
Voëls langs die pad, soos hierdie blouvalkie
“Is ons al daar?”
Het julle dit al gehoor?
“Is ons al daar?”
Wanneer jy met kinders reis, is dit ’n konstante refrein.
“Is ons al daar?”
Dit is deksels moeilik om daardie vraag elke paar minute te beantwoord.
Een van die beste maniere om dit (tydelik) te onderdruk, is om seker te maak dat die jongspan se aandag afgelei word.
Om voëls langs die pad raak te sien en te identifiseer is ’n enorme lekkerte én ’n manier om minder gereeld te hoor: “Is ons al daar?”
Ons het moeite gedoen om ons telge aan voëls bloot te stel. Gesinne wat in Suid-Afrika wil reis, kan gerus dieselfde doen. Ons land het ’n enorme aantal én verskeidenheid voëls. Ek was eenmaal in die motor saam met ’n goeie vriend wat professioneel voëls tel. Hy bring feitlik elke dag voëlidentifikasie, en die plek waar ons hulle gesien het, op ’n toepassing aan. Toe ons ná twee dae sy data as kolletjies op ’n kaart interpreteer, kon enige een die paaie wat ons gery het, volg. Oral was kolletjies.
Met ’n boek soos Kinders se voëls van Suider-Afrika deur Hélène Loon, uitgegee deur Struik, kan ’n mens begin telling hou van die voëls wat jy langs die pad sal aantref. Julle sál voëls sien en hoe meer julle probeer, hoe beter gaan julle word daarmee.
Voëls in die wildtuin, soos hierdie bromvoël
Meer nog: Diegene wat net agter leeus aanjaag as hulle in wildtuine kom, sal dikwels moeg en warm by die huis kom met knorrige kinders. As jy in die wildreservate begin voëls kyk, dan raak dit regtig pret.
Voëls in die tuin, soos hierdie klein-rooibandsuikerbekkie
Selfs in die tuin van die gastehuis of hotel sal daar waarskynlik voëls wees. Die hou van ’n lysie en die tel van die soorte voëls kan ure se genot en afleiding aan die jongspan verskaf.
Is dit ’n goeie boek?
Feitlik enige een kan deesdae ’n boek uitgee. Die vraag is dus: Moet iemand geld spandeer aan Kinders se voëls van Suider-Afrika?
Jip. Jy kan maar. Dit is ’n baie goeie voëlboek vir beginners, jonk én oud.
Ek wil graag verduidelik hoekom ek so sê.
Verskillende opsies
Kom ons begin by die uitgewer. Struik is die toonaangewende uitgewer van voëlgidse. Die gewildste gidse in Suid-Afrika is Newman se voëls van Suider-Afrika, saamgestel en geïllustreer Kenneth Newman, en Sasol se voëls van Suider-Afrika, saamgestel en geïllustreer deur Ian Sinclair, Phil Hockey en Warwick Tarboton. Albei is topverkopers. Beide word uitgegee deur Struik.
As veldgidse het dié twee nie gelyke nie. Watter een is die beste? Die antwoord is albei. Ek dra gewoonlik Sinclair met my saam; my geliefde dra Newman met haar saam. Dan vergelyk ons.
Die kelpmeeu is voorheen ’n grootswartrugmeeu genoem, Loon se boek dui die nuwe naam.
Deesdae is Sinclair se boek ook as ’n selfoontoepassing beskikbaar. Ons gebruik dit ook baie. Dit word ook deur Struik versprei.
As Struik dus Kinders se voëls van Suider-Afrika in die mark stoot, is hier ’n tendens te bespeur.
Is dit egter goed? Ja. Ek gaan ook die Engelse weergawe aanskaf.
Die gids is egter nie vir my nie – ek wil jong mense en beginners van alle ouderdomme hieraan blootstel. Ons besit ook Newman se veldgids in Engels en Afrikaans, want ons gee gereeld vir besoekers ’n boek as gids om voëls mee te kyk en nie almal wat kom kuier, is Afrikaans magtig nie. Sinclair s’n is in Engels en Afrikaans beskikbaar op ons fone. Ek en die geliefde het elkeen ’n eie kopie.
Gaan ek Kinders se voëls van Suider-Afrika dus aan ou mense ook beskikbaarstel? Jip. Vir iemand wat niks weet van voëls nie, is hierdie een ’n baie goeie beginpunt.
Gaan ek egter my eie veldgids by die huis los en net Kinders se voëls van Suider-Afrika, wat baie ligter is, saamdra. Nee, glad nie. Ek is lankal verby hierdie gids, maar toe ek ’n beginnerkyker was, sou dié een my gehelp het.
Die samestelling van voëlgidse
Ek was aanvanklik skepties oor hierdie gids, want voëlkykers het oor dekades heen geleer dat ’n mens ’n voël binne ’n sekere verwysingsraamwerk moet probeer verstaan. Iemand (ek weet nie wie nie) het al ons voëls in 14 groepe ingedeel. Ek wil nie nou te tegnies raak nie – blaai gewoon self deur Newman of Sinclair se boeke.
Voëls op die dak, soos hierdie wolnekooievaar
Vir my as ’n beginnerkyker het hierdie indelings egter glad nie sin gemaak nie. Ek het my dinges afgesukkel toe ek begin voëls kyk. En tog. Noudat ek die indelings begin verstaan, sal ek vinnig begin blaai na die regte plek in die boek as ek ’n voël sien waarvan ek nie mooi seker is wat dit is nie. Dit is egter 30 jaar later.
Ek het ook pas weer ’n resensie herlees wat Morné du Plessis geskryf het oor Die voëlgids vir Suider-Afrika deur Burger Cillié en Ulrich Oberprieler. Dié een is nie deur Struik uitgegee nie, maar deur LAPA.
Du Plessis prys die lieflike foto’s, maar sê:
Ek hou nie van ’n deurmekaarspul nie. En vir my is die orde waarin die lieflike ontploffing van diversiteit in hierdie gids uitgeplas word, ’n deurmekaarspul. Oberprieler en Cillie breek weg van tradisie deur voëls in sogenaamde maklik herkenbare groepe te verdeel. Terwyl die voëls in klossies sogenaamde soortgelyke groepe geklassifiseer word, is dit vir my ’n flou verskoning om iets anders as die meer tradisionele voëlgidse op te dis. Dit moet enige passievolle voëlkyker omkrap wanneer jy voor ’n vroeë identifikasie-keuse staan waar tussen 14 groepe gekies moet voordat jy nader kan insweef na jou teiken se identiteit toe. Verbeel jou, ’n groep bestaan met die beskrywing “Kleiner voëls met lang bene”. Vir my klink die ritme in hierdie klassifikasie tog te veel na “Husse met lang ore”.
Ek het self ’n kopie van hierdie boek besit en was ook opgewonde oor die mooi foto’s. Tog het ek dit later by die huis gelos om net as verwysing te gebruik, en nog later het ek dit weggegee. Dit is nie ’n swak boek nie, maar dit het my uiteindelik nie veel gehelp nie.
Sou ek dieselfde moes sê oor Kinders se voëls van Suider-Afrika deur Hélène Loon? Gelukkig nie.
Voëls wat jou kos steel, soos hierdie swartkopwielewaal
Loon breek ook weg van die 14 groepe, maar sy maak haar merk in 80 bladsye. Danksy die lieflike foto’s en die feit dat sy families bymekaar hou, kan ’n mens gewoon blaai tot jy die familie identifiseer. Sy kategoriseer ook – sy het sewe groepe en ek is glad nie seker of hulle noodwendig reg is nie. Gelukkig kan ’n mens haar kategorieë bloot ignoreer en gewoon blaai, kyk en geniet. Op dié manier sal ’n mens betreklik maklik by die familie uitkom.
Du Plessis het ook hierdie kritiek gelewer op Cillié en Oberprieler se gids:
En verbeel jou, hierdie gidsboek raak sommer tjoef-tjaf ontslae van die pelagiese (diepsee-) seevoëls en swerwers. Dit sny amper ’n honderd spesies uit die meer konvensionele gidsboeke vir Suider-Afrika.
Nou ja. In die 80 bladsye tot haar beskikking probeer Loon ook glad nie almal dek nie.
- Sterretjies en meeue kry een bladsy. Sinclair lys ses soorte roofmeeue, 13 soorte meeue en 27 soorte sterretjies.
- Loon gee twee bladsye aan albatrosse en stormvoëls. Sinclair lys 17 soorte albatrosse en 30 soorte stormvoëls.
Dit klink dus of Loon se boek erg onvolledig is, maar in haar geval is dit is juis ’n goeie ding. Ek kyk al 30 jaar lank ernstig voëls, maar ek gaan in my lewe nooit al die raar voëls raakloop in Newman of Sinclair se boeke nie.
Loon se boek sal jou help om te weet dit is ’n spreeu. Ernstige voëlkykers sal wil weet watter een?
Loon help die leser dus om die voëls wat ’n mens waarskynlik gaan raakloop se familie te identifiseer. Sy prikkel die kyker om nuuskierig te wees en dan te begin interpreteer volgens breë familie-ooreenkomste. Sy weet – of laat ek eerder sê sy hoop – dat diegene wat haar boek baie gaan gebruik, later nie meer tevrede sal wees om net te sê “suikerbekkie” of “visvanger” nie. Dit is op daardie punt dat jy een van die goeie veldgidse, soos Newman of Sinclair, of albei, aankoop. Veel later, wanneer jy besef dat ook hierdie “goeie” gids nie altyd help nie, begin koop jy spesialisgidse.
Suid-Afrika as voëlkykparadys – ook vir kinders
Ons het ons kinders van jongs af aan voëls bekendgestel. Later het my seun selfs begin om hulle af te neem. In hulle tienerjare was dit nie baie cool om saam met die ouers enige iets te doen nie, maar nou is hulle volwassenes en ek kry gereeld berigte oor interessante voëls wat oor hulle pad gekom het.
’n Voëlkyker op ’n jong ouderdom
Of jy jonk is, of oud; of jy ’n beginnerkyker of absolute kenner is, daar sal gereeld voëls te sien wees in Suid-Afrika. Ons land is juis ’n bestemming vir ernstige voëlkykers, want hier is soveel om te sien.
Kinders se voëls van Suider-Afrika deur Hélène Loon is ’n heerlike boek om mee te begin om ons voëls te ontdek. Vriende, en selfs ernstige voëlkykers, sal boonop beïndruk wees as jy kan sê “Dit ’n visvanger, bleshoender, troupant, papegaai of suikerbekkie.” Jy gaan gou genoeg wil weet watter sóórt troupant, watter sóórt suikerbekkie. Hierdie gids sal vir jou van die antwoorde kan gee, maar nie almal nie. Dan kan jy een van die ander gidse koop, want dan sal jy genoeg verstaan van die families om veel makliker die voëls op te spoor in die meer as 400 bladsye wat tradisionele gidse beslaan.
Kinders se voëls van Suider-Afrika deur Hélène Loon is ’n lieflike boek propvol feite. My geliefde, ’n akademikus en navorser, het haar verkneukel in die inligting in hierdie boekie van 80 bladsye.
Ek sal nie self Loon se boek gebruik as ek veld toe gaan nie – dit sal nutteloos wees vir my; maar ek gaan dit sonder twyfel saamneem as ek jonger voëlkykers, of beginnervoëlkykers, by my het.
As jy nog nooit voëls gekyk het nie en te bang is, koop hierdie gids. Ek dink nie jy sal spyt wees as jy en jou kinders eers die genot van voëls begin ontdek nie. Met hierdie boek in die motor sal die kanse goed wees dat jy minder sal hoor: “Is ons al daar?”
Titel: Kinders se voëls van Suider-Afrika
Skrywer: Hélène Loon
ISBN: 9781775848332
Uitgewer: Struik
Ook beskikbaar as:
Kid’s birds of Southern Africa
9781775848318
Eyezingane Izinyoni zaseNingizimu ye-Afrika
9781775848493
Foto’s in hierdie artikel: Izak de Vries