Lui, lui telefoon, maar die polisie antwoord nie

  • 0

Die kanse dat die telefoon beantwoord gaan word as mens die polisie in Suid-Afrika bel, is in baie gevalle minder as vyftig persent – indien die amptelike opposisie se navorsing daaroor korrek is.

Volgens die DA se navorsing het net 44% van die 270 polisiestasies regoor die land wat deur hulle gebel is, hul telefone beantwoord.

Die DA het Dinsdag by die minister van polisie, Bheki Cele, se kantoor in Pretoria betoog om sy bedanking te eis en hul misnoeë te kenne te gee oor die misdaadsituasie in die land.

Ian Cameron van die burgerregte-organisasie Action Society het hom ook by hulle aangesluit. Hy sê daar is geen  verskonings meer vir mislukte geregtigheid nie. Volgens Cameron is die swak dienslewering en die huidige toestand van wanorde binne die SAPD ’n misdaad teen al die burgers van die land.

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê president Cyril Ramaphosa het geen vertroue in Cele nie, hoewel hy in die parlement sê dat hy wel vertroue in hom het. “Hy weet die ANC kan nie misdaad in Suid-Afrika beveg nie en dit is die werklikheid,” het Steenhuisen Dinsdag voor Cele se kantoor gesê.

Die DA sê in ’n verklaring die mees kommerwekkende is dat 40% van die 270 SAPD-stasies wat hulle regoor die land geskakel het, foutiewe nommers gehad het of nommers wat nie in bedryf is nie. Meer nog, 15% het volgens die DA ná twee minute se lui steeds nie hul fone beantwoord nie.

“Dit beteken dat desperate mense wat hul plaaslike polisie dringend nodig het, aan hulleself oorgelaat word,” sê die party in hulle verklaring.

Die DA sê die resultate van hulle navorsing bewys dat Bheki Cele nie omgee vir die veiligheid van Suid-Afrikaners nie.

Die provinsie met die swakste statistieke is die Oos-Kaap, met 18 uit die 30 stasies wat nie eers ’n werkende lyn het nie en met vier stasies wat na twee minute nie hul foon beantwoord nie.

Dit beteken dat mense in die Oos-Kaap 73% van hulle 30 polisiestasies nie in die hande sou kon kry as hulle in dreigende gevaar verkeer of ’n misdaad probeer aanmeld nie.

Die Wes-Kaap het die beste resultate behaal, met 23 uit 30 stasies wat hul telefone beantwoord het (77%).     

Nege van die stasies wat genoem word, verskyn op die top 10-lys vir moorde per stasie. Ses van hulle het óf nie hul fone beantwoord nie, óf het nie ’n werkende telefoonlyn gehad nie (66,6%).

Nege van die stasies wat genoem word, verskyn ook op die top 10-lys vir verkragtings per stasie. Ses van hulle het ook óf nie hul fone beantwoord nie óf nie ’n werkende telefoonlyn gehad nie (66,6%).

Die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, sê die SAPD is duidelik geensins funksioneel nie en dit moet reggemaak word. “As SAPD-lede nie eers in staat is om die publiek se oproepe te beantwoord nie, hoe kan hulle misdaad effektief bekamp?”

Die jongste misdaadstatistieke bevestig volgens die DA hoe gebroke die SAPD geword het terwyl geweld teen vroue, kindergebaseerde misdade en baie ander geweldsmisdade al hoe meer toeneem.

“Bheki Cele het keer op keer gewys dat hy eerder vir kameras sal poseer waar hy alkohol in die dreine gooi as om die basiese probleme binne die polisiediens te probeer oplos,” sê  Whitfield.

Hy sê  die DA is siek en sat daarvoor om te sien hoe die mense van Suid-Afrika ly onder Cele se gebrek aan leierskap. “Om dié rede het die DA Dinsdag na Cele se kantoor in Pretoria opgeruk met die duidelike boodskap ‘genoeg is genoeg’ en dat dit tyd is dat hy die pos ontruim.”

Volgens die jongste statistiek word daar elke dag 67 mense in Suid-Afrika vermoor en 153 verkrag en vind 364 gewelddadige rooftogte plaas.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top