Die leier van die EFF, Julius Malema, en sy party wat hoog opgee dat korrupsie uitgeroei moet word en diegene wat daarvoor verantwoordelik is tronk toe moet gaan, het hulself nou tot vyand nommer een verklaar van ’n groot deel Suid-Afrikaners met uiteenlopende oortuigings. Malema en sy party het hulself die gramskap van die ANC, die SAKP, DA, sowel as die media en algemene balieraad op die hals gehaal met onlangse uitlatings.

Pravin Gordhan
Foto: YouTube
Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het Maandag strafregtelike aanklagte by die polisie ingedien teen Malema. Gordhan, vergesel van sy regsverteenwoordiger, Tebogo Malatjie, het die aanklagte by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria ingedien. Die drie aanklagte is crimen injuria, laster en aanhitsing tot geweld.
Groves are off. pic.twitter.com/rfQzCQcm3N
— Man's Not Barry Roux (@AdvBarryRoux) November 26, 2018
Dit volg nadat Malema Gordon van korrupsie beskuldig het terwyl Gordhan voor die Zondo-kommissie oor staatskaping getuig het. Malema beskuldig Gordhan van dubbele standaarde rakende sy dogter en het ’n verwoede aanval op hom geloods terwyl Gordon verlede week besig was om voor die Zondo-kommissie te getuig. Hy het volgens berigte die minister onder andere as “korrup” afgemaak en hom as ’n “hond” van wit monopolie-kapitaal uitgekryt en beweer Gordon haat swartes.
Hy het ook die algemene balieraad van Suid-Afrika vies gemaak toe hy ’n lid van die Zondo-ondersoekspan ’n “bastard” genoem het.
Die SAKP het die afgelope naweek sy stem by diegene gevoeg wat hul mes in het vir Malema. Die party het Sondag gesê die prosesse rondom die Zondo-kommissie ontbloot die EFF se ware aard.
“Die SAKP sluit aan by die groot meerderheid Suid-Afrikaners in die veroordeling van die uiters veragtelike rassistiese en chauvinistiese manier waarop die EFF sy desperate poging uitgevoer het om ons demokrasie te ondermyn om sy eie aktiwiteite toe te smeer,” het die SAKP in ’n verklaring gesê.
’n Groter kopseer vir Malema en sy party is egter die ondersoek wat deur Daily Maverick se ondersoekspan Scorpio gedoen is. Die eenheid vir ondersoekende joernalistiek betrek Malema en sy party in ’n ondersoek direk by die VBS-bankskandaal.
Malema het die joernalis van Daily Maverick Pauli Van Wyk, wat deel was van die koerant se ondersoek na die EFF se bedrywighede, gruwelik beledig en haar blykbaar onder meer “satan” genoem.
Volgens Scorpio se ondersoek het Malema persoonlik baat gevind by die VBS-skandaal. Malema het glo vir jare in ’n eiendom gewoon wat befonds is deur geld wat via VBS na die eiendom gekanaliseer is en wat tans as ’n EFF-bate geregistreer is.
Meer as R1,8 miljoen van die onregmatige VBS-geld is na bewering gebruik om die EFF te finansier. ’n Maatskappy wat amptelik aan die EFF se tweede in bevel, Floyd Shivambu, se broer behoort, het glo bedenklike betalings gemaak aan die EFF en van sy leiers.
Intussen het ’n ondersoek van News24 onthul dat Malema se beskuldigings teen die dogter van Gordhan ook vals is. Die EFF het beweer Gordhan se dogter was by onreëlmatige kontrakte betrokke wat glo deur die nasionale tesourie en ander regeringsdepartemente aan sy oudste dogter toegeken is weens haar pa se posisie in die regering. News24 berig dat die bewerings vals is.
Malema het Maandag teruggekap en sê op Twitter hy gaan nou self aanklagte indien by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria teen Gordhan. Malema sê dit sluit aanklagte in van onder meer bedrog, geldwassery, afpersing, meineed, en die oortreding van Intelligensiewetgewing.
EFF To Open A Case Of Corruption Against Pravin Gordhan pic.twitter.com/DiIxi4pEYC
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) November 26, 2018
Opening a criminal case against Pravin Gordhan tomorrow 27 November 2018, 11 am at Brooklyn Police Station.
Charges will include money laundering, corruption, racketeering, fraud, contravention of Intelligence Act and, Prevention & Combating of Corrupt Activities Act & perjury.— Julius Sello Malema (@Julius_S_Malema) November 26, 2018
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) gaan ook stappe doen na Malema en ander lede van die EFF se aanvalle op lede van die media. Sanef het die naweek op sy raadsvergadering besluit om dringend met die leierskap van die EFF te vergader.
Politieke ontleders meen die media het die EFF te lank met handskoene hanteer en toegelaat dat die EFF hulle aan die neus rondlei met hul sensasionele optredes en populistiese uitsprake.
Buro: NB