Die Nasionale Loterykommissie (NLK) gaan in die parlement voor stok gekry word omdat hulle miljoene rand geblaas het op regskostes en dissiplinêre navrae waarby vorige en huidige personeel betrokke is.
Hulle het tussen die boekjare 2019 en 2024 meer as R73 m aan prokureurs bestee om in interne dissiplinêre navrae en litigasie teen beide huidige en voormalige personeel op te tree wat fluitjieblasers was.
Die inligting het aan die lig gekom tydens vraetyd in die parlement toe die DA-parlementslid Toby Chance by die minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, wou weet wat die totale bedrag is wat die NLK bestee het aan regskoste en konsultante vir die inwin van regsadvies en regsmenings teen die media, politici en/of politieke partye en personeellede en litigasie vanaf 1 April 2020 tot op datum.
Daar is 50 sake gedokumenteer waar die NLK Arbeidshof-uitsprake betwis, personeelafdankings verdedig of teen personeel in dissiplinêre aangeleenthede gelitigeer het.
“Die enorme uitgawes aan regskoste illustreer hoeveel moeite die NLK gedoen het om sy korrupte transaksies te probeer bedek,” het Chance gesê.
Die DA het na aanleiding hiervan besluit om die Loterykommissie se beweerde korrupsietoesmeerdery te ondersoek.
Chance, die party se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, sê in ’n verklaring die DA sal wetstoepassingsagentskappe en die raad van die NLK in die komende vergadering van die betrokke portefeuljekomitee, wat op 5 November sal plaasvind, daaroor ondervra.
Een saak alleen, waarby die fluitjieblaser Mzukazi Makatse betrokke was, het meer as R8,8 miljoen gekos. Makatse, ’n voormalige NLK-werknemer, is geskors en ontslaan nadat hy geweier het om ’n multimiljoenrand-Lotery-toelaag vir ’n musiekfees met winsoogmerk af te teken.
Die NLK is ook R470 000 gefaktureer in verband met ’n dissiplinêre saak waarby Zintle Rungqu, Makatse se lewensmaat en die ma van sy drie kinders, betrokke was.
Beide Makatse en Rungqu was werksaam in die NLK se kantoor in Oos-Londen. Rungqu is kort ná Makatse se skorsing op bedrieglike aanklagte geskors waarvan sy later vrygespreek is. Ná haar vryspraak het Rungqu teruggekeer werk toe, maar Makatse het gesukkel om werk te kry en het glo erg depressief geword.
Nadat Makatse aangekla is, is Rungqu na bewering by die werk geteiken, en om die druk op haar te verlig, het sy uit hulle huis getrek na ’n leë fabriek wat aan ’n vriend behoort naby Oos-Londen se lughawe.
Makatse is in Augustus 2017 geskors en in Februarie 2018 afgedank. Ná sy afdanking het hy die saak in 2018 na die Hoogste Hof van Appèl geneem, waar hy verloor het. Rungqu is net voor Kersfees in 2018 geskors.
Die skorsing en afdanking het plaasgevind ten spyte daarvan dat Makatse kommer uitgespreek het oor korrupte transaksies binne die NLK. Sy appèlle vir geregtigheid is van die hand gewys, wat hom platsak gelaat het.
Makatse het in 2023 internasionale erkenning as ’n fluitjieblaser ontvang, synde een van vyf Suid-Afrikaners wat die Bloudruk vir Vrye Spraak-toekenning ontvang het.
“Ons sal verseker dat die volle omvang van korrupsie by die NLK ontbloot word. As dit duidelik word dat fluitjieblasers ’n dwaling van geregtigheid in die gesig gestaar het, sal die DA maniere ondersoek waarop Makatse en ander fluitjieblasers vergoed word indien hul bewerings waar is,” sê Chance.
Die DA sê hulle sal die huidige NLK-raad en wetstoepassingsagentskappe ook tydens die komiteevergadering verantwoordelik hou om te verseker dat hulle optree rakende die deurlopende kriminele ondersoeke deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ten opsigte van R1,4 miljard wat onwettig toegeken is.
Sou enige fluitjieblasers geregtigheid geweier word, is die DA bereid om regstappe te doen om hierdie onreg reg te stel en volle aanspreeklikheid en toepaslike vergoeding te verseker, het Chance gesê.