Los uit die grondwet, sê Motlanthe

  • 0

Grondhervorming in Suid-Afrika is nodig, maar dit is nie nodig om die grondwet te verander om die grondkwessie aan te spreek nie.

So het die voormalige president van die land, Kgalema Motlanthe, en verskeie ander sprekers gepleit tydens ’n vergadering om die vordering van die Suid-Afrikaanse Landbouontwikkelingsagentskap te bespreek.

Motlanthe sê dit is belangrik om eienaarskap van eiendom te verseker om ekonomiese groei te bewerkstellig. Dit is nie nodig om die grondwet te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak nie. Hy het gewaarsku dat dit ’n slegte invloed op die gemeenskap sal hê as eiendomsreg in Suid-Afrika nie beskerm word nie.

Die parlement moet binnekort die aanbevelings van ’n hoëvlakpaneel oor wets- en fundamentele wysigings bestudeer. Die ANC en EFF wil hê Artikel 25 van die grondwet moet gewysig word sodat dit makliker sal wees vir die regering om grond sonder vergoeding te onteien.

Verskeie kommentators en ekonome waarsku reeds geruime tyd dat dit uiters nadelige gevolge vir die land se ekonomie inhou as eiendomsreg nie gewaarborg word nie. Die regerende ANC is diep verdeeld oor die grondkwessie.

Motlanthe is een van diegene in die ANC wat glo dit is nie nodig om die grondwet te wysig nie. Hy het tydens Donderdag se vergadering gesê as eiendomsreg nie beskerm word nie, word die waarde daarvan vernietig. As eiendom geen waarde het nie, is dit nie moontlik om die ekonomie te laat groei nie, het Motlanthe gesê.

Die voorgestelde wysiging van die grondwet om grond sonder vergoeding te onteien het reeds opslae in die buiteland gemaak. Ekonome waarsku dat dit beleggers afskrik om in Suid-Afrika te belê.

Die Nederlandse parlement het ook reeds ’n mosie aanvaar wat versoek dat die Nederlandse regering standpunt inneem teen die Suid-Afrikaanse regering se voorgenome proses van onteiening sonder vergoeding.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het dit verwelkom en sê dit is ’n voorbeeld van toenemende buitelandse teenkanting teen pogings om onteiening sonder vergoeding te wettig en toe te pas. AfriForum verwelkom dit ook dat die mosie duidelik verklaar dat rasgebaseerde onteiening sonder vergoeding, strydig is met menseregte en bepalings van onder meer die Universele Verklaring van Menseregte en die Afrika-Handves van Menseregte.

Die paneel tydens Donderdag se vergadering was van mening dat Afdeling 25 van die grondwet, soos dit nou staan, voldoende is om oplossings vir die grondkwessie te kry.

As eiendomsreg in die gedrang kom sal mense nie hier wil belê nie, het Motlanthe gewaarsku. As jy aan eiendom dink en as eiendom nie deur die wet beskerm word soos wat tans die geval is nie, sal die chaos en anargie wat daarop volg moeilik wees om te voorsien, het die voormalige president gesê.

Die redakteur van Landbouweekblad, Chris Burgess, het tydens die paneelbespreking gesê die oorweldigende meerderheid boere, naamlik 99% van hulle, is gewillig om ’n aktiewe rol te speel in grondhervorming en wag net vir ’n teken van die regering.

Burgess sê dit is noodsaaklik dat die proses van grondhervorming sal slaag. Hy sê boere is die mees oopkopmense wat hy ken en daar is geen ander sektor wat ’n saak soos diéso konstruktief soos die boeregemeenskap benader nie.

News24 berig dat hierdie sentiment van Burgess ook deur van die land se megaboere gedeel word. Onder hulle is Nick Serfontein wat verlede jaar ’n ope brief aan president Cyril Ramaphosa geskryf het oor grondhervorming waarin hy die boere se hulp en samewerking aangebied het.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top