Makhosi betree die verlate landskap van inheemse tale

  • 0

Makhosi Khoza (Foto: YouTube)

’n Gewilde aantreklike vuurvreterpolitikus laat weet dat sy die politiek verlaat om tot die afgeskeepte kultuurwêreld toe te tree.

Skokgolwe spoel deur die land. Hoe kan Makhosi Khoza se uitdagende stem op politieke verhoë stom word? Die ganse land, van watter politieke oortuiging ook al, luister as sy haar vinger (met ’n palet van naelkleure) lig en namens Jan en San Elkemens om beregtiging pleit.

Inderdaad só uitgesproke en onpartydig dat haar party, die heersende ANC, haar weens disrespek getug het. Sy stig toe ’n nuwe party en verlaat dit nou weer na klagte van disrespek.

Makhosi, soos sy graag genoem word, gaan haar nou beywer vir die ontwikkeling van die inheemse tale.

Taal is allermins ’n brandende vraagstuk in ’n land wat tans met brandende protesoptogte geteister word. Sou dit genoeg uitdagings vir ’n energieke aktivis wees?

Makhosi dink so.

Suid-Afrika het 11 amptelike tale (daar word geraam dat sowat 30 tale elke dag in Suid-Afrika gehoor word). Die Grondwet bepaal dat elke taal gelyke beregtiging moet geniet, en by wyse van redelikheid behoort elke provinsie die drie oorheersende tale te erken.

In die praktyk het Engels deur ’n proses van gemaklikheid, moontlik minagting, wel ongevoeligheid van die ander tale, die (oor)heersende taal geword. ’n Ironiese toeval: ondanks die amptelike afkeer van die koloniale verlede oorheers hierdie enkele koloniale taal wel op feitlike elke gebied.

Onder die tien inheemse tale oorheers Afrikaans die taalsfeer. Markkragte, ’n goeie skeut politieke optredes en die wegkalwe van Afrikaans as tersiêre, wetenskaps- en navorsingstaal voorspel egter die agteruitgang of selfs vinnige dood van die taal. ’n Driftige teenstand vanuit Afrikaanssprekende geledere word dikwels as “verkramp” of uiters chauvinisties beskou. Tog bly die besef dat ’n merkwaardige ontwikkeling in taalgebruik verlore sal gaan indien Afrikaans die onderspit as onderrigtaal sou delf. Duidelik het die stem van “Kaaps-Afrikaans” ’n nuwe dinamiek aan die gebruik en moontlike toekoms van Afrikaans gebring.

Floue lippediens word wel van tyd tot tyd gehoor oor die miskenning van die ander inheemse tale. Afrikaans gedy, ondanks die sterwensgeluide, steeds in die teater, die filmbedryf en ook in publikasies. Die swart inheemse tale het wel radiostasies en soms televisiedekking. Toenemend word sg swart teater ontwikkel, selde in ’n inheemse taal, maar die “swart” uitdrukking getuig van ’n dinamiese kultuur van vertelling en ook vertolking.

Ongetwyfeld weerspieël die opkoms van “swart” teater ook die inheemse aard van ons Suid-Afrikaanse taalrykdom. Op ’n onverwagte manier het die protesopkomste wat in die afgelope jare die politiek kenmerk, ook getuig van die Afrika-sangtradisie. Anders as met buitelandse protesoptogte voer Suid-Afrika die optogte met verhalende sang en danspassies uit. In sigself is hierdie straatteater opruiend maar aanskoulik. Toeskouers sal onwillekeurig herinner word aan die roemryke tradisie van oorlog, en veral die Sjaka-oorloë, in die strydlustigheid wat met die sing en dans van die massas in die optogte gepaard gaan.

Sulke optogte wakker die besef aan dat daar ’n “wêreld” midde die alledaagse Suid-Afrika is.

Wel het die digter, skrywer en joernalis Antjie Krog, wat onlangs De Gouden Ganzeveer in Nederland ontvang het, ’n merkwaardige Afrikaanse vertaling van gedigte uit elk van die ander nege inheemse tale gepubliseer. Hierby ook die reeds gestorwe Santaal /Xam.      

Die publikasie Met woorde soos met kerse gee iets weer van die rykgeskakeerde inheemse taalrykheid. Amper soos Noorse sagas is die ongesiene wêreld beskryf, diere-, jag-, veldverhale, asook natuurverskynsels; ryke en selfs eeue oue stof word in die pragtige ritmiese klanke van die Afrikatale deur al die inheemse tale oorvertel. In die afgelope dekades word hierdie (veral) gedigte gepubliseer. Die orale tradisie leef deesdae hoofsaaklik in kleiner teaters, maar ook wel in die plattelandse gehuggies, waar die bejaardes vir die klein kindertjies ou stories oorvertel.

Dat iemand soos Makhosi Khoza haar vir die ontwikkeling van die inheemse tale gaan beywer, skep wel ’n blymoedige beroering in besorgde taalgemeenskappe. Bloot haar dinamiese stem en selfs glamorous voorkoms kan wel die reeds geboë skouers van moeë taalbepleiters oplig.

Stellig sal sy aktivisties raak oor moedertaalonderrig. Afgesien van die navorsing wat toon dat moedertaalonderrig vir minstens die eerste ses jaar verdere studie vergemaklik, word die inheemse tale slegs in enkele skole, hoofsaaklik in klein gehuggies, nog gebruik, en in afnemende getalle in sg Afrikaanse skole.

 Afrikaans as voertaal in die Universiteit Stellenbosch buig die knie voor Engels as onderrigtaal en slegs kopknik-erkenning word aan bv Xhosa (die derde taal van die streek) gegee. Die Universiteit van KwaZulu-Natal het wel Zoeloe as onderrigtaal begin, maar natuurlik by gebrek aan vakkundige werk in Zoeloe is dit ’n opdraandestryd.

Heel onlangs het die pro-Afrikaner-burgerregte-organisasie Solidariteit besluit om Afrikaanstalige skole te stig daar waar die taal dalk uitgefaseer word deur die oorheersende versoek om Engels as onderrigtaal te kry.

Hierdie voorneme van Solidariteit het die verwagte kritiek uitgelok, soos dat die benoude krete om Afrikaans te “bewaar” van nasionalisme getuig.

Afrikaans het wel sy merkwaardige ontwikkeling te danke gehad aan onder andere nasionalisties-politieke hupstote vir wit Afrikaanssprekendes. Sal Solidariteit juis daarom sy hand uitsteek na die inheemse tale?

Of hoe sal die Afrikaanse gemeenskap Makhosi in haar nuwe stryd help?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top