Malema sal aanhou sing en Ramaphosa hou aan swyg

  • 0

’n Uitdagende Julius Malema sê  hy het geen voornemens op te hou om die omstrede struggle-lied “Kill the boer” te sing nie en hy sal dit sing wanneer hy lus het.

Malema het Woensdag tydens ’n inligtingsesse van sy party aan joernaliste gesê hy beplan om voort te gaan om die lied te sing omdat die Hooggeregshof in 2022 beslis het dat dit nie haatspraak is nie.

President Cyril Ramaphosa het teen Woensdag nog nie gereageer op navrae of hy Malema se optrede veroordeel nie.

Volgens Malema is daar in elk geval geen lied “Kill the Boer, kill the farmer” nie. Hy sê dit is dreunsang en het dit so aan die hof verduidelik. “As jy ’n probleem daarmee het, gaan kyk na die rekords van die hof.”

Hy wou ook weet waarom die DA skielik ’n belangstelling in die lied het terwyl hulle nie by die saak wou aansluit tydens die hofsaak daaroor nie.

“Ek sal hierdie lied sing soos en wanneer ek lus het. Dit is nie my lied nie, dit is ’n struggle-lied," het hy gesê.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het intussen ’n ope brief aan Ramaphosa geskryf waarin hy ’n beroep op hom doen om hom uit te spreek teen Malema en die EFF se “radikale en gevaarlike” retoriek en hul “selfvoldane minagting van die Grondwet en die gees van eenheid en diversiteit in ons land”.

Steenhuisen sê dit is nie die eerste keer dat Malema totale anargie en burgerlike geweld aanblaas nie. “Dit is nie die eerste keer dat hy ’n burgeroorlog en moedswillige bloedvergieting vir politieke gewin vra nie, en dit sal beslis nie die laaste wees nie.”

Malema se sing van die omstrede lied het reeds internasionaal uitgekring en van regoor die wêreld reaksie uitgelok.

Daar is Woensdag selfs bespiegel dat die skielike verswakking van die rand dalk verband kan hou met die naweek se gebeure tydens die EFF se saamtrek in Johannesburg se volgepakte FNB-stadion waar die lied gesing is.

Steenhuisen sê terwyl die wêreld kyk hoe Julius Malema die weefsel van die Suid-Afrikaanse samelewing lostorring, en die Suid-Afrikaanse droom met absolute strafloosheid ongedaan maak, kruip Suid-Afrikaners nou weg van mekaar uit vrees vir hul medemens.

Hy sê dit gebeur omdat Ramaphosa weier om hom uit te spreek daarteen en diegene te veroordeel wat dit waag om te spoeg in die gesig van Nelson Mandela en die opofferings wat hy en vele ander gemaak het vir die Suid-Afrika wat ons almal so graag hul eie wil noem.

“Hoe langer Malema rasse-nasionalisme en Chavez-styl-retoriek gebruik om Suid-Afrika uitmekaar te trek, hoe meer gewalg en mismoedig sal beleggers met Suid-Afrika en die land se ekonomie raak.”

In sy brief aan Ramaphosa skryf Steenhuisen: “Meneer die President, u volgehoue ​​stilswye oor Julius Malema as hoofantagonis van die Suid-Afrikaanse droom is oorverdowend.”

Hy sê in die byna vyf jaar sedert Ramaphosa in 2019 president van die land geword het, het sy weiering om Malema se “herhaalde haatlike uitlatings” te veroordeel die land gewys watter soort man Ramaphosa is, en inderdaad watter soort president hy is: een wat oënskynlik rasseverdeling en haat goedpraat, en wie se ampseed min tot niks nie beteken wanneer die bloed van onskuldige burgers op bevel van een man en sy rooi kultus vergiet word.

Steenhuisen sê dit is onbegryplik dat Ramaphosa nog nooit vir Julius Malema aangevat het oor sy aanhitsing van totale anargie en die massaslagting van lede van die samelewing nie.

“In baie gevalle het Julius Malema die einste mense geteiken wat ons lande ploeg, ons voedsel verbou en ons nasie voed – die einste mense wat ons aan die lewe hou. Jou versuim om Julius Malema te veroordeel is ’n aanklag teen jou verantwoordelikheid en jou vermoë om die grondslae van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat jy help smee het, en waaraan jy jou onwrikbare trou beloof het, te handhaaf. Hierdie mislukking is die uiteindelike skending van die plegtige bevestigings wat in jou ampseed ingesluit is.”

Steenhuisen se volledig brief aan Ramaphosa kan hier gelees word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top