Sistemiese gebreke was die oorsaak van die onlangse ineenstorting van vier geboue in Suid-Afrika wat 17 lewens geëis het, terwyl 24 mense beseer is.
Die voorvalle het tussen Desember 2025 en Maart 2026 plaasgevind in Verulam (KZN), Soweto, Johannesburg en Kaapstad.
Die minister van openbare werke en infrastruktuur, Dean Macpherson, het gister (Donderdag) tydens ’n mediakonferensie in Pretoria beklemtoon dat die vier tragedies verskillende oorsake gehad het, maar saam herhalende sistemiese swakhede in Suid-Afrika se boudbedryf blootgelê het.
Die ondersoeke is deur die Raad vir die Bou-omgewing (RBO) uitgevoer en het ’n tegniese, regulatoriese en professionele fokus gehad. Macpherson sê dit beteken nie Suid-Afrika het ’n algehele gebrek aan wetgewing wat konstruksie reguleer nie.
“Daar is reeds ’n regulatoriese raamwerk wat beplanning, boustandaarde, beroepsgesondheid en -veiligheid, professionele regulering, munisipale goedkeurings en konstruksie dek. Die probleem lê by swak afdwinging, munisipale kapasiteit, professionele aanspreeklikheid en swak inligtingdeling,” het die minister gesê.
Die ernstigste voorval het op 2 Maart 2026 in Ormonde, suid van Johannesburg, plaasgevind. Nege konstruksiewerkers is dood en ses is beseer toe ‘n deel van die tweede verdieping tydens konstruksie ineengestort het.
Werkers is onder betonpuin vasgevang. Die ondersoek het bevind dat die balke en kolomme wat die betrokke strukture ondersteun het, nie sterk genoeg was om die ekstra las tydens konstruksie te dra nie. Daar was ernstige kommer of die kontrakteurs oor die nodige konstruksiewerkpermitte en gesondheid-en-veiligheid-personeel beskik het.
Ondersoekers het die voorval beskryf as “’n ramp wat gewag het om te gebeur”. Die struktuur is sonder goedgekeurde planne gebou en was onwettig volgens die Stad Johannesburg se regulasies. Die ontwikkelaar was New Order Investments. Latere ondersoeke het meer as 30 eiendomme in die gebied met dieselfde eienaar verbind, met ’n wydverspreide gebrek aan nakoming van regulasies.
In Desember 2025 het ’n vyfverdiepinggebou in Redcliffe, Verulam ineengestort terwyl nat beton gegiet is. Die struktuur was ’n deel van ’n uitbreiding by die New Ahobilam Temple of Protection.
Vyf mense is dood en 11 is beseer. Die ondersoek het bevind dat daar geen goedgekeurde bouplanne, geen konstruksiewerkpermit, geen kennisgewing aan die Departement van Indiensneming en Arbeid, en geen gekwalifiseerde bouinspekteurs aangestel was nie. Substandaard beton en betonstaal is gebruik. Die struktuur is as ongemagtig, onwettig en sonder toesig beskryf. Die eienaars het vorige hofbevele om konstruksie te staak, geïgnoreer.
Op 28 Desember 2025 het ’n dubbelverdiepinghuis in Doornkop, Soweto, ineengestort. Drie gesinslede, insluitend ’n baba, is dood en ander is beseer. Die gebied is bekend vir dolomietgrond met ’n hoë risiko van sinkgate en die insak van die grondoppervlak.
Die tweede verdieping is sonder goedgekeurde planne of toesig van ’n strukturele ingenieur bygevoeg. Die Stad Johannesburg het voorheen inwoners uit die gebied verskuif juis weens die dolomietrisiko, maar sommige het teruggekeer.
Die vierde voorval was in Februarie 2026 by die Magnolia-ontwikkeling in Seepunt, Kaapstad. Tydelike strukture soos steierwerk het gedeeltelik ineengestort tydens die konstruksie van ’n luuksewoonstelprojek. Twee tot vier werkers is beseer, maar niemand is dood nie. Die tydelike strukture is te vroeg belas terwyl hulle nog onstabiel was. Die permanente struktuur self is nie gekompromitteer nie.
Hierdie tragedies volg op die katastrofale George-tragedie in Mei 2024, waartydens 34 mense gesterf en 28 beseer is. Daardie voorval het ook sistemiese probleme blootgelê, insluitend swak beton en geïgnoreerde waarskuwings.
Macpherson het reeds in Julie 2026 nuwe regulasies en ‘n konstruksieveiligheidsraamwerk aangekondig om toesig te verskerp, veral rondom strukturele en dolomietrisiko’s, professionele bevoegdheid en munisipale afdwinging. Hy het Donderdag herhaal dat “nul” ongelukke die teiken moet wees.
“Voorkombare konstruksiesterftes moet gestop word,” het hy gesê. “Ons het strenger gevolge, beter munisipale inspeksies en strenger professionele toesig nodig.”
Die ondersoeke is op aanspreeklikheid gemik. Moontlike stappe sluit dissiplinêre optrede teen professionele persone in, asook verwysings na die polisie of arbeidsowerhede. Volledige verslae en spesifieke aanbevelings sal aan relevante owerhede deurgegee word vir verdere opvolgaksie.
Die vier voorvalle het wydverspreide kommer oor konstruksieveiligheid en regulatoriese toesig in Suid-Afrika ontlok. Macpherson se boodskap was duidelik: Die wetgewing bestaan, maar sonder konsekwente afdwinging en professionele integriteit sal sulke tragedies aanhou gebeur.
- Lokprent deur Angelo Giordano van Pixabay
