’n Oorspronklike skets wat deur oud-president Nelson Mandela van sy tronksel se deur op Robbeneiland geskets is, sal na verwagting vir meer as R1 miljoen verkoop word wanneer dit volgende maand in Amerika opgeveil word. Die skets word, onder andere, op die webwerf Just Collecting geadverteer.
Hy het die skets van sy tronkdeur op Robbeneiland in 2002 gemaak, lank nadat hy vrygelaat is. Hy is 18 jaar lank in die sel op Robbeneiland aangehou.
Die skets word op 2 Mei op Bonhams se Afrikakuns-verkoping in New York opgeveil. Dit is die eerste keer dat ’n kunswerk deur Mandela op dié mark beskikbaar sal wees.
Mandela is in 1962 lewenslank tronk toe gestuur nadat hy aan hoogverraad skuldig bevind is en was vir 27 jaar lank in die tronk voordat hy in 1990 deur oud-president FW de Klerk vrygelaat is en Suid-Afrika se heel eerste demokraties verkose president geword het.
Na sy amptelike aftrede in 1999 het hy onder leiding van sy kunsonderwyser Varenka Paschke begin met kreatiewe kunswerk as ’n terapeutiese tydverdryf. Hy het in 2002 net meer as 20 sketse gemaak oor sy byna 30 jaar in die tronk.
Die skets van sy tronkdeur wat volgende maand opgeveil word, is ’n vetkryt-werk en een van die min kunswerke wat hy in sy persoonlike versameling gehou het. Na sy dood het sy dogter Pumla Makaziwe Mandela die skets geërf en besluit om dit nou te laat opveil.
Pumla sê na haar pa se aftrede as president het hy meer vrye tyd gehad en nie so besige program soos voorheen nie. “Ek dink kuns was vir hom ’n goeie manier om homself uit te druk en vrede te maak met die geskiedenis en vrede te maak met die verlede.” Sy sê sy sal nie sover gaan om dit demone te noem nie, maar dat sy kuns hom wel gehelp het om tot berusting te kom met sy hele lewe.
Tien van die sketse wat Mandela gemaak het is voorheen as litografieë gereproduseer vir die reekse My Robben Island (2002) en Reflections of Robben Island (2003).
Die skets van sy tronkdeur wat volgende maand opgeveil gaan word, was nie deel daarvan nie omdat hy dit as uiters persoonlik beleef het en vir homself gehou het.
Na sy vrylating het Mandela gesê as hy terugdink aan sy dae op Robbeneiland, sien hy dit as ’n viering van die struggle en simbool van die beste kwaliteit in die menslike gees, eerder as ’n monument van brutale tirannie en onderdrukking weens apartheid.
Bonhams se direkteur van moderne en kontemporêre kuns, Giles Peppiant, sê die persoonlike geskiedenis en kulturele gravitas wat Madiba in die kunswerk vasgevang het, is van groot betekenis. Die werk sentreer rondom ’n simboliese sleutel in die slot wat ’n teken van hoop is.
Verskeie ander kunswerke van Mandela is internasionaal opgeveil en vir groot bedrae verkoop. Netwerk 24 berig dat ses kunswerke van Mandela se arms en hande wat deur homself geskep is in 2016 in Hongkong opgeveil is. Dié werke wat hy in 2004 gemaak het, is as litografiese werke gereproduseer en 39 Suid-Afrikaanse en internasionale kunstenaars is genooi om hulle oorspronklike skilderkuns daarby te voeg.
Buro: NB