchized our husbands […] that they have become as impotent as age and as unfruitful as those desarts (deserts) whence that unhappy berry is said to have brought.”
In 1674 het die vroue ’n petisie opgestel waarin hulle versoek het dat hierdie nare koffiehuise gesluit word. “They come from it with nothing moist but their snotty noses, nothing stiffe but their joints, nothing standing but their ears.”
Vroue se petisie van 1674
Die petisie, afkomstig van vroue, klink verdag in ’n tyd waarin ’n vrou as ’n heks gebrandmerk kon word, net deur op ’n “verkeerde” manier na ’n man te kyk. Inderdaad het ons hier te doen met ’n vroeë vorm van fopnuus. Later het dit aan die lig gekom dat dit mans was wat hul as kwaai vroue voorgedoen het. Koffiehuise is deur die koning gesien as potensiële plekke waar die burgers politieke onrus kon versprei en waar gevaarlike idees uitgeruil kon word. Hy het wel probeer om die koffiehuise te sluit, maar daar was soveel teenstand dat die wetgewing later laat vaar is.
Verskeie Britse instellings kan vandag hul wortels terugspoor na die nederige koffiehuis. Die Londen Effektebeurs het sy ontstaan in Jonathan’s Coffee House in 1698 gehad waar handelaars ontmoet het om voorraad en kommoditeitspryse vas te stel. Veilings in die verkoopskamers wat daardie tyd aan koffiehuise geskakel was, was die begin van die groot afslaers Sotheby’s en Christie’s. Lloyd’s of Londen, die wêreld se grootste versekeringsreus, het sy ontstaan in Lloyd’s Coffee House in Lombaardstraat gehad en is deur Edward Lloyd bedryf. Hier het handelaars, skeepskapteins en onderskrywers van skeepsversekering ontmoet om besigheid te praat.
Teen 1739 was daar 550 koffiehuise in Londen. Die koffiehuise het vir ’n wyle afgeskaal met ’n toename in die gewildheid van tee, maar gedurende die Victoriaanse tydperk het koffie weer ’n oplewing getoon, veral weens die verbod op die gebruik van alkohol deur die sogenaamde matigheidsbeweging.
Vandag spog Londen met meer as 3 700 koffiehuise! Koffie is groot en toon steeds ’n opwaartse kurwe. Dit is dus geen wonder dat die Londen Koffiefees in 2011 begin is nie – slegs met ’n paar uitstallers in die Truman Brouery. Vandag is dit die grootste jaarlikse koffiefees in Brittanje met byna 30 000 besoekers en 250 uitstallers oor drie dae van April of Mei.
Londen Koffiefees 2024
Die Londen Koffiefees, of London Coffee Festival (LCF) soos dit amptelik in Londen bekend staan, se amptelike liefdadigheidsvennoot is Farm Africa wat verantwoordelike handel met onder andere koffieboere in Oos-Afrika bevorder. Twee groot borge van die fees is Lavazza van Italië en Löfbergs van Swede. Albei is reuse in die koffiewêreld. Löfbergs is oorspronklik in Karlstad in Swede deur drie Löfberg-broers in 1906 begin. Tans rooster hulle daagliks die ekwivalent van 10 miljoen koppies koffie per dag.
Die fees beslaan vier verdiepings van die Truman-bierbrouery in die ooste van Londen. Stap deur die groot ou swart houtdeure en die reuk van geroosterde koffiebone en vars espresso’s is oorweldigend. Elke stalletjie is omring deur besoekers op soek na die geurigste swart brousel. Die keuses is byna onbeperk. Koffies van Ethiopië tot Ecuador en latte’s tot yskoffie en alles tussenin.
Daar is iets vir almal. Besoekers arriveer in die hoop dat hulle die beste koffie gaan proe (en dit is ook so). Natuurlik droom besoekers hulle sal weggaan en om hul eie beste koffie te gaan rooster (ek sal straks nooit nie).
Myne is swart, asseblief
Vir my was die hoogtepunt van die fees egter die koffiemeesterkompetisie, wat uiteindelik deur ’n Japannees van Londen, Ryohki Hope, gewen is. Die kompetisie sluit onder andere in dat deelnemers ses filterkoffies se land van oorsprong uitken. Dit was fassinerend om te sien hoe die koffiemeesters die koffie met ’n eetlepel uit elke koppie proe en dan notas maak. Byna soos wynproe, maar hulle spoeg darem nie die koffie uit nie.
Met latte art vertoon die koffiemeesters verbluffende kunssinnigheid met die patrone wat hulle in die melkskuim maak – tot onder andere ’n kameelperd se nek en kop met kolle. Koffie word natuurlik altyd met sjokolade gekomplementeer, maar ek het die varsgebak onweerstaanbaar gevind. Niks kom by ’n stomende warm Americano en ’n vars soet kaneelrol nie.
Koffie- en gebakhemel
Wat ook al jou smaak, die Londen Koffiefees stel nie teleur nie. Ek het weggestap met ’n kop wat gons van al die kafeïen en suiker en net weer besef ou Pasqua Rosée se nalatenskap is veilig in die hande van die kontemporêre koffiemeesters. Koffie bly steeds die brandstof wat Londen se enjin aanvuur.
- Teks en foto’s deur Stephen Fourie