Malema wil EFF-burgemeester in Tswane hê

  • 0

Die EFF het sy oog op die burgemeesterskap van Pretoria in ruil vir verdere samewerking met die DA om Tswane en Johannesburg tot die volgende munisipale verkiesing in ’n koalisie te regeer. 

Die EFF-leier, Julius Malema het Donderdag tydens ’n nuuskonferensie gesê sy party is in gesprek met die DA om ’n formele ooreenkoms te beklink vir voortgesette samewerking tussen die twee partye in Johannesburg en Tswane.

Die DA het die ANC met behulp van die EFF tydens die vorige munisipale verkiesing uit die kussings gelig in Tswane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai.  Die samewerking tussen die DA en sommige van sy koalisievennote in Nelson Mandelabaai, onder andere die EFF, het egter versuur. Die DA se burgemeester in dié metro, Athol Trollip, het sy pos as burgemeester as gevolg daarvan verloor.

Dit is wyd bekend dat daar voor vanjaar se algemene verkiesing reeds voelers tussen die DA en EFF uitgesteek is oor koalisiemoontlikhede indien die ANC minder as 50% van die stemme in Gauteng sou kry. Daar is toe reeds bespiegel dat die EFF sou aandring op die burgemeesterspos in Tswane in ruil vir hulle samewerking om die beheer in Gauteng oor te neem. Die ANC het egter daarin geslaag om die beheer in Gauteng met ’n skrale volstrekte meerderheid te behou wat die DA en EFF se koalisieplanne op provinsiale vlak in Gauteng in die wiele gery het.

In die munisipaliteite van Tswane en Johannesburg wat albei DA-burgemeesters het, regeer die DA-koalisie slegs op die genade van die EFF wat saam met hulle koalisieregerings in die twee metro’s vorm.

Met die algemene verkiesing nou agter die rug, is al die politieke partye se oog reeds gevestig op die volgende munisipale verkiesing wat in 2021 plaasvind.

Malema se party wat nou die amptelike opposisie in drie van die land se provinsies is, was behalwe die VF+  en IVP, die enigste van die groter partye wat beter gevaar het in die afgelope verkiesing. Hy het tydens Donderdag se nuuskonferensie gespog dat die EFF die gelukkigste party in die land is omdat hulle in elke provinsie gegroei het.

Malema het ook 'n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om 'n kleiner kabinet saam te stel. Dié oproep is reeds uit verskeie oorde op die president gedoen. Malema het gedreig dat die EFF die lewe vir Ramaphosa moeilik sal maak in die parlement indien hy nié die kabinet verklein nie. Hy sê tydens ’n gespek wat hy voor die verkiesing met Ramaphosa gehad het, het hy dit duidelik gemaak die land het nie adjunkministers nodig nie. “Laat die president die land in sy vertroue neem waarom adjunkministers nodig is, want daardie mens doen niks, behalwe om administratiewe toesig te hou.”

Malema se planne vir Tswane en Johannesburg in die aanloop tot 2021 se munisipale verkiesing is dat sy party Tswane se burgermeestersamp beklee en die DA se burgemeester, Herman Mashaba, aanbly as burgemeester van Johannesburg.

“Ek is huiwerig om die burgemeester van Johannesburg uit sy pos te help verwyder. Die ANC haat Mashaba en ek is baie gelukkig ... enige iemand wat die ANC traumatiseer is my held,” het hy gesê.

Wat Tswane betref het hy gesê die huidige burgemeester Stevens Mokgalapa moes voorsien het dat hy het net tydelik in die pos was tot na die algemene verkiesing. Hy sê die EFF wil nie graag ’n mosie van wantroue teen Mokgalapa instel om hom uit sy pos te verwyder nie. Hy wil graag hê dat die oorname van die burgemeersterspos nie op ’n chaotiese wyse geskied nie.

“Ons is besig met samesprekings en sien geen vyandigheid in die moontlikheid van magsdeling nie. Ons sal ’n burgemeester in Tswane hê en die DA sal ’n burgemeester in Johannesburg hê. Die DA sal lede op die uitvoerende komitee in Tswane hê en die EFF sal lede op die uitvoerende komitee in Johannesburg hê. Dit is magsdeling,” het Malema gesê.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top