Die EFF-leier, Julius Malema, se sing van die omstrede struggle-lied “Kill the boer, kill the farmer” tydens sy party se 10de herdenking die afgelope naweek in Johannesburg het internasionale aandag getrek.
President Cyril Ramaphosa is gevra om hom daaroor uit te laat.
Die tegnologiemiljardêr Elon Musk het getwiet die EFF beywer hulle openlik vir volksmoord op wit mense in Suid-Afrika en wil weet waarom Ramaphosa so stil is daaroor.
Die DA het klagtes daaroor by die VN se Menseregteraad ingedien teen beide Julius Malema en die ANC-regering.
Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, sê die tyd het aangebreek dat daar opgetree word teen Malema oor sy opruiende uitsprake. Die VF Plus het opnuut ’n klag hieroor by die polisie en die Menseregtekommissie (MRK) ingedien
Malema is ook skerp deur die burgerregteorganisasies ActionSA en AfriForum gekritiseer.
Die Gelykheidshof in Johannesburg het in Augustus verlede jaar beslis dat die lied nie haatspraak of aanhitsing is nie nadat AfriForum die saak hof toe geneem het. Hulle het egter appèl aangeteken teen die uitspraak en wag nog op ’n uitspraak.
Ian Cameron van ActionSA het op sosiale media gesê Malema se sing van “Kill the Boer” is lafhartig, om die minste te sê. “Hy sal dit nooit waag as hy alleen is nie; hy het ’n skare volgelinge nodig. Die EFF is ’n party wat gebou is op leuens, diefstal en haat. Die kos wat hy eet voordat hy die liedjie sing, kom van die einste boer wat hy wil doodmaak,” het Cameron getwiet.
Julius Malema’s singing of ‘Kill the Boer’ is cowardly to say the least, he would never dare do it when alone, he needs a crowd of minions. The EFF is a party built on lies, thieving and hate. The food he eats before singing the song comes from the very farmer he wants to kill.
— Ian Cameron (@IanCameron23) July 31, 2023
Elon Musk, die eienaar en uitvoerende hoof van X, voorheen bekend as Twitter, het Malema Maandagaand in ’n kort maar hewige heen-en-weer op die sosialemediaplatform veroordeel omdat hy “Kill the Boer” die naweek by die FNB-stadion in Johannesburg gesing het. Hy beskuldig Malema daarvan dat hy volksmoord op wit mense aanhits.
Die DA-leier, John Steenhuisen, sê in sy verklaring Malema is ’n man wat vasbeslote is om die burgeroorlog wat die land in 1994 afgeweer het, te laat opvlam.
Julius Malema koester 'n besondere haat jeens ons boere. Die DA, aan die ander kant, het groot respek en bewondering vir die boerderygemeenskap en sal alles in ons vermoë doen om Malema se haat en opstokery te stop.#StopTheEFF #StopMalema pic.twitter.com/WPTDOjSSeG
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 31, 2023
Steenhuisen sê die eerste element van die DA se klag by die VN se Menseregteraad sal fokus op Malema se herhaalde aanhitsing van etniese geweld.
Die tweede element sal die ANC-regering voor die VN aankla oor sy jare lange versuim om op te tree teen hul toenmalige protégé, selfs al neem wrede plaasmoorde steeds toe in die nasleep van Malema se demagogie, het die DA-leier gesê.
“Vir meer as ’n dekade het die Suid-Afrikaanse staat heeltemal versuim om toepaslike interne middels te gebruik om Malema te stuit.”
Die klag sal gelê word in terme van Malema se skending van minstens drie kern-VN-handveste.
Die eerste is die konvensie wat handel oor die voorkoming en straf van die misdaad van volksmoord.
Artikel 3 van die konvensie maak dit ’n strafbare oortreding om mense op grond van hul identiteit in die openbaar aan te spoor om massamoord te pleeg.
Die tweede is die verklaring oor die regte van persone wat tot nasionale of etniese, godsdienstige en taalkundige minderhede behoort.
Hierdie verklaring verplig die Suid-Afrikaanse regering om te verseker dat persone wat tot minderheidsgroepe behoort, hul regte kan uitoefen – insluitend, in hierdie geval, die reg op lewe en om die beroep van boerdery te beoefen – sonder enige diskriminasie.
Die derde is artikel 27 van die internasionale verdrag oor burgerlike en politieke regte.
Die DA sê hulle het onlangs die Suid-Afrikaanse regering gedwing om sy internasionale verantwoordelikheid na te kom om te voldoen aan lasbriewe wat deur die Internasionale Strafhof uitgereik is en sal nou dieselfde doen om dit te dwing om teen Malema op te tree.
Groenewald van die VF Plus wou in sy verklaring weet waarom die MRK huiwerig is om teen Malema op te tree, aangesien dié liggaam in die verlede al kragdadig opgetree het teen ander persone wat hulle aan haatspraak skuldig gemaak het.
Groenewald sê daar bestaan by die VF Plus geen twyfel dat opruiende uitsprake en liedere mense aanhits tot geweld en moord nie. Hy sê daar kan ook geen twyfel wees dat die “boer” waarna in die lied verwys word, op wittes gemik is nie.
Die EFF het die kritiek teen die party se leier afgemaak en sê die DA kan hel toe vlieg met sy optrede teen Malema. Sinawo Tambo, nasionale EFF-woordvoerder, het gesê die Gelykheidshof het reeds beslis dat die lied nie haatspraak is nie.
Malema het ook op Musk se twiet reageer en getwiet: "O bolela masepa” (Jy praat k*k).
Dit was na aanleiding van ’n twiet deur Benny Johnson, ’n Amerikaanse konserwatiewe politieke kommentator en YouTuber.
Shocking video shows South Africa’s black party singing “kill the Boer (Whites), kill the White farmer”
This is all downstream from the rotten secular religion of wokeness and CRT plaguing America today.
You have been warned.
WATCH.
— Benny Johnson (@bennyjohnson) July 31, 2023