Magnus Malan en die ore van die seekoei

  • 0

’n Vriendin se man, ’n speurder in die polisie, is gewond in ’n skietgeveg met ’n bende in ’n Johannesburgse straat. Toe hy wakker word net voor hy die operasiesaal binnegaan, sien hy die man op die trolliebed langs hom is die een wat hom geskiet het. Hy kon sy hand vasgehou het, maar hy wou nie juis nie.

Dit was hoe dit gegaan het in die nuwe Suid-Afrika (die voorval was in die 1990s). Dikwels is misdadigers beter as hul slagoffers behandel, want die nuwe menseregtebestel het vereis dat die staat enige verwonde mens in sy sorg die beste behandeling moontlik moes gee, in ’n private hospitaal. As die slagoffer nie op ’n mediese fonds was nie, moes hulle maar regkom met die veel minderwaardiger openbare hospitale.

Iets soortgelyks het gebeur met mense wat baie van hul nuwe landgenote as die grootste misdadigers van apartheid gesien het. Wouter Basson was aan die hoof van ’n program wat na bewering navorsing oor gif in drinkwater vir swart mense gedoen het; 200 aktiviste is uit klein vliegtuigies in die Atlantiese oseaan gegooi. Basson is vrygespreek op ’n tegniese punt. Op ’n stadium het hy ’n man se lewe gered toe die op ’n sypaadjie ineenstort en vandag doseer hy medisyne aan ons seuns en dogters.

Sy  uiteindelike baas, Magnus Malan, was eers hoof van die destydse SA Weermag en toe minister van verdediging. As die president, PW Botha, se regterhand, was hy die dryfkrag agter die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel, wat allerlei onwettige veldtogte in die laaste jare van apartheid geloods het. Basson se program het James Bond-agtige vryhede gehad. Die Burgerlike Samewerkingsburo het aktiviste vermoor, ook Afrikaanses soos Anton Lubowski van Namibië. Ek sal die koue rilling wat langs my ruggraat afgegaan het toe ek as nuusredakteur van Vrye Weekblad die eerste nuus kry omtrent die 1990s se treinaanvalle, nooit vergeet nie. Hoogs opgeleide aanvallers het in propvol waens geklim en tientalle mense op ’n slag uitgemoor, net om weer soos skimme te verdwyn.

Ons en ander het dit deel van die Derde Mag genoem. Die woord het later in onbruik verval, omdat daar nooit enige klinkklare getuienis van so ’n formele instelling was nie. So iets was moeilik om te bewys, want die Weermag het tonne dokumente verbrand: die wolke rook het vir weke lank bokant sy hoofkwartier in Pretoria gehang. Alles onder die waaksame oog van Malan. Oor die treinaanvalle is nooit uitsluitsel gekry nie, al wat ons weet is dat dit nie tsotsi’s van Soweto was nie.

Soos Basson, is Malan gedaag om verantwoording te doen, eers in 1995 as beskuldigde saam met 20 voormalige soldate in die Kwamakuta-verhoor, oor die moorde op 13 burgerlikes, insluitende ses kinders, en toe voor die Waarheidskommissie. Deurgaans het hy ontken dat hy ooit iets onwettigs gedoen het. Sy kwytskelding word deur baie regslui as een van die skreiendste beslissings in die regsgeskiedenis beskou. Malan was vry om die land se sypaadjies te betree, sy slagoffers se hande vas te hou.

Nou, na sy dood in 2011, is hy weer in die nuus. ’n Voormalige speurder, Mark Minnie en voormalige joernalis, Chris Steyn, se boek, Die seuns van Bird Island het verskyn. Daarin is beweer dat Malan in die 1980s deel van ’n kring pedofiele was, saam met ’n sakeman en ’n minister, wat selfdood gepleeg het net voor hulle aangekla is. Die skrywers sinspeel dat hulle vermoor is.

Wolhaarstories! het voormalige kollegas van Malan, brieweskrywers en trolle gesê. Maar toe tree een van Malan se slagoffers na vore, en bevestig baie van die detail, hoewel anoniem. Bevestiging uit ’n tweede bron is ook gekry dat ’n voertuig van Militêre Intelligensie gereeld gebruik is om bruin seuns met lekkers te lok vir “visvangsessies” op Bird Island.

Kort hierna het Minnie oënskynlik selfdood gepleeg. Dit lyk nie of daar ooit beslissende getuienis sal wees dat Malan wel deel van die kring was nie. Maar dit maak nie werklik saak nie. In ’n wêreld waarin slagoffer en misdadiger saam in die hospitaal beland, Mengele-tipes jou lewe op straat kan red, en almal saam vir die Springbokke skree, verloor onskuld, net soos skuld, sy krag. En as onskuld haarself nie meer kan identifiseer nie, stel sy haarself bloot aan besmetting van enigiets en alles.

Dit sal nie die laaste keer wees dat die wetsgehoorsame Magnus Malan die teiken van beskuldigings sal wees nie. Daarvoor het hy te veel dinge weggesteek. Maar eerder as dat dit hom vrygespreek het van die oordeel van sy medemense en die geskiedenis, het dit ’n carte blanche aan hulle gegee. Skrywers, dramaturge, skinderbekke, geskiedkundiges, navorsers, politici en enigiemand wat wil worstel met geregtigheid sal in hom altyd ’n model vind om aan te kap en te klink.

Wat minder aandag sal kry, is dat hy ook as sinnebeeld van manlike krag, soos die enkele mense wat hom verdedig hom beskryf, nie die mas kon opkom nie. Magnus se troepe in die townships, sy moordbendes, sy sluipmoordenaars en sy bataljonne in die buurlande was toe nie genoeg nie. Dis net in vlugtelingkampe soos Cassinga en met enkelinge soos Lubowski dat hulle sukses behaal het.

’n Ander beeld wat my sal bybly, is die toneel in ’n dokumentêre film deur ’n Palestynse joernalis oor die Kubane se ingryping in Afrika. Magnus gooi sy hande moedeloos in die lug: “Hulle het alles beheer vanuit Havana!” Fidel Castro se lugmag en vloot het hom ore aangesit.

Oom Ore is ook hoe een van sy beweerde slagoffers hom genoem het. Hoe lui die spreekwoord: die oortjies van die seekoei ... Magnus kon syne nie onder die water laat sak nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top