Malema en Mandela noem wittes rassiste en gronddiewe

  • 0

Die EFF en hulle leier Julius Malema skaar hulle vierkantig agter die omstrede uitsprake van oudpresident Nelson Mandela se dogter waarin sy op Twitter uitgevaar het teen wit Suid-Afrikaners.

Sy het op haar Twitterprofiel na wit Suid-Afrikaners verwys as gronddiewe en apartheidsapologete wat weier om te loop.

Zindzi Mandela, wat tans Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke is, kon glo nog nie deur die Departement van Internasionale Betrekkinge in die hande gekry word om vas te stel of dit inderdaad sy self was wat die gewraakte boodskappe op Twitter geplaas het nie.

Zindzi Mandela (Foto: YouTube)

Van die boodskappe wat later verwyder is, lui onder meer dat wit mense ’n fout maak om vas te klou aan “fantasieë van goeie inboorling” (“good native”) en dat swart Suid-Afrikaners hulle grond moet terugvat.

Die EFF het in reaksie op die omstrede twiets gesê hulle skaar hulle ten volle agter die gewraakte uitlatings. Die EFF sê in hulle verklaring Mandela is heeltemal korrek in haar standpunt dat swart mense hulle grond moet terugkry van wit gronddiewe en rassiste.

Die EFF sê hulle verwerp die “rassistiese” AfriForum se eis dat sy uit haar pos verwyder word. Die party sê sy moet beskerm word teen die rassistiese aanslag op haar.

 

Die leier van die Vryheidsfront Plus (VF+), Pieter Groenewald, het in sy reaksie gesê die rassistiese en verdelende uitsprake van Zindzi Mandela is totaal onaanvaarbaar, veral van ’n ambassadeur, en sy party sal daarop aandring dat die regering sonder verwyl teen haar optree.

“Die ironie ontgaan me Mandela straks dat sy vanuit ’n suksesvolle Eurosentriese land ’n kwetsende aanval op wittes in haar eie land doen en hulle ‘gronddiewe en apartheidsapologete’ noem wat soos ‘genooide gaste weier om te loop’.”

Groenewald sê Mandela is boonop bereid om ’n ruim vergoeding te ontvang as ambassadeur in ’n Europese land. Hy sê sy is ’n verskoning aan alle Suid-Afrikaners verskuldig. Dit vrywaar haar nie van gevolge omdat sy die uitsprake vanuit die buiteland gemaak het nie.

“Daar is ook geen manier hoe sy dit kan regverdig deur te sê dit is in haar privaat hoedanigheid gemaak nie. Enige uitspraak van ’n hoëprofiel-regeringsamptenaar op ’n sosialemedia-platform vir die wêreld om te sien, is nie privaat nie.”

Die VF+ sê tot nou het die ANC-regering verkies om anderpad te kyk wanneer swart politici wittes aangeval en openlik rassehaat aangeblaas het.

In hierdie geval sal die regering nie net kan swyg nie, aangesien een van sy ambassadeurs betrokke is. Stilswye sal volgens die VF+ ’n luide boodskap van goedkeuring uitstuur vir hierdie soort rassistiese retoriek wat werklik skadelik is vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika, maar wat ook groot skade aanrig aan die land se beeld in die buiteland.

Groenewald sê sy party sal hierdie saak in die belang van alle vredeliewende Suid-Afrikaners nie daar laat nie. Mandela moet verantwoording doen vir haar onverantwoordelike optrede.

Die EFF sê hy gaan ook verder appelleer teen die Hooggeregshof in Johannesburg se beslissing in die lastersaak teen die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel.

Die hof het Dinsdag die party se aansoek om verlof tot appèl in die saak van die hand gewys. Die hof het bepaal dat ’n ander hof nie tot ’n ander gevolgtrekking sal kom nie en dat die R500 000 skadevergoeding wat aan Manuel betaal moet word, ’n redelike bedrag is.

Die party moet Manuel om verskoning vra. Die sekretaris-generaal van die EFF, Godrich Gardee, sê hulle is bereid om die saak tot in die Konstitusionele Hof te veg. Die hof het in Mei beslis dat die EFF se verklaring dat Manuel hom aan korrupsie en nepotisme skuldig gemaak het in die aanstelling van die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, lasterlik en onwaar is.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top