Opposisiepartye in die Wes-Kaap is vies omdat die nasionale regering ’n stokkie gesteek het voor die provinsie se planne om hulle eie entstof teen die COVID-19-virus te bekom.
Die Wes-Kaap se premier, Alan Winde, het vroeër die week in ’n onderhoud met die radiostasie Cape Talk gesê die provinsie beplan om hulle eie vaksines te bekom aangesien hulle nie op die regering kan staatmaak as die enigste verskaffer van die entstof nie.
Winde het gesê dit sal nie net tot voordeel van die Wes-Kaap wees nie, maar tot voordeel van die hele land. Sodoende sal daar meer entstof in die land wees as wat die geval sou wees indien die nasionale regering alleen daarvoor verantwoordelik is. Winde het ook gesê hy sal bereid wees om enige surplusentstof wat die provinsie kan bekom, met ander provinsies te deel.
Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het egter gou koue water op die Wes-Kaap se planne gegooi. Volgens Mkhize moet die uitrol van die entstof deur die nasionale regering hanteer word, en nie deur provinsies nie.
Mkhize sê groot farmaseutiese maatskappye verkies om met nasionale regerings te onderhandel, omdat besendings op groot skaal gedoen word. Hy het gepraat tydens sy besoek aan gesondheidsfasiliteite in Limpopo. Mkhize sê ook dit sal onprakties wees vir provinsiale regerings om die uitrol van die entstof te bestuur.
Foto: Daniel Schludi (Unsplash.com)
Die Vryheidsfront Plus (VF+) het hulle by die DA geskaar en sê die redes wat Mkhize aanvoer waarom die sentrale regering alleen die aankoop en verspreiding van die entstof moet behartig, is ’n swak poging van die ANC om sy magsug te verbloem en is boonop, volgens die VF+, juridies en grondwetlik verkeerd.
Die VF+ sê in ’n verklaring die ANC het reeds by herhaling gewys hy is te onbevoeg en korrup om vertrou te word met ’n projek van hierdie omvang. “Provinsies soos die Wes-Kaap asook private instansies moet betrek word by die landwye inentingsprogram sodat mense wat die entstof wil ontvang, nie onnodig daarvoor hoef te wag nie.”
Hierdie wantroue in provinsies is ‘n verdoemende erkenning van die ANC dat provinsies waar hy in beheer is, onbevoeg is. @MulderCorn https://t.co/pijIZnin4U
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) January 21, 2021
Volgens Mkhize sou dit ook logisties onmoontlik vir provinsies wees om self die inenting te behartig.
“Hierdie wantroue in provinsies is ’n verdoemende erkenning van die ANC dat provinsies waar hy in beheer is, onbevoeg is,” sê die VF+ in hulle verklaring.
Hulle sê provinsies wat wel daartoe in staat is, moet sonder meer toegelaat word om self met die program te begin.
Die VF+ sê hulle sou in so ’n geval die Wes-Kaapse regering versoek om sonder meer die entstof in te voer sodat mense hul reg kan uitoefen om dit te ontvang sou hulle dit verkies.
“Met die aankondiging van die hulppakket van meer as R500 miljard verlede jaar het pres Cyril Ramaphosa self die versekering gegee dat daar nie bedrog en korrupsie sou plaasvind nie.”
Die party se woordvoerder oor gesondheid, Corné Mulder, sê dit is algemeen bekend dat bedrog en korrupsie op ’n reuseskaal plaasgevind het. Daarom sal geen versekering van die regering dat dit nie weer sal gebeur nie, enige gewig dra nie.
“Die enigste wyse om misdaad rondom die program sover moontlik uit te skakel, sal wees om die proses te desentraliseer en om die private sektor betrokke te kry,” het Mulder gesê.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het in ’n verklaring gesê president Ramaphosa se versekering dat die regering reeds die afgelope ses maande besig is om vir die nodige entstowwe te onderhandel, is vermoedelik vinnig besig om ontmasker te word as ’n leuen wat daarop gemik is om skadebeheer toe te pas.
It is clear that President Ramaphosa has now embarked on a desperate mission to soften this narrative in order to exonerate his government of its biggest and deadliest failure of the entire Covid crisis. #VaccineNow
— Democratic Alliance (@Our_DA) January 20, 2021
Steenhuisen sê in sy eerste nuusbrief van die jaar onder ’n DA bewind sou daar reeds ver gevorder gewees het met die verspreiding van die entstof. Hy verwys onder meer na mediaberigte oor ’n uitgelekte telefoongesprek tussen senior werknemers van die farmaseutiese maatskappy Pfizer en gesondheidsamptenare van die regering wat daarop dui dat die maatskappy vermoedelik reeds maande lank sonder enige sukses met die regering oor die entstof onderhandel.
Gesondheidskenners in Indië het die wêreld intussen aangemoedig om uit hulle uitrol van die entstof te leer. Indië het ’n bevolking van meer as 1,3 miljard mense en hoop om teen Julie 300 miljoen mense in te ent. Die land het die tweede grootste infeksiesyfer in die wêreld met meer as 10 miljoen mense wat tot dusver positief vir die virus getoets het. Indië het verlede week begin om die entstof te versprei. Volgens berigte beplan Indië om miljoene dosisse binne die volgende paar dae regoor die wêreld te versprei. Die sekretaris-generaal van die Organized Medicine Academic Guild, dr Ishwar Gilada, het volgens die SAUK gesê ander lande kan uit Indië se vordering en ook sy foute leer.