Die vuurvreter politikus Julius Malema se onlangse uitsprake “klink” na haatspraak maar kwalifiseer nie as haatspraak nie.
Julius Malema (Foto: YouTube)
So het die Menseregtekommissie (MRK) bevind na verskeie uitsprake van die EFF-leier sedert 2016. Die MRK se uitspraak het uiteenlopende reaksies ontlok onder Suid-Afrikaners en politieke partye.
Die Vryheidsfront Plus het die MRK daarvan beskuldig dat hy sy geloofwaardigheid met die Malema-uitsprake verloor.
MRK verloor geloofwaardigheid met bevinding oor Malema-uitsprake https://t.co/4lTjzQzz1n#SlaanTerugSA #2019NouOfNooit #DaarIsHoop@AntonAlberts
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) March 27, 2019
Die EFF het die MRK se uitspraak verwelkom en sê diegene wat die klagtes teen Malema gelê het wou billike kritiek onderdruk. Die party sê in ’n verklaring hulle maak geen verskoning om robuus te wees en dinge by die naam te noem nie.
EFF Welcomes The SAHRC Findings On Hate Speech pic.twitter.com/IdLLAxTk5W
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) March 27, 2019
Die VF Plus hou vol dat baie van Malema se uitsprake wel op haatspraak neerkom en sê hulle is teleurgesteld oor die bevinding in Malema se guns. Die VF Plus se leier, dr Pieter Groenewald, sê sy party sal die uitspraak van die MRK behoorlik bestudeer en dan besluit of die MRK se bevinding op appèl geneem moet word al dan nie.
“Die MRK is oor jare al besig deur, met selektiewe optrede en besluitneming oor haatspraak, sy eie geloofwaardigheid te ondermyn. Wanneer mense soos Malema of Andile Mngxitama, leier van die BLF, onaanvaarbare uitsprake maak, sal die MRK oënskynlik eers optree na groot druk van die publiek en ’n party soos die VF Plus wat ’n amptelike klagte indien. In ander gevalle weer, soos by die Laerskool Schweizer Reneke, sal die MRK met groot haas en uit sy eie optree en betrokke raak by ’n voorval,” het Groenewald gesê.
Die Menseregtekommissie het bevind dat Malema se opmerkings oor ander rassegroepe aanstootlik is, maar dat dit nie regtens kwalifiseer as haatspraak nie. Die voorsitter van die MRK, Bongani Majola, het die bevinding in Johannesburg bekend gemaak. Die MRK sê uitsprake oor ras bly verdelend en is ’n gevoelige kwessie. Die MRK het verskeie klagtes oor haatspraak gekonsolideer wat tussen 2016 en 2018 teen Malema en lede van sy party ingedien is.
Die DA het Malema se retoriek teenoor sekere gemeenskappe betreur en sê dit is ’n bewys van die party se populistiese aard wat teer op haat en uitsluiting. Die DA sê die EFF het duidelik geen duidelike beleid om aan die land se mense te bied nie en teer op populêre en gevaarlike retoriek.
"The EFF is not committed to building #OneSAforAll, instead, it is a party which campaigns on slandering one group over another and vilifying communities on the basis of race." - @Zwakelem #Malema https://t.co/YO0opSFRN9
— Democratic Alliance (@Our_DA) March 25, 2019
Die VF Plus-Jeug het reeds ’n aanlyn-petisie begin waar mense hul ontevredenheid kan uitspreek met die bevinding van die MRK. Die bewoording van die petisie lui: “Ek, die ondertekende, stem nie saam met die bevinding van die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRK) dat die stelling in die media deur die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Julius Malema, dat ‘ons nie vra vir die slagting van witmense nie, ten minste nie vir nou nie’ nie haatspraak is nie. Ek verklaar hiermee dat Malema se uitspraak ’n skending van my menseregte is.”
Die MRK se voorsitter, Bongani Majola, het op Twitter gesê die regsadvies wat hulle van interne sowel as senior eksterne regsgeleerdes ingewin het stem saam met hulle bevinding dat die uitsprake nie op haatspraak neerkom nie.
Video: Legal Opinion sought from an external legal counsel agreed with the internal finding that all utterances did not amount to hate speech, SAHRC Chair, Bongani Majola https://t.co/0P1qvWhlbt via @YouTube #MalemaHateSpeechFinding
— SAHRCommission (@SAHRCommission) March 27, 2019
Groenewald van die VF Plus sê egter die kwessie van ras is gevoelig en verdelend soos die MRK self erken het, en dié liggaam moet daarom verantwoordelikheid neem vir die rassistiese uitsprake, haatspraak en opsweping tot geweld van persone soos Malema en Mngxitama weens jarelange versuim om op te tree.
Hy sê bevindinge van die MRK soos hierdie sterk mense soos Malema in hul kwaad om verdere rasseverdeling te skep. “Dit is daarom kommerwekkend en betreurenswaardig dat die MRK verkies om in sommige gevalle met handskoene op te tree.”
Buro: NB