Die Madlanga-kommissie wat ernstige bewerings van korrupsie en ontwrigting in die polisie- en justisiestelsel moet ondersoek, kan nie net nog ’n duur praatjie word nie. Dit moet ’n keerpunt wees in die heropbou van geloof in die oppergesag van die reg, en eweneens ’n keerpunt in die verplettering van die sindikate wat op politieke beskerming gedy.
So sê die DA in ’n verklaring nadat die kommissie die afgelope week met hul werksaamhede begin het. Die ondersoek poog om agter die kap van die byl te kom oor bewerings van korrupsie en wanpraktyke wat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, generaal Nhlanhla Mkhwanazi, in Julie oor die strafregstelsel gemaak het.
⚖ As the Madlanga Commission resumes its work, the DA is demanding practical reforms to restore dignity to SAPS, the NPA and intelligence services. Read more: https://t.co/TmhRKk9Ibs pic.twitter.com/gAFrxRNdnA
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 17, 2025
Die kommissie, onder voorsitterskap van regter Jali Madlanga, het die afgelope week die eerste getuienis aangehoor toe Mkhwanazi begin het met sy getuienis.
Die kommissie is op 14 Julie 2025 deur president Cyril Ramaphosa ingestel ná plofbare bewerings deur Mkhwanazi dat senior polisiebeamptes, politici (insluitend die tans geskorsde polisieminister Senzo Mchunu), en selfs regters betrokke is by die beskerming van kriminele sindikate. Hy het gewaarsku oor ’n “ineenstorting” van die strafregstelsel as gevolg van hierdie infiltrasie, insluitend die manipulasie van ondersoeke, intimidasie van getuies, en politieke inmenging in sake soos dwelmsmokkelary en politieke moorde.
Die kommissie moet binne drie maande ’n tussentydse verslag en binne ses maande ’n finale verslag aan die President lewer.
Mkhwanazi het gedetailleerde getuienis gelewer oor die “verrotting” in die stelsel”. Hy het beskryf hoe besigheidsmense en politici na bewering inmeng om sake te sluit, insluitend beweerde inmenging deur Mchunu in polisie-operasies.
Die verhore sal onder andere fokus op die sukses van die taakspan wat politieke moorde in KZN moet ondersoek, maar ook op breër probleme met misdaadintelligensie en die NVG. Die kommissie het beklemtoon dat ontwrigting van hul werk (byvoorbeeld deur getuies), boetes of tot se maande se tronkstraf kan meebring.
Mkhwanazi het gister (Donderdag) sy getuienis voortgesit. Hy het oor bepaalde dokumente verslag gelewer, insluitend briewe van voormalige minister Bheki Cele, en besonderhede oor hoe politieke inmenging ondersoeke belemmer.
Op X word die verhore, wat regstreeks uitgesaai word, aktief gevolg, met besprekings oor Mkhwanazi se waarskuwings en kritiek op die kommissie se doeltreffendheid.
Lt-Gen Nhlanhla Mkhwanazi’s testimony before the Madlanga Commission has unveiled deep cracks in SA’s policing pointing to political interference, criminal syndicates, & systemic rot. pic.twitter.com/a5R9oC0GpY
— POWER987News (@POWER987News) September 18, 2025
Die MK Party het die aanvang van die ondersoek verwerp, met die stelling dat dit nie die kernprobleme ondersoek nie.
MK se poging om die kommissie se verrigtinge stop te sit, is Donderdag van die rol geskrap.
BREAKING NEWS
MK Party Leader Jacob Zuma’s court bid to stop the Madlanga Commission of Inquiry in to General Nhlanhla Mkhwanazi's Allegations has been struck of the roll pic.twitter.com/n1aWnRGgFl
— News Live SA (@newslivesa) September 18, 2025
Die kommissie se werk is van nasionale belang, aangesien dit die integriteit van wetstoepassing kan herstel. Ramaphosa het dit as ’n “missie van dringendheid” beskryf om vertroue in die stelsel te herbou. Bevindinge is nie bindend nie, maar kan tot vervolging en hervormings lei.
Die DA sê in hulle verklaring die kommissie moet politieke inmenging en kriminele infiltrasie blootlê. Betrokke individue moet vinnig aanspreeklik gehou word, wat skorsing of vervolging sou kon insluit.
Die DA se woordvoerder oor polisie, Lisa Schickerling, sê getuies moet beskerm word en dringende hervormings moet geïmplementeer word om vertroue in wetstoepassing te herstel.
“Hierdie kommissie moet die waarheid sonder vrees of begunstiging nastreef. Suid-Afrikaners kan nie nog ’n ondersoek bekostig wat politieke swaargewigte omseil of die goed gekonnekteerde individue beskerm nie.”
Die Madlanga-kommissie loop parallel met die parlementêre ad hoc-komitee wat gestig is om Mkhwanazi se bewerings te ondersoek. Lede van die komitee sal die kommissie se verhore noukeurig monitor.
Die finale verslag moet volgens die DA dringende, praktiese hervormings voorstel om die integriteit van die SAPD, die NVG en intelligensiedienste te herstel, en die voorstelle moet sonder versuim deur die uitvoerende gesag geïmplementeer word.
