Die kommissaris van die Nasionale Loterykommissie (NLC) se skielike bedanking die afgelope week, enkele weke voordat haar termyn sou verstryk, hou glo verband met bewerings van ernstige onreëlmatighede waarby sy betrokke sou gewees het.
Die NLC het in ’n verklaring op Facebook bevestig dat Thabang Charlotte Mampane met onmiddellike ingang bedank het.
Die NLC sê in ’n kort verklaring die raad neem kennis van Mampane se bedanking en daar is ’n proses aan die gang om iemand in haar plek aan te stel.
Gedurende die tien jaar waartydens sy aan die stuur van die organisasie was, was daar verskeie bewerings van korrupsie en wanadministrasie ten koste van gemarginaliseerdes.
Dit is onlangs deur die publikasie GroundUp onthul dat sy na bewering geld gebruik het wat bedoel was vir die herbou van ’n skool wat deur ’n brand verwoes is, om ’n luukse huis ter waarde van R3,6 miljoen in ’n gholflandgoed naby Hartebeespoortdam te koop. GroundUp het gesê hy het bevind dat dit een van verskeie sulke huise is wat met loterygeld gekoop is.
Volgens GroundUp is die NLC besmet met korrupsie. Daar is glo miljoene rand se loterybefondsing wat wanbestee is en die huidige onthullings is glo slegs die seekoei se oortjies wat uitsteek.
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) kyk ook na wydverspreide onreëlmatighede by die NLC.
Die radio- en TV-aanbieder Bongani Bingwa het op Twitter gesê Mampane het haar pos voor die tyd ontruim omdat sy nie bereid was om die bewerings teen haar in die gesig te staar nie.
Thabang Charlotte Mampane. She earned R4.5m a year as National Lotteries Commission CEO. It wasn’t enough to buy her a luxury mansion and so instead monies earmarked for the poor and vulnerable were allegedly used instead. She chose to leave and not face the music. #702Breakfast
— Bongani Bingwa IG/TikTok: Bonglez (@bonglez) August 17, 2022
“Thabang Charlotte Mampane het R4,5 miljoen per jaar verdien as uitvoerende hoof van die Nasionale Loterykommissie. Dit was nie genoeg om vir haar ’n luukse herehuis te koop nie en daarom is geld wat vir die armes en kwesbares geoormerk is, na bewering eerder gebruik,” het hy op sy Twitterprofiel geskryf.
Mampane het ’n dissiplinêre proses in die gesig gestaar toe sy haar bedanking aangekondig het.
Die DA het ook haar bedanking in ’n verklaring verwelkom, maar sê dit kom te laat.
Die party sê daar is geen twyfel dat haar 10 jaar aan die stuur van die NLC gekenmerk is deur bewerings van korrupsie en wanadministrasie in die organisasie ten koste van die gemarginaliseerdes nie.
Daar word beweer dat die huis by Hartebeespoortdam geregistreer is in ’n trust waarvan Mampane en haar gesin begunstigdes was.
Die DA het ’n beroep op die SOE gedoen om ’n bewaringsbevel teen haar van die Spesiale Tribunaal (ST) te verkry en dat die raad teen haar moet optree.
“Ons hoop van harte dat beide die SOE en ST hierdie saak binnekort sal finaliseer.”
Die DA se adjunkskaduminister van handel, nywerheid en mededinging, Mat Cuthbert, sê die party sal nie rus totdat elkeen van daardie individue wat verantwoordelik is vir die plundering by die NLC agter tralies geplaas is nie.
’n Plofbare verslag het reeds in 2015 onthul hoe die hoofrisikobeampte van die NLC belangrike onreëlmatige bestuurskwessies uitgewys het wat aandag verg.
Die ondersoekeenheid AmaBhungane, wat ’n afskrif van die verslag bekom het, het die bal aan die rol gesit toe hulle vrae begin vra het aan sleutelspelers wat in die verslag geïmpliseer is, insluitend Mampane.
Volgens GroundUp was die verslag, wat in Oktober 2015 deur prokureur Trevor Bailey ingedien is, die resultaat van ’n ondersoek wat deur die NLC se eie direksie gelas is, maar dit was onderhewig aan hewige kritiek deur hoëprofielpersone binne die NLC, wat tot die effektiewe neutralisering daarvan gelei het.