Malema vaar uit teen die groen en goud as "simbole van apartheid"

  • 0

Terwyl Suid-Afrikaners van regoor die kleurgrens en uiteenlopende politieke oortuigings hulle die afgelope weke feitlik soos een man agter die Springbokrugbyspan skaar, het die EFF-leier uitgevaar teen wat hy as apartheidsimbole bestempel het.

Malema het die afgelope naweek ’n knuppel in die hoenderhok gegooi met ’n beroep dat daar weggedoen moet word met die Springbok-embleem en die groen en goud.

“Waarom word ons gedwing om die embleem te salueer wat deur Malan gesalueer is, die embleem wat deur Botha gesalueer is, deur Verwoed, deur De Klerk, deur moordenaars wat besig was om ons mense met dieselfde trui te vermoor ter viering van die afslag van swart mense? Daardie embleem  en daardie trui verteenwoordig wit oppergesag wat ons nie ondersteun nie,” het Malema die afgelope naweek aan sy ondersteuners by die Ellis Park Arena in Johannesburg gesê waar hy hulle opkommandeer het om in volgende jaar se verkiesing vir die EFF te stem.

“Rugby is nie ’n wit sport nie. Hulle het dit hier gevind. Ons mense het rugby gespeel lank voor hierdie mense rugby gespeel het,” het Malema gesê.

“Amabokoboko, Die Bokke, Springbokke is ’n apartheidsimbool. Springbok moet val,” het hy uitgevaar teen die groen en goud.

Hy het gesê hy ondersteun nie die Springbokke nie, omdat dit kleure en ’n embleem het wat die land se pyn van die apartheidsera verteenwoordig en weerspieël.

“Ons wil die kleure hê wat demokrasie verteenwoordig,” het hy gesê.

Die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) het op die sosialemediaplatform X gesê Malema is jaloers. Outa sê duisende mense regoor die land het spontaan bymekaargekom om die Springbokke te sien en geen busse of KFC of T-hemde was nodig om hulle te oortuig nie. “Net passie en doelgerigtheid, iets positiefs om agter te verenig en op trots te wees. Ons is inderdaad #SterkerSaam,” het Outa op X gesê.

Malema se uitlatings is in skrille kontras met die samehorigheidsgevoel wat daar na die Springbokke se Wêreldbekeroorwinning onder die meeste Suid-Afrikaners heers.

“Julius Malema het gister by die EFF-saamtrek gepraat en dreigemente gemaak. Maar sy energie was op. Hy was gehawend. Narsisties uitgeput. Die narratief raak meer buitensporig, herhalend namate hy sukkel om helderheid te behou, te fokus en narsistiese bekragtiging te kry. Malema is klaar. Totaal verslaan. Wat ’n hartseer gesig!” het een van die deelnemers aan die gesprek die afgelope naweek op X gesê.

Dit is ook lynreg teen die versoenende gees van eenheid wat deur die Springbokkaptein, Siya Kolisi, uitgestraal is tydens hulle segetog deur verskeie stede sedert die Bokke terug is in Suid-Afrika.

Kolisi het namens die nasionale span sy opregte dankbaarheid teenoor Suid-Afrika se passievolle rugbyondersteuners uitgespreek nadat hulle hul vierdaagse trofeetoer afgesluit het, en gesê hulle het die laaste paar dae ’n “verenigde nasie” aanskou.

“As ’n Springbokspan wou ons Suid-Afrikaanse mense hoop gee, maar diegene wat ons terug verwelkom het by OR Tambo Internasionale Lughawe vanaf Frankryk, en al langs die trofeetoerroetes en by lughawens, het ons hoop gegee en geïnspireer om aan te hou wys dat, ongeag jou opvoeding, ras, godsdiens en agtergrond, jy enigiets kan bereik,” het Kolisi gesê.

“Ons het voor die Wêreldrugbybeker-eindstryd teen Nieu-Seeland gesê dat ons vir die 60 miljoen plus mense in Suid-Afrika speel, en die ondersteuning wat ons die laaste paar dae eerstehands op die trofeetoer gesien het, was asemrowend.

“Dit was spesiaal om die tonele te sien toe ons ná die 2019-Wêreldbekertoernooi by die huis aangekom het, maar hierdie verwelkoming was iets anders.

“Ons het gesê ons wil die nasie help bou deur rugby. Met tienduisende mense van alle vlakke van die samelewing in al vier provinsies waardeur die bus beweeg het en ons aangemoedig het, het ons ’n verenigde nasie gesien, en ons hoop ons kan voortgaan om dit ook in die samelewing te sien.”

Kolisi het gesê die Springbokke sal dalk eers volgende jaar weer na die veld terugkeer, maar wat hulle die laaste paar dae waargeneem het, sal hulle as ’n span bly dryf.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top