Maskers wil ons dra, maar is dit wat korona vra?

  • 0

Die dra van gesigsmaskers tydens die koronapandemie het die volk behoorlik aan die gis. Verskeie studies oor die voor- en nadele van maskers om jouself en ander teen die virus te beskerm het Jan Alleman totaal in die war.

Boonop is fopnuus oor die dra van maskers aan die orde van die dag. Daar word die afgelope week op verskeie sosialemediaplatforms beweer sekere kettingwinkels laat nie meer klante in die winkels toe tensy hulle maskers dra nie. Daarteenoor het die winkelgroep Woolworths yslike kennisgewings voor sy winkels aangebring waar daar aan klante verduidelik word waarom hulle personeel nié maskers of plastiekhandskoene dra nie.

Woolworths sê op hulle webwerf hulle is teen die gebruik van maskers geadviseer. Die rede daarvoor is dat dit nie in dié stadium nodig is nie en daar geen bewys is dat dit hoegenaamd effektief is om die oordrag van die virus te verhoed nie. In ooreenstemming met internasionale praktyk dra hulle personeel ook nie handskoene nie. Die winkelgroep sê navorsing toon dat mikrobiese standaarde beter gehandhaaf word as die personeel hulle hande op die regte manier was. Mense was ook hulle hande meer gereeld as hulle nie handskoene dra nie. Die dra van plastiekhandskoene lei verder daartoe dat die hande meer sweet, wat die oordrag van kieme en virusse vergemaklik.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het intussen ook herhaal dat daar geen werklike rede is vir iemand wat nié COVID-19 onder lede het, om ’n masker te dra nie, omdat die siekte nie deur die lug versprei nie.

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte, SARGP (Engels SAHPRA) waarsku dat die wyse waarop gesigsmaskers en handskoene gedra word, geen doel dien nie. SARGP sê die beste manier om die verspreiding van die virus te voorkom, is om gereeld jou hande te was. Die medevoorsitter van SARGP, Helen Rees, sê ook mense wat handskoene dra, is minder geneig om hulle hande gereeld te was. Rees sê die beskermde drag bring gemoedsrus, maar dat die dra van handskoene ’n veiligheidsrisiko kan inhou. Die rede daarvoor is dat mense aan verskeie oppervlakke raak en nie daarna hulle hande was nie.

Die WGO sê mense wat gesond is, hoef ’n masker te dra slegs as hulle omsien na iemand wat vermoedelik COVID-19 onder lede het. Mense wat nies of hoes word ook aangeraai om ’n masker te dra. Maskers is ook net effektief as dit in kombinasie gebruik word met ander higiëniese maatreëls soos gereelde was van die hande met ’n handreinigingsmiddel met ’n alkoholbasis of  met water en seep. Diegene wat wel maskers dra, moet ook weet watter tipe masker om te dra, hoe om dit te gebruik en hoe om behoorlik daarvan ontslae te raak.

Die WGO verduidelik in ’n video op die internet wanneer mense maskers behoort te dra.

Die korrekte manier om ’n masker te dra en wanneer word ook hier op hulle webwerf verduidelik.

Mens sien al hoe meer gewone mense in winkels met maskers. Die Bhekisisa Centre for Health Journalism het verlede week berig dat mediese personeel kla oor ’n tekort aan maskers en dat hulle reeds maskers begin hergebruik. In Suid-Afrika word ook ’n al hoe groter wordende tekort aan maskers ervaar.

Netwerk24 berig dat ondanks studies wat toon dat die koronavirus in mikroskopiese aërosoldruppeltjies in die lug kan voorkom, daar nog nie genoeg getuienis is om te sê of dié virus in gewone omstandighede in byvoorbeeld ’n winkelsentrum in die lug dryf nie.

Die wetenskapjoernalis Elsabé Brits het in Vrye Weekblad geskryf: “Daar is geen manier dat ’n masker wat jy uit lap maak die virus gaan keer nie, jy kan regtig net sowel ’n panty op jou kop dra. My rede is dat die virus 0,06 mikrometer tot 0,14 mikrometer groot is en daarom regdeur lap kan gaan.”

Brits sê as jy wel op een of ander manier chirurgiese maskers in die hande gekry het, of selfs een van die skaars N95-maskers, luister dan na die raad van ’n dokter-vriendin van haar in die Oos-Kaap wat in die staatsektor werk met veral MIV/Vigs- en TB-pasiënte. “Sy het weke gelede al by my gesmeek dat joernaliste mense moet vra om maskers te los vir mediese personeel wat dit nodig het. ‘Maskers hou ons veilig. Dit is nie nodig vir die publiek om maskers te dra om veilig te wees nie. Ons kom in noue aanraking met siek mense en sonder maskers sal óns siek word, en as ons dokters begin siek word, gaan ons nog groter probleme hê.’”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top